Skip to main content

1 Korintiërs 15

Die opstanding met ’n onverganklike liggaam is ons groot hoop

Paulus wend hom nou tot ’n onderwerp wat hy self op die tafel sit en van kardinale belang vir die Korintiërs se geloof is – die opstanding van Christus. Dit vorm die basis vir die geloof in hulle eie opstanding uit die dood en is dié ding wat hulle moet aanspoor om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat die hoop op die opstanding hulle oortuig dat hulle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (vers 58).

Teks en konteks

Jesus het werklik opgestaan uit die dood – 1 Korintiërs 15:1-11

Paulus begin deur uit te brei op die kruis-evangelie van hoofstuk 2 en herinner hulle aan die die 4 hoofpilare van hulle geloof, dát Christus gesterf het, dát Hy begrawe is, dát Hy opgestaan het, en dát Hy verskyn het aan die gelowiges. Let op hoe die historiese feite (gesterf, begrawe, opgestaan, verskyn) met sy interpretasie daarvan (vir ons sonde, volgens die Skrifte) as lewensveranderende evangelie bevestig word.

Die verskeidenheid van die ses verskynings wat Paulus beskrywe val ook op, aan enkelinge (Sefas, dit is Petrus, Jakobus, en Paulus), kleiner groepe (die twaalf en al die apostels) en groot groepe (500 broers en susters – die term adelphois sluit vroue in).

Let op ook op dat die twaalf (dissipels) onderskei word van die apostels, wat ’n groter groep was, waaronder Andronikus en Junia (Rom. 16). Paulus sluit homself as ontydig geborene en geringste van die apostels in. Hy verhef hom dus op geen manier nie, veral weens sy aanvanklike vervolging van die vroeë Christene, hoewel hy ook trots is daarop dat hy weens die genade van die Here harder as almal gewerk het.

Dit is die boodskap waaraan ons moet vashou, sê Paulus. Niks moet jou hiervan wegruk nie. Anders sal jou geloof waardeloos wees vir jou.

Die woordjie “vashou” in hierdie teks is die Griekse woord katechō. Die woord beteken: om aan te hou glo, om aanhou te hou doen wat jy glo, om in alles in ooreenstemming met jou geloof op te tree. In Engels: “to practice what you believe.”

Paulus sluit hiermee dan ook aan by die lering van die Here Jesus, want hy gebruik dieselfde woord, katechō, as wat Jesus reeds in die bekende gelykenis van die Saaier gebruik het. Jesus beskryf daar die goeie grond as: “daardie mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” (Luk 8:15)

En let op dat dit dinge is wat Paulus self ontvang het en waaraan hy nie net vashou nie, maar aan ander verkondig. En dat dit dinge is wat daarby: “volgens die Skrifte” is.

Geloof is waardeloos sonder die verwagting van die opstanding van die dooies – 1 Korintiërs 15:12-34

Met hierdie opstandings-evangelie as vertrekpunt beweeg Paulus dan direk oor na die verwagting van die opstanding van die dooies waarsonder hulle geloof waardeloos en sonder inhoud en betekenis sou wees. Hy stel dit daarom duidelik dat soos Christus opgewek is uit die dood, sal dié wat aan Hom behoort, by Christus se koms, lewend gemaak word en opstaan uit die dood. Dit is die evangelie en dit is ons hoop!

As dit nie waar was nie, sou ook die werk van die evangelie-bedienaars tevergeefs wees, en sou ’n mens eerder kon eet en drink asof alles tot ’n einde sal kom (vgl. Jes 22:13; 56:12). Hy sluit ook aan by die spreuk van die Griekse digter Menander (341-291 v.C.): “slegte geselskap bederf goeie sedes,” waarmee hy die mense wat die opstanding ontken, as “slegte geselskap” uitwys wat vermy moet word.

Oor die verwysing na die Korintiërs wat hulle vir die dooies laat doop het, is al baie geskryf. Een kommentaar lys meer as 200 verklarings! Die beste moontlikheid vir my is dat van die Christene gedoop is vir gelowiges wat gesterf het voordat hulle gedoop kon word, sodat hulle op hierdie manier nie die doop sou misloop nie. Maar, dit is ‘n onopgeloste raaisel.

Paulus spreek homself ook nie uit oor die feit of dié gebruik goed of sleg is nie. Al wat hy doen, is om te sê, dat dit onsinnig sou wees as jy dan nie rekening hou met die opstanding uit die dood nie.

Die opstandingsliggaam – 1 Korintiërs 15:35-58

Daarna praat Paulus oor die opstandingsliggaam om alle onduidelikheid daaroor op te klaar.

Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan. Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie, sodat die Korintiërs die hoop hiervan sou besef en aangryp.

Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings sal maak en in vers 44-49 verder daarop sal uitbrei.

Paulus gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef. Met die voorbeeld van die saad wys Paulus die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte.

Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die vlees (fisiese vorm) van mense, diere, voëls en visse. Met die voorbeeld van die verskillende vorme van lewende wesens probeer Paulus die beperktheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees

In die derde plek beskryf Paulus die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling. Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as weereens die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees.

Daaruit trek Paulus die gevolgtrekking: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag.”

Let op hoe Paulus die hemelse liggaam beskryf. God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense. Ons nuwe liggaam sal onsterflik, heerlik en kragtig wees.

Paulus gee dus vir ons nie ‘n presiese beskrywing van hoe die opgestane liggaam sal lyk en wees nie. Maar daar is genoeg gegewens vir ons om tog ‘n paar gevolgtrekkings te kan maak oor hoe die liggaam gaan lyk:

  1. Gekontinueer: dit is steeds jy wat opgewek word – soos ons dit in Christus gesien het. Sy natuurlike liggaam is opgeneem in sy geestelike liggaam. Anders gestel, sy geestelike liggaam het sy natuurlike liggaam oordek, ingetrek. Daarom kon sy dissipels Hom herken, al was Hy ook anders. Dieselfde gaan met jou gebeur. Daar gaan ‘n ooreenkoms wees, en tog sal jy ook anders wees.
  2. Getransformeer: jy word in ‘n nuwe vorm opgewek – soos ons dit weereens in Christus gesien het. Hy kon verdwyn en verskyn na willekeur. Hy was nie gebonde aan tyd en ruimte nie. Hy kon deur toe deure. Die een oomblik op die pad na Emmaus. Die ander oomblik in Jerusalem. Dieselfde verheerlikte liggaam sal jy ook kry.
  3. Geestelik: dit bedoel onsterflik, heerlik en kragtig. Sommige teoloë het hierdie heerlikheid beskryf met die term “helderheid” (clarity). Heerlik beteken dat ons liggame helder sal wees, stralend van lig, soos Jesus s’n by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig het geskyn soos die son en sy klere het skitterend wit geword op die berg van verheerliking waar hy vir ‘n tydjie sy verheerlikte liggaam aan sy dissipels vertoon het (Matt 17:2; vgl Openb 1:15-17 – “sy oë soos ‘n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome … sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.”). Dit is wat ons ook lees van die liggame van die engele wat telkens as omgewe van ‘n helder blink lig, die heerlikheid van die Here, beskryf word (Luk 2:9; Hand 12:7). Jesus sê immers dat ons “soos die engele” sal wees (vgl Luk 20:36). Dit is die voorbeelde van hierdie “geestelike liggaam” wat ons in gedagte kan hou. Ook die visie van Daniël oor die verstandiges by die wederkoms: “die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel” (Dan 12:3).

In sy uitbreiding in vers 44-49 gaan Paulus verder en kontrasteer die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding.

Die verskil tussen die natuurlike en die geestelike is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam … en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, dit is Christus (vgl. Rom. 5). Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels.

En Paulus voeg daarby: “Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.”

Ons het daardie nuwe geestelike liggaam nodig, want daarsonder sal ons dit nie maak in die koninkryk van God nie, in die nuwe hemel en die nuwe aarde nie. Ons sal bevry word van die verganklike, die beperkte, die sondige, en deur die onverganklike geestelike liggaam die koninkryk van God kan beërf.

Boodskap en betekenis

Niks van waarde kan in jou geestelike lewe gebeur as jy nie aan die werklikheid van die historiese, liggaamlike opstanding van Jesus Christus vashou nie. Dit geld die teoloë, en die gewone lidmate. En enigiemand wat jou van iets anders wil oortuig, laat hy vir jou anathema wees, iemand om te vermy sodat sy ongeloof nie afgee op jou nie. “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”

Natuurlik moet ons na ongelowiges uitreik met die evangelie, maar ons kan geen gemeenskap duld met mense wat die opstanding van Jesus ontken nie, want dit kan soos suurdeeg jou eie geloof – en belangrik, dié van ander – laat wankel.

Ek gee vandag vir jou nog meer inligting oor die werklikheid van die opstanding van die Here Jesus Christus. Gary Habermas en Michael Licona het in 2004 ‘n indringende en omvattende ondersoek daarna geloods (The Case for the Resurrection of Jesus. Kregel: Grand Rapids).

“Minimal facts” benadering

Gary en Michael gebruik ‘n minimalistiese benadering – uitgebreid gemotiveerd – om die vier algemeen aanvaarde feite waarop hulle die opstanding begrond, te motiveer, sowel as ‘n vyfde feit wat deur die meerderheid aanvaar word. Hulle noem dit die “minimal facts approach”.

  1. Jesus het aan die kruis gesterf. Daar is nege onafhanklike bronne wat dit bevestig, waarvan vier die kanonieke Evangelies is:
  • Die vier Evangelies van die NT: Markus, Matteus, Lukas en Johannes. Dit is die belangrikste bronne wat vir ons nagelaat is.
  • Die Joodse geskiedskrywer Josephus, ‘n tydgenoot van Jesus, verwys twee keer na Jesus in sy Antiquities of the Jews(geskrywe in die 1ste eeu n.C.). Die eerste verwysing is na sy kruisdood (boek 20, hoofstuk 9), en die ander na die feit dat Hy die Christus genoem is (boek 18, hoofstuk 3). Daar is ook een verwysing na Johannes die Doper wat ook sy historisiteit bevestig (boek 18, hoofstuk 5). Daar is debat oor Josefus se verwysing na die opstanding, maar nie oor die historisiteit van die verwysings na die kruisdood nie.
  • Die Stoïsynse filosoof Mara Bar-Serapion van Sirië skryf in ‘n brief aan sy seun, Serapion, oor die dood van die “wyse koning van die Jode” in die 1ste eeu n.C. wat deur baie geleerdes met Jesus se kruisdood verbind word.
  • Die Romeinse geskiedskrywer en senator Tacitus verwys vroeg in die 2de eeu n.C. na Jesus se kruisdood onder Pilatus (Annale, boek 15, hoofstuk 44). Dit is ‘n onafhanklike Romeinse historiese bron.
  • Dan is daar nog die Griekse satirikus Lucian van Samosata in sy The Passing of Peregrinus wat na Jesus se kruisdood verwys en boonop na – in sy oë – misplaaste idee van onsterflikheid onder Christene, ook in die 2de eeu n.C.
  • Die Joodse Talmoed– ‘n versameling van Joodse denke, geskryf deur rabbi’s deur die eeue – verwys ook na Jesus, hoewel altyd in ‘n negatiewe sin. Hoewel daar baie debat is oor die detail van die verwysings na Jesus, is dit ook een van die bronne wat ‘n mens vir die historisiteit van Jesus kan naslaan.
  1. Jesus se dissipels het geglo dat Hy uit die dood opgestaan het en aan hulle verskyn het. Die beskrywings van die opstanding wat in die NT opgeneem is, berus duidelik op die getuienis van ooggetuies en hulle mondelinge tradisies. Die getuienis van die opstanding het dus vóór die geskrewe teks bestaan. Dit sien ons talle plekke in die NT:
  • Credo’s (vroeë geloofsbelydenisse) soos ons dit hier in Paulus se brief aan die Korintiërs kry (1 Kor. 15:3-5) en waarop hy natuurlik verder uitbrei in hierdie hoofstuk.
  • Liedere (“Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood en Christus sal sy lig oor jou laat skyn.” – Ef. 5:14; vgl. Ef. 5:19; Ook die lied in 1 Tim. 3:16 wat die frase bevat: “Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam … opgeneem in heerlikheid.”).
  • Verhale wat oorgelewer is, wat Lukas gebruik het vir sy navorsing om uiteindelik sy Evangelie te skryf (Luk. 1:1-4).
  • Gedigte met die opstanding as begronding (Rom. 8:31-38 – “Wat sal ons dan hiervan sê: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees? … Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”; daardie onvergelyklike gedig oor die selfontleding van Christus in Fil. 2:5-11; En die uitspraak: “As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef” en wat daar verder volg in 2 Tim. 2:11-13).
  • Die vier Evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes sowel as Lukas met sy Handelinge van die apostels.
  • Daarby kom nog die onwrikbare getuienis van die dissipels wie se lewens só getransformeer is deur die opstanding dat hulle vervolging en martelaarskap verduur het vir hulle getrouheid aan die boodskap daarvan. Al die apostels het waarskynlik ‘n marteldood gesterf, behalwe Johannes, hoewel hy natuurlik ook self gemartel is in sy lewe.
  • Die opstanding kon dus per definisie nie ‘n legende gewees het wat oor tyd ontwikkel het nie. Daarvoor was die getuienis van die opstanding té vroeg en té wyd deur ooggetuies bevestig. Selfs voor daar ‘n woord op papier neergeskryf is.
  1. Die vervolger van die kerk, Paulus, is skielik verander. Sy getuienis is van groot belang omdat sy verandering van vyand in vriend nie op ‘n ander manier verklaar kan word as dat die opgewekte Jesus aan hom verskyn het nie. Hy maak ook baie van die liggaamlike opstanding van Jesus (Hand. 13:34-37; 1 Kor. 15; Fil. 3:21).
  2. Die skeptiese Jakobus, broer van Jesus, is skielik verander. Sy verandering van skeptisisme toe Jesus nog saam met hulle gelewe het (Joh. 7) tot onwrikbare geloof in die opgestane Jesus en leiding van die kerk (Hand. 15) kan net verklaar word aan die hand van iets wat werklik gebeur het. Ditto Jesus se ander broer, Judas, wat ook ‘n brief in die NT geskryf het.
  3. Die graf was leeg. Dit sou onmoontlik gewees het vir die Christendom om van die grond af te kom as ‘n beweging as Jesus se liggaam steeds in die graf was. Die graf was leeg, soos selfs die Romeine en Jode getuig het, hoewel sommige van hulle die bewering gemaak het dat Jesus se liggaam gesteel is. Die graf was egter leeg, hoe ‘n mens ook al dit sou probeer verklaar. Die vorige vier punte wys egter hoe onwrikbaar die getuienis was dat Jesus inderdaad opgestaan het. Dit is genoeg om die leë graf te verklaar as ‘n verdere getuienis van Jesus se opstanding.

Daar is ander redes wat hiermee saamgelees kan word – bv die feit dat vroue die eerste getuies was van die opstanding. Maar dié is genoegsame getuienis van die opwekking van Jesus.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…