Skip to main content

1 Timoteus 6

Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou

Waar Paulus in hoofstuk 5 oor Timoteus se bediening IN die gemeente gepraat het, en leiding gegee het oor die onderlinge onderskraging, praat hy nou oor die bediening van die gemeente na BUITE in die gemeenskap. Die onderlinge onderskraging moet na buite in onderlinge eerbetoon uitmond, sodat mense in hulle werksverhoudinge kan sien hoe die evangelie werk.

Teks en konteks

Lojaliteit aan mekaar – 1 Timoteus 6:1-2a

Let op hoe Paulus die onderlinge eerbetoon motiveer: “sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie”. Die gemeente is die basis vir en ondersteuning van die verkondiging van die evangelie, en doen dit deur in leer en lewe opreg en outentiek te lewe. En veral in die werkplek kan die naam van God in gedrang kom, sowel as die leer van en geloof in Christus, as hulle met mekaar in konflik oor allerlei sou wees.

Lojaliteit aan mekaar en aan die evangelie is nie onderhandelbaar nie. Die bande tussen gelowiges is deur God gesmee, soos trouens ook hulle bande met Hom. En dit moet bo alles gehandhaaf word. Selfs ons onderlinge vermaning, bemoediging en onderskraging moet uit hierdie diep bewussyn van eenheid met mekaar en God gedoen word.

Hierdie lojaliteit aan God en mekaar moet in alle lewensverbande gehandhaaf word.  Die een verband wat Paulus uitlig, is die werkplek, waar gelowiges wat in ’n ongelyke situasie met mekaar moet saamwerk (slaaf vs. eienaar), mekaar steeds as broers en susters moet raaksien en respekteer.

Wees tevrede met wat jy het – 1 Timoteus 6:2b-10

Maar dit gaan nie net oor die verhouding slaaf vs. eienaar nie.  Dit raak ook die wyse waarop ’n mens dink oor jou doel op aarde.  Gierigheid is altyd ’n groot versoeking, wat selfs wanneer jy met die dinge van die Here besig is, jou kan verlei om daaruit geld te probeer maak.  Die einde daarvan is dat jy van die geloof sal afdwaal en in allerlei ellende beland.  Daarom is Paulus se raad aan Timoteus en sy gemeente om tevrede te wees met wat hulle het.

Stryd die goeie stryd van die geloof – 1 Timoteus 6:11-21

Dan keer Paulus terug na Timoteus se eie lewe en roeping, en moedig hy Timoteus aan om met alles in hom die goeie stryd van die geloof te stry.  En dit tref my hoe Paulus hom motiveer met twee goed.

  1. Aan die een kant vestig hy sy aandag op dit wat agter hom lê, God wat aan alles die lewe geskenk het, en Jesus Christus wat met sy lewe en bediening die wêreld verander het. Dit is die stukrag in sy lewe, waaruit hy krag kan put om sy roeping na te kom en enduit te voltooi.
  2. Aan die ander kant skets hy vir hom ’n gloeiende prentjie van die toekoms wat op die bestemde tyd sal aanbreek. Let op met hoeveel passie Paulus vir God teken: “die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers”.  Maar dié God is nie net die eerste in die Skepping nie, Hy is ook weergaloos in sy wese: “Hy alleen besit onsterflikheid.” “Hy woon in ontoeganklike lig.”  “Aan Hom kom toe eer en ewige mag.”

Paulus keer terug na ’n laaste gedagte oor rykdom, en spreek hom sterk uit oor die onsekerheid van rykdom.  Die enigste lewenstyl wat sin maak vir die gemeente, is om hulle hoop op God te vestig wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.  Woorde wat herinner aan Jesus in die Bergrede, dat God dié wat die koninkryk najaag, ook sal gee wat hulle nodig het (Matt. 6:33).

Die rykdom wat tel, is die rykdom in God, en dit kom deur goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid, nie gierigheid en inhaligheid nie.  In ekonomiese taal sluit Paulus af deur te sê, rykdom in God is die belegging wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Boodskap en betekenis

Paulus rig die gemeente se blik ook na buite, want die geloof moet sigbaar word in die samelewing, veral in werksverhoudinge, waar eerbied en respek getoon moet word “sodat niemand kwaad sal praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie”.

Daarom waarsku hy teen gierigheid en die soeke na aardse rykdom, wat gelowiges kan laat afdwaal van die geloof en in groot ellende bring. Ware rykdom lê daarin om tevrede te wees met wat God gee, en om die goeie stryd van die geloof te stry met Christus as voorbeeld en God as einddoel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…