Lukas

Hoe om die Bybelboek te lees

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.

Gebruik die volgende metode om hierdie Bybelboek deur te werk:

RUS

  • Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.

HOOR

  • Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
  • Lees my bydrae oor die gedeelte.
  • Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
  • Antwoord die Here in gebed.
  • Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.

LEEF

  • Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.
View all posts in this series

Comments (12)

  • Goeie middag Pastoor ek vra asb hulp met die verduideliking van Lukas 5:1-11 ek sal dit waardeur.

    • Hi Gerald. Ek antwoord graag:

      Daar is só baie mense wat na Jesus wil luister om die Woord van God te hoor dat Hy in Simon se skuit klim om ‘n entjie in die meer in te vaar sodat Hy ‘n groter gehoor op die wal kan toespreek.

      Dit raak dan ook die geleentheid waarby Hy vir Simon en sy twee maats, Jakobus en Johannes, as dissipels werf. Hy beveel vir Simon om na die diepwater uit te vaar en hulle nette te laat om vis te vang.

      Simon het geweet dat dit onmoontlik was. Hulle het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie, en die vis sou nie in die dag byt nie. “Maar”, sê Simon: “op u woord sal ek die nette laat sak.”

      Toe hulle dit doen, het hulle ’n groot klomp visse gevang, soveel so dat hulle nette wou skeur. Ander moes hulle kom help en hulle het twee skuite vol vis gemaak. Soveel vis dat albei skuite wou sink!

      Onthou dat die wonder van die visvangs nie net lê in die hoeveelheid vis as sodanig wat gevang is nie (vgl Joh 21:3-11 waar min of meer dieselfde gebeur), maar in die feit dat die tipe net wat hulle gebruik het, die trammelnet, eintlik uit drie lae bestaan het, vandaar die meervoud “nette”.

      Die nette is net in die nag gebruik, sodat die vis nie die drade van die nette kon sien nie. Dit is nooit in die dag gebruik nie. Werpnette (Matt 4:18) en treknette (Matt 13:47) is dan gebruik.

      Die buitenste twee nette het groot openinge gehad en die middelste kleiner 3-5 cm groot openinge. Daar was drywende vlotte bo-aan vas en gewigte onderaan. Die kuns was om met spane op die water te slaan en die vis deur die groter openinge te dryf van die buitenste nette en afwaarts sodat hulle van die onderkant van die middelste net af daarin vasgevang kon word (Laney, Fishing the Sea of Galilee).

      Dit laat ‘n diep indruk op Simon, want Hy en Jesus het al kontak gehad, en Hy besef net, hy het nie ‘n idee gehad wie Jesus regtig is nie. Vrees het hom en die ander oorval oor die wonder en Hy val dus op sy knieë voor Jesus en sê: “Gaan weg van my, omdat ek ’n sondige man is, Here.”

      Die ander het dit ook só gedoen en op Jesus se bevrydende woord: “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang,” het hulle alles gelos en Hom gevolg.

  • Goeie dag,
    Kan jy my asb help met die kort verhaal van die vrou van bloedvloeiing.
    Ook hoekom Lukas die verhaal geskryf het.
    Baie dankie.
    Adele

    • Hi Adele, ek het met die Oujaarsdiens 2014 hieroor gepreek en die volgende daar gesê:

      Twee verhale word in Lukas 8 in mekaar geweef (vgl Matt 9:18-26; Mark 5:21-43). Die een verhaal is van ‘n familie wat met siekte en uiteindelik die dood gekonfronteer word, die verhaal van Jaïrus se twaalfjarige dogtertjie. Die ander verhaal is dié van ‘n vrou, dit wil lyk asof sy sónder familie was, wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het, en al haar geld op dokters spandeer het, en net nie gesond kon raak nie.

      Dit is twee verhale van pyn.

      Daar is die alleen-vrou wat 12 jaar lank erge gesondheidsprobleme gehad het. Sy kon nie kinders hê nie, en is daagliks daaraan herinner met bloedvloeiing, om die waarheid te sê, net so lank as wat die dogtertjie gelewe het!

      Daar is ook die familie-vaste man, Jaïrus, wat moes toekyk hoe sy enigste dogter se greep op die lewe al hoe swakkerder word, aan ‘n onbekende siekte, en uiteindelik sterf.

      Die worsteling van hierdie anonieme vrou was uitmergelend. Sy moes saamleef met eensaamheid, sowel as met haar siekte, sowel as met die feit dat mense haar siekte uitgebuit het en haar sodoende ekonomies geruïneer het.

      Hoe ironies dat sy nie kinders kon hê nie, maar elke dag herinner is daaraan met erge menstruale bloeding. En sy moes die jare sien verby sleep het, een na die ander, twaalf jaar lank, sodat die hoop later al hoe flouer gebrand het, nie net aan die behoefte om kinders te hê nie, maar aan blote gesondheid, en sy al hoe verder en eensamer op moedverloor se vlakte gesit het.

      Totdat sy resloos haarself op God se sorg gewerp het en aan Jesus se kleed geraak het. Lukas vertel dus ook vir ons wat die ontmoeting met Jesus vir haar in haar krisis situasie beteken het. Let op dat sy genees word nog voordat Jesus haar raaksien. Sy hoef Hom nie te oorreed nie. Dit gebeur oombliklik.

      Toe Jesus vra wie Hom aangeraak het, val sy bewend oor Hom neer en getuig van wat met haar gebeur het: “voor die hele volk”! ‘n Helder getuienis van God se genesende hand.

      Geen wonder Jesus sê vir haar, “Gaan in vrede!” nie. Want dit is inderdaad wat met haar gebeur. Haar lewe word heel. Sy is nie net genees nie, maar kom in die regte verhouding met God self.

      Die worsteling van Jaïrus was baie meer dringend. Hy het nie die jare sien verbysleep nie. Hy het die minute getel, so vinnig het die dood vir sy kind nader gekom, totdat die boodskap gekom het, moenie die leermeester meer pla nie, sy is dood. Die tyd het ons ingehaal.

      Let op hoe dit Jesus is wat tot sy hulp kom: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net.” Jesus sien Hom raak, sien sy weifelende geloof, en sê, vertrou My. Ek sal sorg.

      En Lukas vertel vir ons hoe Jesus uiteindelik sy dogtertjie se hand neem en haar opwek uit die dood uit. “Haar ouers was oorstelp van blydskap”, sê Lukas vir ons!

      Dit is dus die eerste boodskap van dié verhaal. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou.

      Hoekom? Want dít is wat Hy kom doen het!

      Hoofstuk 8 is eintlik ‘n wonderlike prentjie van die werk wat God vir Jesus gegee het om te doen.

      Dit begin met ’n kernagtige opsomming van Jesus se bediening. Hy het oral gegaan, die land deurkruis van een stad en dorp na die ander, en oral gepreek en die koninkryk van God verkondig.
      En dan word in die res van die hoofstuk vier verhale vertel van wat God deur Jesus verder gedoen het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die opwekking van Jaïrus se dogter. Vier verhale van wonders – in die natuur, in die gees (duiweluitdrywing), in die liggaam, en selfs in die dood.

      Daar is ‘n wonderlike progressie in dié verhale. Die wonders neem toe in intensiteit, die storm, die eksorsisme, die genesing en dan die opwekking van die dogtertjie uit die dood, die klimaks.
      Daarmee suggereer Lukas natuurlik op ‘n dieper vlak dat die opwekking uit die dood ’n hoogtepunt van Jesus se bediening verteenwoordig … waarvan Sy eie opwekking die finale klimaks sal wees. Daaroor egter ‘n ander dag.

      Die boodskap is, Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Hy doen dit in die natuur. Hy doen dit in die gees. Hy doen dit in die liggaam en Hy doen dit selfs in die dood.

      Ons dink te min hieroor na. Ons bemoedig mekaar te min met hierdie hoop. Niks is by God onmoontlik nie. Dít is wat hierdie verhale vir ons van wil oortuig. Dít is die boodskap waaraan ons kan vasgryp en waarvoor ons die Here ook kan vra.

      Maar daar is ‘n tweede boodskap in hierdie verhaal wat my ‘n nog dieper betekenis het. Die belangrikste betekenis is nie in wat Jesus vir hierdie twee lydendes gedoen het nie, al was dit wonderlik, en al kan ‘n mens die Here daarvoor vra. Die belangrikste betekenis van dié gedeeltes lê in wat Jesus vir hulle gesê het.

      Vir die anonieme vrou sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

      Let op die woordjie gered. Lukas kies om nie die woord genees te gebruik soos wat Markus dit bykomend doen nie. Markus haal Jesus in 5:34 aan met dié woorde: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en bly genees van jou kwaal.”). Lukas kies egter om net die woord gered te gebruik, soos Matteus dit trouens ook doen in 9:22: “Hou moed, dogter, jou geloof het jou gered.”

      Hoekom? Want onthou, Lukas haal vir Markus hier aan in sy verwoording van hierdie verhaal. Hoekom?

      Want vir Lukas – soos vir Matteus – is die genesing deel van hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met God self. En hy wil dit beklemtoon. Lukas en Matteus plaas dus in die verwoording van die betekenis van die genesing die fokus op die redding. Die genesing is vir hulle ‘n teken van die redding. Markus doen dit natuurlik ook, maar fokus sterker op die rol wat albei speel – die genesing en die redding.

      Daarom kan die vrou in vrede gaan, want sy het in die genesende aanraking van Jesus vrede met God ontvang. Sy is deur Jesus gered. Sy kan nou in vrede met God gaan leef, selfs al het sy steeds nie ‘n familie of enigiemand anders wat na haar omsien nie, want Jesus het haar gered.

      Dit is min of meer dieselfde boodskap wat Jesus aan Jaïrus gee: “Glo net en sy sal gered word.” Die opwekking uit die dood, ‘n werklike groot wonderwerk, illustreer steeds hierdie groter werklikheid, die bevestiging van ‘n verhouding met Jesus.

      Jaïrus se lewe word daardeur vir altyd verander. Die wonder van sy ontmoeting met Jesus, van sy eie “opstanding uit die dood”, by wyse van spreke, is eintlik van groter belang as die genesing van sy dogtertjie, Talita, soos Markus vir ons vertel. Hy en sy word deur dié gebeurtenis gered, in ‘n lewende verhouding met Jesus bevestig. En dít is die werklikheid wat bly, selfs al sou hyself later ook die dood moes ervaar. Dit is ook dieselfde werklikheid wat sy dogtertjie ook sou ervaar, want sy sou die dood in elk geval ook weer later moes ervaar.

      Die genesing is dus wonderlik, maar die redding is die ding waaroor dit ten diepste gaan.
      Hoekom moes die vrou dus só lank wag? Sodat Sy in Jesus vir God kon ontmoet.

      Want dit is uiteindelik al wat belangrik is. Nie haar genesing nie, maar haar redding is wat belangrik is. En dit was ‘n getuienis aan die hele volk waardeur die werklikheid van God se genesende teenwoordigheid in Jesus bevestig is. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. En Hy red hulle.

      Hoekom moes Jaïrus en sy dogter die pyn van die dood ervaar? Sodat hulle in Jesus vir God kon ontmoet.

      Want dit is uiteindelik al wat regtig belangrik is. Selfs nie die opstanding uit die dood is so belangrik as die feit dat hulle Jesus God kan noem. Jesus wys ook met hulle verhaal dat Hy genees en dat Hy red.

      Wat sê dit vir ons?

      Wat mag ons van God vra? Wat kan ons doen met ons worsteling met siekte en die dreigende dood?

      • Ons mag kom en Jesus se kleed, by wyse van spreke, aanraak. Hy sal sorg.
      • Ons mag kom en vra dat Hy die dood sal weerhou. Alles is moontlik by Hom.
      • God doen vandag nog wonders. Ons mag daarvoor vra.

      Maar, ons moet goed hoor, dat die evangelie van Lukas se verwoording van hierdie twee verhale, die fokus op redding laat val, op die verhouding wat tot stand kom tussen ons en Hom. Dit is die grootste geskenk wat God ons gee.

      En met daardie hoop kan ons lewe.

      Ek kan nie genesing belowe nie. Ek kan wel sê:

      • Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Dit kan genesing en sy wonderwerke insluit.

      En ek moet sê:

      • Die verhouding met God is ons grootste geskenk. Dit is waar in alle gevalle en die grootste wonderwerk van almal.

    • Hi Zelda, Jesus leer ons met dié gelykenis dat as ons betroubaar is en gehoorsaam dit tot groter verantwoordelikheid in die koninkryk lei. Die omgekeerde is waar as ons onbetroubaar is en nie gehoorsaam is aan wat Hy van ons vra nie. Ons verantwoordelikheid word weggeneem.

  • Goeie Middag Chris,

    Kan jy moontlik Lukas 17:1 -2 vir my uiteen sit. Die 2 verse is so eenvoudig, tog so kragtig dat ek voel ek nog nie die volle GROOT prentjie snap nie.

    “1 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So ‘n mens kan eerder met ‘n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ‘n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.”

    Dankie, ek hoor graag van jou.

    Vriendelike Groete

    Alicha

    • Hi Alicha, Jesus moedig hier die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie. Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie. Want, Hy wil hê dat almal sal floreer. Hy wil hê dat ons almal tot ons volle potensiaal sal lewe. Daarom wil Hy hê dat ons dit vir mekaar moontlik sal maak.

      Dit is uiteraard onvermydelik dat daar dinge sal gebeur wat mense sal laat struikel. Versoekings en beproewings. Ons moet egter op geen manier daarvoor verantwoordelik wees nie, want dié wat struikel sal wel vir hulle eie oortredings gestraf word, maar dié wat vir die struikelblokke verantwoordelik is, sal in groter ellende gedompel word.

      Ons moet dus op ons hoede wees dat ons niks doen wat ander mense skade kan berokken nie.

    • Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:

      Teks en konteks
      Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
      17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
      17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
      17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
      17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
      Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
      17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
      17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
      17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
      17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
      17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
      17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.

      Boodskap en betekenis
      Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.

    • Jesus stuur twee en sewentig ander na elke stad en plek waarheen Hy beplan om te gaan
      LUKAS 10:1-11
      1En hierna het die Here twee en sewentig ander aangestel en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy van plan was om te gaan.
      2En Hy het vir hulle gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min; bid dan die Here van die oes sodat Hy arbeiders uitstuur vir sy oes.
      3Gaan; kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe.
      4Moenie ’n beursie dra nie, nie ’n reissak nie, nie sandale nie, en moet niemand op pad groet nie.
      5In watter huis julle ook al ingaan, sê eers: ‘Vrede vir hierdie huis.’
      6En as daar ’n vredeliewende persoon is, sal julle vrede op hom bly. Maar as dit nie so is nie, sal dit na julle terugkeer.
      7Bly in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle gee, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis verskuif nie.
      8En in watter stad julle ook al ingaan en hulle julle verwelkom, eet wat vir julle voorgesit word,
      9en genees die siekes in die stad en sê vir hulle: ‘Die koninkryk van God het naby julle gekom.’
      10En in watter stad julle ook al ingaan en hulle julle nie verwelkom nie, gaan uit in sy strate en sê:
      11‘Selfs die stof van julle stad wat kleef aan ons voete, vee ons af as aanklag teen julle; maar dit moet julle weet: die koninkryk van God het naby gekom.’
      Teks en konteks
      10:1 Jesus stel nou uit al sy volgelinge 72 dissipels aan – bykomend tot die Twaalf – en stuur hulle twee-twee na elke dorpie wat Hy op sy kronkelpad na Jerusalem toe wou aandoen.
      10:2 Jesus se eerste opdrag aan hulle is om te bid dat die Here van die oes arbeiders – soos hulle – sal uitstuur vir die oes, want die oes is wel groot, maar die arbeiders min.
      10:3 Hierdie sending van die dissipels gaan dus nie oor uitreik na mense in ‘n ruimte waar jy beheer het en waar jy die gang van sake kan bepaal nie. Jesus stuur hulle na ander Jode se huise toe, waar hulle afhanklik sal wees van ander se gasvryheid. Om by mense aan te kom wat hulle nie ken nie. Dit is waarom Jesus sê dat Hy hulle stuur “soos lammers tussen wolwe.” Daar is ‘n groot risiko verbonde aan die uitreik met die evangelie na ander onbekende mense, omdat hulle die boodskap en daarom baie keer die boodskapper ook kan verwerp.
      10:4-5 Jesus se eis is regtig radikaal, want hulle moet geen voorsiening vir die sending maak nie – nie ‘n beursie nie, nie (ekstra) sandale nie. Hulle mag nie eers sosiaal verkeer op pad nie, soos Jesus ook met die sending van die Twaalf beveel het (Luk 9:3). Hulle moet gefokus soek na huise wat hulle wil ontvang en daar die vrede van die Here afbid op die huis.
      10:6-8 Hulle sou uit die respons van die huismense agterkom of die vrede welkom is of nie. Die huis in watter stad ook al wat hulle gasvry ontvang, moet hulle as basis gebruik en eet en drink wat hulle aangebied word, sonder om te kyk of hulle beter akkommodasie kan kry.
      Jesus sê die arbeider is sy loon werd. Interessant genoeg haal Paulus hierdie frase aan in 1 Tim 5:18 as “Skrif” wat wys dat die evangelie van Lukas – want hy is al een wat hierdie aanhaling van Jesus gebruik, en dit kom nie in die OT voor nie – vir Paulus al gesag gedra het. Dit dui ook moontlik op ‘n vroeër datum vir die afhandeling van die evangelie van Lukas.
      10:9 Hulle bediening vanuit die huis moet genesing en die verkondiging van die koninkryk van God in Jesus Christus insluit wat op pad is.
      10:10-11 Indien ‘n stad hulle nie verwelkom nie en hulle boodskap teëstaan, moet hulle uitgaan in sy strate en die stof van die stad van hulle voete afvee as aanklag teen die mense van die stad. In die verwerping van die boodskap lê egter alreeds die sukses van hulle sending. Dit is immers wat die boodskap van die koninkryk inhou. Sommige ontvang dit met opgewondenheid en geniet die vrede wat God bring. Ander staan dit teë en verwerp die vrede wat God vir hulle wil gee.
      Boodskap en betekenis
      Sommige mense kom tot ‘n bewussyn van God in ons eie huise. Maar, hier vra die Here Jesus dat ons die beweging omdraai, dat ons nie net mense in ons eie wêreld sal innooi nie, maar sal toelaat dat ander mense ons in hulle wêreld innooi. Hy vra van ons dat ons grense na ander sal oorsteek, dat ons die veilige ruimte van ons eie huise en wêrelde sal verlaat en in ander se huise en wêrelde sal aankom.
      En dit is nie so eenvoudig nie! Dit hou die moontlikheid van verwerping in. Dit hou die moontlikheid van swaarkry in. Dit hou die moontlikheid in van betrokke raak by ander se swaarkry. Dit hou die risiko in dat jy uit beheer raak, dat ander beheer oor jou kan uitoefen, dat jy aan ander se genade uitgelewer is.
      Wat ons help om dit te doen, is dat Jesus die opdrag aan geloofsvriende, geloofsmaats, aan ‘n geloofsgemeenskap gee. Dit is ‘n sleutel deel van die opdrag. Soos die Here aanvanklik gedink het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, en gesorg het vir maats, só doen Hy dit ook in die beweging van die evangelie oor grense. Hy gee vir ons geestelike maats wat saam met ons die pad kan stap.
      Paulus skryf op ‘n punt dat ons altyd moet bid (Ef 6:18). Wat hy bedoel, is dat ons konstant in die bewussyn van God se teenwoordigheid moet lewe. Gebed is Godsbewussyn. Dit is soos asemhaling. Meesal is dit outomaties. En dan ander kere konsentreer jy bewustelik daarop. Só is gebed. Jy is die hele tyd bewus van die Here, half outomaties. En dan wanneer iets jou aandag vang – ‘n nood, ‘n vreugde, ‘n behoefte – dan praat jy met die Here daaroor, en Hy praat met jou daaroor.
      Dít is die tipe lewe wat ons moet voer, maar dit sluit ook hierdie bewustelike vra vir arbeiders vir die oes in. En nie net vir die maklike dele van die wêreld nie. Daar is mense nodig in Noord-Korea, in Irak, in Somalië, in Nigerië. En waar jy bid, is daar altyd die moontlikheid dat die Here jou daar wil gebruik, of wil hê dat jy iemand moet help om daar te kom.
      Dit is immers waarvoor ons ‘n geloofsgemeenskap is – om te luister na wat God wil hê in hierdie wêreld, en dan te gaan leef daarvoor. Dit sluit ons hele lewe in.
      Die Here wil egter nie net hê ons moet bid nie. Ons moet ook gaan. Ons is immers almal gestuurdes.
      Jesus verklaar dat wie na hulle luister, luister na Hom
      LUKAS 10:12-16
      12Ek sê vir julle dat dit vir Sodom op daardie dag draagliker sal wees as vir daardie stad.
      13Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida, want as in Tirus en Sidon die wonderwerke plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal tot inkeer gekom het en in sak en as gesit het.
      14Maar vir Tirus en Sidon sal dit draagliker wees in die oordeel as vir julle.
      15En jy, Kapernaum, sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, tot in die doderyk sal jy afdaal.
      16Hy wat na julle luister, luister na My, en hy wat julle verwerp, verwerp My; en hy wat My verwerp, verwerp die Een wat My gestuur het.”
      Teks en konteks
      10:12 Jesus wys dan hoe die teëstanders se reaksie in genadetyd aan die einde deur God self begroet sal word. Dit sal vir die mense van Sodom wat deur vuur vir hulle losbandigheid en afvalligheid gestraf is, meer draaglik wees in die finale oordeel as vir die mense van die stad wat Jesus verwerp in die gedaante van sy volgelinge.
      10:13-14 Dan spreek Jesus ‘n oordeel uit – ‘n wee (vgl Openbaring se goue bakke waarvan drie van hulle as ‘n “wee” beskryf word – oor Gorasin (naby Kapernaum) en Betsaida (dorpie van Andreas en Petrus wat ook naby Kapernaum was). Dit sal vir Tirus en Sidon draagliker wees as vir hulle in die oordeel wat kom.
      Want, as in die Fenisiese stede Tirus en Sidon dieselfde wonderwerke sou plaasgevind het as in Gorasin en Betsaida, sou hulle lankal tot inkeer gekom het en soos die stad Nineve in sak en as gesit het soos in die dae van Jona.
      10:15 Dieselfde geld Kapernaum. In ‘n toespeling op die oordeel wat Jesaja oor die koning van Babilonië, Nebukadnesar, uitgespreek het (Jes 14:13-15), word ‘n oordeel oor Kapernaum uitgespreek, omdat hulle tot die hemel verhoog is deur die Seun van God wat hulle stad sy basis gemaak het, maar weens hulle onbekeerlikheid uiteindelik in die doderyk (Hades) sal beland.
      Boodskap en betekenis
      Jesus spel hiermee baie duidelik uit dat die aanvaarding of verwerping van sy boodskap – ook deur sy boodskappers – ewige gevolge vir almal het. Hy help ons ook om te verstaan dat die oordeel van God werklik is, op pad is, en dat die kanse om tot inkeer te kom in genadetyd nie verspeel moet word nie.

Maak 'n opmerking