Skip to main content

Psalm 56

God let op ons trane

Hierdie Psalm word weereens in die eerste vers met Dawid se gevangeneming deur die Filistyne in Gat verbind (1 Sam 21). Koning Agis van Gat se amptenare het Dawid na hom toe gebring omdat daar met soveel lof van sy dapperheid in oorlog gesing is in Israel. Dawid was egter baie bang en het hom “voor die Filistyne waansinnig gehou, en terwyl hy by hulle was, het hy hom soos ’n mal mens gedra. Hy het teen die deure van die poort gekrap en sy spoeg in sy baard laat afloop.” Agis het Dawid daarom laat gaan, want hy wou nie ‘n mal mens in sy huis laat inkom nie.

Teks en konteks

Die Psalm wys hoe geloof vasgehou word midde-in die vrees vir die vyande en teëstanders. Dit is opgedeel in 5 dele:

  1. Gebed om genade – vers 2-3. Die mense wat hom jaag en vervolg kan hom so maklik van God self vervreem, of laat twyfel in God se nabyheid en sorg. Daarom bid hy vir genade om nie onder te gaan weens die optrede van sy teëstanders nie.
  2. Gebed van vertroue – vers 4-5. Wanneer alles egter te veel vir hom word, en die vrees hom oorval, dan neem hy sy toevlug tot sy enigste ware uitkoms, sy vertroue op God. Dit is die woord van God wat hom gerus maak, en laat besef dat blote mense nie regtig iets aan hom kan doen nie.
  3. Gebed om uitkoms – vers 6-8. Vanuit sy vertroue in God vra hy dat God sal optree en hulle beskuldigings en bose planne sal fnuik. Let op hoe spesifiek hy is, al stuit die agressie ‘n mens ‘n bietjie teen die bors.
  4. Gebed van vertroue – vers 9-12. Dawid herhaal weer sy vertroue in God, waarskynlik veroorsaak deur een of ander teken of woord (“Dit weet ek: God is aan my kant”) en skets vir ons ‘n kant van God wat regtig tot ‘n mens se hart spreek: “U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.” God se boek van ons trane! Watter diep gerustelling as ‘n mens aan wydverspreide aanvegtinge blootgestel is.
  5. Gebed van toewyding – vers 13-14. Dawid verbind hom in die laaste beweging van sy gebed om sy geloftes en dankoffers te betaal, en dank God dat dié hom enduit beskerm en bewaar.

Boodskap en betekenis

Dié gebed is ‘n uitstekende raamwerk vir ‘n mens se eie gebed. Die gebed om genade is gebaseer op vertroue, net soos die gebed om uitkoms gebaseer is op vertroue. Die bewussyn van God se deernis met ons trane, is inspirerend. Hy hou ook boek van jou trane! En só ‘n gebed moet altyd uitmond in (nuwe) toewyding.

Soek vir en vertrou dan op God se beloftes in jou uitdagings:

“Trust in God, when activated and confirmed by a word from God, is more powerful than the evil actions of human beings.” (Tate, Word Biblical Commentary).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar