Skip to main content

Hosea 2:1-3:5

God kla Israel aan, maar belowe tog weer ‘n nuwe toekoms

Hoofstuk 2 is uiters noukeurig saamgestel en voer die boodskap van hoofstuk 1 verder.

Hosea 2:1-22 – “Ek gaan van haar rekenskap eis oor die Baäls

Met taal wat herinner aan ‘n egskeiding – “want sy is nie my vrou nie en ek is nie haar man nie”, vers 1 – word die saak wat die Here teen die volk het oor hulle afvalligheid in die eerste perikoop aangeroer (2:1-4) en fokus dit op hulle “stank vir dank” houding teenoor Hom.

Hulle vereer nie die Here vir sy versorging nie, maar eerder die Baäls (vgl 2:12 – die meervoud dui op die afgodsbeelde). Dit is die bron van die konflik tussen God en die volk, dat hulle wat HY gee, aan Baäl toeskryf.

Daarna word drie strawwe van die Here in drie opeenvolgende perikope aangekondig waarmee ons ‘n diep insig in God se regstellende aksie in die uitvoering van sy oordeel kry:

  • God dwarsboom die volk se planne in verhouding met die “minnaars” – die Baälaanbidding – in die hoop dat hulle sal raaksien dat dit beter is vir hulle in ‘n verhouding met God – 2:5-6.
  • God laat hulle ontberinge ly, veral ekonomies, om hulle tot erkenning van sy versorging te begelei – 2:7-12.
  • God isoleer hulle – uitgedruk met die metafoor van die woestyn – om die verhouding met hulle te herstel in ‘n omgewing waar daar geen kompetisie is nie (2:13-22 – Akorlaagte verwys na die Akan gebeure in Jos 7:24-26, wat nou metafories gesproke omgekeer word).

Hy wil hulle só oorhaal om nie langer ontrou te wees nie. Hy wil hê dat hulle Hom sal erken as die Gewer van alle goeie dinge, en sy liefde sal beantwoord met gehoorsaamheid. Hy wil die verbond met hulle herstel wat voorspoed op alle terreine sal bring: ekologies, polities en sosiaal (2:17). Dán sal God hulle aan Hom bind: “met reg en geregtigheid, met troue liefde en ontferming” (2:18).

Hy sal hulle lot omkeer, soos Hy reeds in Hosea 1 belowe het. Ek sal My: “ontferm oor Lo-Rugama, en vir Lo-Ammi sal Ek sê, ‘Jy is my volk,’ en hy sal sê, ‘my God.’ ” (Hos 2:22; vgl Rom 9:25))

Hosea 3:1-5 – “Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe”

God se oordeel het dus verlossing in die oog, soos dit ook in hoofstuk 3 verder uitgespel word. In ‘n nuwe opdrag aan die profeet moet hy weer ‘n liefdesverhouding gaan aanknoop – die teks is dubbelsinnig, dit kan óf ‘n ander vrou wees, óf steeds Gomer wat Hosea verlaat het (soos die meeste kommentare dit interpreteer) – en moeite doen om die verhouding met haar te vestig en bou.

Die boodskap daarvan is dat dit ook ‘n lang tyd sal duur – verwysende waarskynlik na die ballingskap – om die verhouding met Israel te herstel, ‘n tyd waarin hulle polities, kulties en geestelik-godsdienstig geïsoleerd sal moet leef, voordat hulle sal terugkeer. “Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.” (3:5).

Interessant is dat die volk ná die ballingskap nooit weer ander gode aanbid het nie. Dit leer die geskiedenis van die Jode ons. Die ballingskap het dus die problematiek van die gode, meer spesifiek die Baäls, aangespreek in die lewe van die Joodse volk, presies soos die Here dit bedoel het.

Boodskap en betekenis

‘n Mens moet uiteraard nie die metafore wat hier gebruik word te letterlik opneem nie. Wat ‘n mens wel kan aflei, is dat ontberinge en isolasie in die lewe van die volk nie net ‘n negatiewe ding was nie. In die hand van God was dit sy regstellingsaksie in hulle verhouding met Hom, trouens die aanleiding tot nuwe lewe.

Daarom is die eerste vraag wat ‘n mens moet vra wanneer jy in jou eie situasie dwarsboming ervaar, óf ontberinge ly, óf isolasie op watter manier ook al ervaar: “Waarmee is God besig in dít wat met my gebeur?”  ‘n Antwoord daarop sal jou help om uit te kom by die uitkoms wat God vir jou in moeilike omstandighede het.

God is immers altyd in alles besig om in verhouding met jou op te tree. Wat ook al met jou gebeur, selfs negatiewe goed, is iets wat uiteindelik sin maak binne ‘n verhouding met Hom. Só kan ‘n mens die genade van “Redemption in pain” beleef – soos Joni Eareckson Tada dit beskryf in A Place of Healing. Wrestling with the Mysteries of Suffering, Pain and God’s Sovereignty.

Die evangelie vra van ons om ons pyn ernstig te neem en vierkantig in die oë te staar en met brose dapperheid op God te vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…