Skip to main content

2 Tessalonisense 1

God is regverdig en betroubaar

Paulus skryf sy tweede brief aan die Tessalonisense kort na hy terugvoer gekry het op die eerste brief. Dit is duidelik dat hy reageer op die nuus van hoe dit in die gemeente gaan. Die brief word weereens deur Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus geskrywe.

Teks en konteks

Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem (hy gebruik ‘n skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!) ten spyte van vervolging en lyding. Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes.

Hy bemoedig hulle om te volhard daarin deur na 2 eienskappe van God te verwys:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie. Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis. Let op dat vers 8 nie soseer oor twee groepe mense praat nie, maar oor een. Die tweede frase: “die wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” verduidelik die eerste frase: “die mense … wat nie vir God ken nie”. Dit dui hier op die vervolgers van die gelowiges in Tessalonika. Let ook op hoe die verdoemenis geteken word as: “altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here” (vers 9). Calvyn het gepraat van ’n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net die ongehoorsames sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar is om te deel in die verheerliking. Let op dat God verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof én dat hulle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Paulus brei nie uit oor die hoop in hierdie eerste verse nie (soos hy bv. in sy eerste brief gedoen het saam met die fokus op hulle geloof en liefde nie), want hy gaan meer volledig daaroor skrywe in die hoofstukke wat kom.

Paulus sluit die hoofstuk af met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak – woorde wat herinner aan die boodskap van die eerste brief (1 Tess. 1:3; 5:8).

Boodskap en betekenis

Hierdie boodskap bevredig my eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee my hoop – God sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het. Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe. Eien dit ook toe vir jouself.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar