Skip to main content

Openbaring 8:6-13

Die eerste vier trompette van die sewende seël verskerp die oordeel

Die sewe trompette van Openbaring 8 tot 11 is ‘n verskerping van God se oordeel wat uit die sewende seël voortspruit as waarskuwing vir en oproep tot ongelowiges om bekering.

Die eerste vier trompette word in Openbaring 8 beskryf en tref veral ‘n derde van die natuur en die leefwêreld van die mense. Gelowiges word uiteraard ook daardeur getref.

Die laaste drie trompette word in Openbaring 9 en aan die einde van Openbaring 11 beskryf, maar tref nie die gelowiges nie.

Die vyfde en sesde trompette tref veral die ongelowige mense met ’n oproep tot inkeer. Die laaste en sewende trompet aan die einde van Openbaring 11 word geblaas om die einde aan te kondig.

Soos daar midde-in die ontplooiing van die oordele van die sewe seëls – tussen die sesde en sewende seël – gefokus is op die verseëling en bewaring van die 144 000 diensknegte van God, sowel as die visie op die versorging in die hemel van dié wat oorwin het, só word daar op soortgelyke wyse tussen die sesde en sewende trompet gefokus op die rol en funksie van die kerk, soos gesimboliseer deur Johannes wat ‘n boekrolletjie moet eet om verder as spreekbuis van die Here op te tree (Openb. 10) en die twee getuies (Openb. 11).

Dit is ’n uiters noodsaaklike visie wat die oordeel van God in konteks plaas. Terwyl die vlakke van onderlinge boosheid toeneem in die wêreld, beide in terme van die selfvernietigingsdrang van mense en die oordele van God, bring die diensknegte van God die verlossende boodskap dat daar in Jesus Christus ’n nuwe toekoms aangebreek het.

Dit word opgevolg met die vyfde en sesde trompet. Die trompette herinner ons aan die val van Jerigo (Jos. 6) waar sewe priesters ses dae lank trompette (ramshorings) geblaas het met die trek om die stad om God se oordeel aan te kondig, waarna die oordeel op die sewende dag voltrek is en Jerigo ingeneem is.

Interessant genoeg moes die manskappe by Jerigo ook stilbly, in hulle geval 6 dae lank, tot die bevel op die laaste dag gegee is om te skreeu en die ramshorings geblaas is en die stad se muur geval het. Dit was waarskynlik om die afwagting op God se optrede te simboliseer, soos dit ook hier in Openbaring die geval is.

Let op hoe die oordele van die trompette met sommige van die tien plae (Eks. 7-12: water word bloed, paddas, muggies, steekvlieë, pes onder die vee, swere, hael, sprinkane, drie dae donker, dood van die eersgeborenes – vgl. ook Ps. 78:44-51 en 105:28-36) van Egipte verband hou, wat ’n mens laat besef dat die oordeel van die trompette deel van die verlossende “woorde” (Ps 105:27-28) van God vir sy mense is, soos die plae in Egipte toentertyd die Eksodus, die bevryding en verlossing van God se volk te weeg gebring het en hulle die tog na die Beloofde land kon aanpak. Die oordeel bring verlossing.

Teks en konteks

Die eerste trompet

Die eerste trompet se oordeel van hael, vuur en bloed tref die aarde – ’n derde van die aarde word verskroei, ’n derde van die bome en al die groen gras. Dit herinner aan die sewende plaag van hael in Egipte. Die aarde en die natuur word in chaos gedompel, soos die eerste seël die samelewing in politieke chaos gedompel het. Dit is gemik op die ekologie van die planteryk.

Die tweede trompet

Die tweede trompet se oordeel van ’n enorme vlammende berg (soos ’n meteoriet) tref die see – ’n derde van die see word bloed, ’n derde van die seediere gaan dood en ’n derde van die skepe vergaan. Dit herinner aan die eerste plaag van bloed in Egipte. Dit is gemik op die ekologie van die oseane en skeepvaart, soos die tweede seël moord en doodslag op aarde gebring het.

Die derde trompet

Die derde trompet se oordeel van ’n brandende ster, die Bitterals (alsemkruid, wormwood), tref die vars water – ’n derde van die riviere en fonteine raak bitter wat die dood van baie mense veroorsaak. Dit herinner ook aan die eerste plaag in Egipte in die sin dat die vars water aangetas word. Dit is gemik op alles wat met die klimaat te make het, soos die derde seël ekonomiese swaar tye gebring het.

Die vierde trompet

Die vierde trompet se oordeel van verduistering tref die heelal – ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre word getref wat dit donkerder in die dag en die nag gemaak het. Dit herinner aan die negende plaag van drie dae duisternis in Egipte. Dit is gemik op die kosmos, soos die vierde seël meer op chaos op aarde gefokus was.

Die omvang en ontwrigting van die eerste vier trompette word geaksentueer deur ’n arend wat hoog in die lug weeklaag oor die ellende wat met die volgende drie trompette vir die bewoners van die aarde (dié wat nie in Jesus Christus glo nie en daarom nie deur Hom beskerm word nie) wag.

Let op die arend wat uitroep dat die volgende drie trompette ontsettend swaar vir die bewoners van die aarde gaan wees. Hy noem dit drie “wee’s” (die woord kan ook met pyn, smart, of ramp of verskrikking vertaal word, in Engels “woe”).

Boodskap en betekenis

Die eerste vier trompette in Openbaring bring oordele wat die natuur en die ekologie op verskeie vlakke tref—die aarde, die see, die vars water, selfs die kosmos—en herinner aan die plae van Egipte. Hierdie rampe verteenwoordig God se oordeel oor die wêreld, met ’n geleidelike intensifisering wat chaos en verwoesting bring, soos gesien in die vorige visioen van die seëls.

Dat alles nie meteens vernietig word nie, dui op ’n ernstige waarskuwing aan die mensdom. Die trompette wys hoe God se regverdige oordeel nie net die mensdom raak nie, maar ook die skepping wat deur sonde aangetas is. Die dramatiese onderbreking deur ’n arend wat ’n drieledige “wee” oor die aarde uitroep, beklemtoon dat die volgende drie trompette nog erger en spesifiek op die ongelowiges gerig sal wees, as ’n verdere waarskuwing teen die gevolge van afvalligheid en sonde.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…