Skip to main content

Nehemia 1

Nehemia reageer met indringende gebed op die nood in Jerusalem

Die boek van Nehemia volg op dié van Esra en handel oor die laaste fase van die terugkeer na Juda met die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artasasta (445 v.C. – sy Griekse naam is Artaxerxes). Die volk was nou al amper ’n eeu terug in hulle eie land (van 539 v.C. af). Die tempel is herbou deur Serubbabel (516 v.C.). Die beoogde volksmoord in die tyd van Ester en Mordegai is afgeweer (êrens in die eerste helfte van die 5de eeu v.C. in die tyd van Xerxes, in Hebreeus genoem Ahasveros). Die volk se gehoorsaamheid aan die wet is herstel in die tyd van Esra, veral in terme van hulle huwelikslewe. Wat nog geskort het, was die stad self waarvan die mure nog vervalle gelê het.

Die boek Nehemia

Nehemia kom dus op die toneel só 14 jaar ná Esra se hervormings in Jerusalem rondom die gehoorsaamheid aan die wet wat onder andere tot die ontbinding van godsdienstig-gemengde huwelike lei. Sy passie was die herbou van die mure van Jerusalem, hoewel hy ook op vele ander terreine leiding neem.

Die eerste sewe hoofstukke van die boek is gebaseer op die memoires van Nehemia en word in die eerste persoon vertel. Dit handel oor die haglike toestand van die stad Jerusalem waarvan Nehemia in Susan te hore kom, sy passie om iets daaraan te doen en sy uitvoering van die visie wat die Here hom gee midde-in groot konflik met die omringende volke, veral die Samaritaanse goewerneur Sanballat (’n Goroniet van die dorpie Bet-Goron), die Arabiese leier Gesem, en die Ammonitiese amptenaar Tobija. Ná net 52 dae was die stad se mure weer herbou. Die gedeelte sluit af met ’n geslagsregister uit die tyd van Serubbabel.

Die laaste ses hoofstukke van die boek handel oor die verdere hervormings van Esra, veral gefokus op die reflekterende lees van die Woord, die viering van die huttefees en ’n vasdag van verootmoediging wat uitloop op ’n plegtige onderneming van die leiers sowel as die volk om die wet van die Here te gehoorsaam. Die boek sluit af met die feestelike inwyding van die muur, sowel as ’n tweede besoek van Nehemia waartydens ’n hele klomp netelige sake vêrder aangespreek is.

Teks en konteks

Nehemia skop die boek af met die ontstellende nuus wat hy in 445 v.C. van Ganani kry dat die Jode in Juda in groot ellende en smaad lewe, dat die mure van die stad Jerusalem vervalle is en die stadspoorte verbrand.

Sy eerste reaksie is om aan die huil te gaan daaroor en dit met vas en gebed na die God van die hemel toe te neem – die eerste van tien gebede van Nehemia wat vir ons opgeteken is.

Dit is ’n indringende gebed wat ook skuldbelydenis vir die volk insluit, soos ons dit ook in Esra en Daniël se gebede raaksien en ’n vertroue en appèl op die verbondsbeloftes van die Here uitspreek dat Hy nie net die volk sal help nie – Hy het immers belowe om hulle terug te bring en vir hulle te sorg – maar ook vir Nehemia self voorspoedig sal laat wees in die roeping wat hy intuïtief aanvoel die Here op sy hart lê.

Sy posisie in die hofhouding het hom goed geleen tot presies dié tipe optrede, net soos dit van te vore die geval met Ester in dieselfde stad Susan was in die tyd van Artaxerxes se voorganger, Xerxes.

Die tyd van gebed het waarskynlik ongeveer 4 maande geduur, omdat hy reeds in die negende maand, Kislef, die nuus gekry het en eers in die eerste maand, Nisan, dit wil sê die volgende jaar volgens die Joodse kalender, met die koning praat. Ná die tyd van deeglike deurbid toe hy besef het die tyd van optrede het aangebreek, vra Nehemia dat die Here hom voorspoedig sal laat wees: “met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”

Dit eerste hoofstuk sluit af met die mededeling dat hy die koning se skinker was, ’n posisie van verantwoordelikheid en invloed wat die tafel dek vir wat gaan volg.

Boodskap en betekenis

Interessant, Nehemia is baie bekend vir die bou van die mure, maar minder vir die groot rol wat gebed in sy lewe gespeel het. Hier is tien gebede van hom wat in die boek opgeteken is, saam met ‘n gebed van Esra, wat jy kan nagaan om jou eie gebedslewe te verryk:

  1. Nehemia vas en bid om ‘n helder visie (Neh 1:5-11)
  2. Nehemia nader die koning met ‘n skietgebed tot die Here (Neh 2:5)
  3. Nehemia reageer op teenstand met publieke gebed (Neh 4:4-5)
  4. Nehemia roep almal op tot gebed terwyl hy waaksaamheid opskerp (Neh 4:9)
  5. Nehemia bid dat sy werk bevestig sal word (Neh 5:19)
  6. Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk (Neh 6:9)
  7. Nehemia vra dat die Here die teenstand sal hanteer (Neh 6:14)
  8. Nehemia bid dat sy liefdesdiens nie verlore sal gaan nie (Neh 13:14)
  9. Nehemia bid vir God se ontferming met die herstel van die Sabbat (Neh 13:22)
  10. Nehemia tree in vir die volk en sy leiers (Neh 13:29-31)

Tussen gebed 7 en 8 is daar ook ‘n gebed van Esra waar hy die volk in gebed lei om aan God alleen verbind te wees (Neh 9-10).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda