Skip to main content

Romeine 13

Wees aan gesag onderdanig, lewe in liefde, en beklee julle met Christus

Paulus skryf in hoofstuk 13 verder oor die praktiese implikasies van die regte verhouding met God wat Christus ons gee. Hy pas dit toe op die onderdanigheid wat ons aan die gesaghebbers en owerhede wat oor ons aangestel is (Rom. 13:1-7), sowel as die liefde wat ons teenoor ons medemense verskuldig is, soos die wet reeds uitgespel het (Rom. 13:8-10). Hy sluit af met ‘n oproep om ons met Christus te beklee en nie voorsiening te maak vir ons sondige aard om sy drange te bevredig nie (Rom 13:11-14).

Teks en konteks

Elkeen moet aan die owerhede onderdanig wees (13:1-7)

Die vierde perspektief is dat elke mens onderdanig moet wees aan die gesaghebbers en owerhede wat oor hulle aangestel is ter wille van ‘n skoon gewete. Let op, dit is nie net gelowiges wat hieraan gehou word nie, maar alle mense.

God het dit so gewil dat daar gesaghebbers en owerhede sal wees wat orde in die samelewing bring deur wetstoepassing, direkte belastings soos persoonlike belasting, en indirekte belastings soos aksyns op aankope (vgl. die soortgelyke uitsprake van Jesus in Mrk. 12:13-17).

Dit is egter anders wanneer die owerhede boos is, soos Openbaring 13 ons leer, waar wysheid, volharding en geloof nodig is om bo alles aan die Here onderdanig te bly. Ons lojaliteit aan God moet altyd groter wees as ons lojaliteit aan mense (vgl. Hand. 5:29).

Lewe in liefde, want dit is die vervulling van die wet (13:8-10)

Die vyfde perspektief is om in liefde te leef teenoor ons medemense, soos die wet reeds voorgeskryf het. Die enigste verantwoordelikheid wat ’n gelowige teenoor sy medemens het, is om hulle lief te hê, soos die wet dit uitspel.

Let op dat Paulus hier vier van die gebooie van die tweede tafel van die wet aanhaal soos ’n mens dit in Deuteronomium 5:17–21 kry (vgl. ook Luk. 18:20). Hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself saamgevat (Lev. 19:18).

Let op hoe Paulus die liefde beide negatief (geen kwaad aandoen nie) as positief (volle uitvoering van die wet) uitspel in vers 10.

Leef soos Christus dit wil hê en moenie voorsiening maak vir jou sondige aard om sy drange te bevredig nie (13:11-14)

Paulus se sesde perspektief is om onsself met Christus te beklee en nie voorsiening te maak vir ons sondige aard om sy drange te bevredig nie.

Die motivering vir hierdie opdrag vind Paulus in die naderende finale verlossing (vgl. Rom. 8 – in Fil. 4 sal hy weer terugkom op dié gedagtes) wat beteken dat ons moet ophou met die werke van die duisternis en die wapenrusting van die lig opneem. Let op hoe die “geestelike oorlogvoering”-wapens hier met ’n heilige lewe te make het. In Efesiërs 6 sal Paulus verder hierop uitbrei (vgl ook 1 Tes. 5; 2 Kor. 10).

Boodskap en betekenis

In Romeine 13 bespreek Paulus die praktiese implikasies van ’n regte verhouding met God deur drie oproepe te maak: om onderdanig te wees aan gesag, in liefde te leef, en met Christus beklee te wees. Hy bevestig dat gesaghebbers en owerhede deur God aangestel is om reg en orde in die samelewing te handhaaf. Daarom moet gelowiges hul respekteer, tensy hierdie gesag strydig is met God se wil. Paulus beklemtoon dat die liefde die naaste geen kwaad doen nie. Daarom is die liefde die vervulling van die wet. Ten slotte roep hy gelowiges op om die werke van die duisternis af te lê, die wapenrusting van die lig op te neem, en al hoe meer te leef soos Christus dit wil hê. Hierdie leefstyl is gemotiveer deur die verwagting van die naderende finale verlossing en ’n oproep tot heiligheid in elke aspek van die lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar