Skip to main content

1 Samuel 22

Sorg dat jy in die gebied van Juda kom

Dawid kry dit reg om van Agis, die Filistynse koning in Gat net langs die grens met Juda, te ontsnap. Hy skuil vir ‘n tyd lank in die grot by Adullam waar ‘n groep uitgestote mense saam met sy familie by hom aansluit. Ook ‘n paar helde (1 Kron 11:15). Hy neem sy pa en ma na Moabitiese gebied oos van die Jordaan, die gebied van sy ouma-grootjie Rut, maar word deur die profeet Gad aangeraai om self in Judese gebied te gaan skuiling soek. Saul wis op grusame wyse die priesters van Nob uit wat Dawid vroeër gehelp het. Wat Saul egter as weerwraak teen Dawid bedoel, word deur God gebruik om sy oordeel oor die geslag van Eli uit te voer.

Teks en konteks

Dawid vlug van Agis af na die omgewing van Adullam, halfpad tussen Gat en Bethlehem, sy geboortedorp waar daar ‘n grot was waar hy skuiling gesoek het. Waar dié gebied vir sy stamvader, Juda, vroeër ‘n uitdaging was deurdat hy van sy broers af weggetrek het en die gevaar geloop het om afvallig te raak met sy huwelik met Bat-Sua, ‘n Kanaänitiese vrou (Gen 38 – gelukkig het Tamar hom tot sy sinne gebring en die Messiaanse lyn intakt gehou!), word dit nou die plek waar Dawid se broers en familie nou juis by hom skuiling soek. Adullam was in Juda (Jos 15:35) en ook naby die vallei waar Dawid vir Goliat verslaan het.

‘n Groep van ongeveer 400 man het by Dawid aangesluit, nie net omdat hulle hom ondersteun het nie, maar omdat hulle gehoop het dat hy as aanvoerder hulle uit hulle eie moeilikheid sou kon red.

Daar was egter ook ‘n paar helde wat by Dawid aangesluit het soos die Kroniekeskrywer later vertel (1 Kron 11:15). Veral drie van die dertig hoofde wat Dawid later aanstel, het reeds in dié tyd afgetrek na die rots waar Dawid in die spelonk van Adullam gebly het en by hom aangesluit. Abisai was hulle leier.

Kronieke vertel vir ons ook dat Betlehem in dié tyd deur die Filistyne beset is. Dit is uiteraard hoekom Dawid se mense na hom toe getrek het. Op Dawid se begeerte na water uit die put van Betlehem het dié drie deur die laer van die Filistyne gebreek en water vandaar gebring vir hom. Dit was ‘n besondere heldedaad wat Dawid aan die Here eer laat bring het, deur die water voor Hom uit te stort, eerder as om dit self te drink.

Dit blyk dus dat Dawid aan die een kant almal aanvaar wat by hom aansluit, ongeag hulle agtergrond, want hulle was uitgestote en verbitterde mense vir wie dinge in allerlei noodsituasies verkeerd geloop het. ‘n Voorafskaduwing van die volgelinge van Jesus wat deur Hom uit allerlei vasgevalde situasies tot dissipels omvorm is.

Tog was daar aan die ander kant ook hierdie vaardige en bekwame leiers wat Dawid bó Saul verkies het en uiteindelik ‘n groot rol gespeel het in die aanvaarding van Dawid se koningskap. Kronieke vertel vir ons later dat hulle ook nie net gekom het uit Dawid se stam Juda nie, maar baie spesifiek ook uit Saul se stam Benjamin (1 Kron 12:16). Só voorsien die Here die mense wat sy doel met sy volk deur Dawid moet bereik.

Dawid reis hierna oos oor die Jordaan na Mispe in Moab, die land waar sy ouma-grootjie Rut vandaan gekom het, en kry daar skuiling vir sy pa en ma. Hy doen dit solank om sy verpligting teenoor hulle na te kom (5de gebod): “totdat ek weet wat God met my wil doen.” Hy soek aanvanklik self toevlug in ‘n bergskuiling, waarskynlik in Moab, waarmee hy steeds uit Saul se bereik probeer bly. Ons weet egter nie vandag meer waar dit is nie.

Die profeet Gad is egter baie duidelik daaroor dat Dawid nie langer in die bergskuiling mag bly nie. Hy moes sorg dat hy in die gebied van Juda kom, sy eie stamgebied, sodat hy nie net in die Belofteland is nie, maar ook tussen mense vir wie hy uiteindelik as koning moet lei. Dit word die eerste deel van die antwoord van God aan Dawid op sy vraag wat God se wil met sy lewe is.

Dawid het na God geluister en in die bos van Geret gaan bly. Ons weet ook nie waar dit is nie, maar weet wel dat dit in die gebied van Juda was.

Saul raak al hoe meer paranoïes en slaan munt uit sy bevoordeling van sy amptenare met landerye en wingerde. Hy trap hulle uit dat hulle hom nie help in sy vervolging van Dawid nie. Waarop Doëg, die Edomiet, wat daar tussen Saul se amptenare gestaan het, reageer. Hy bring die hulp wat die priesters van Nob aan Dawid gebring het – deur geestelike begeleiding, kos en wapens – aan die lig.

Saul bring dan die hele familie van priesters van Nob af na hom toe en beskuldig hulle van ‘n komplot teen hom, sonder dat daar enige getuienis was dat hulle die hulp aan Dawid as ‘n aksie teen Saul bedoel het. Dat Agimeleg dus onskuldig pleit, is vir Saul eintlik net ‘n bewys van sy rebellie teen Saul.

Tot die amptenare se krediet wil hulle nie self die opdrag van die koning om Agimeleg en sy hele familie uit te wis, uitvoer nie. Doëg, die Edomiet, het egter geen probleem daarmee nie en maak 85 priesters – “manne wat die linne-efod dra” – dood dié dag. Trouens, hy het al die mense van Nob om die lewe gebring, self hulle diere.

Dit is tragies dat Agimelek se weldaad aan Dawid tot die uitwissing van sy mense lei. Ons moet egter onthou dat daar agter die skerms ‘n ander Een aan die werk is. Die oordeel oor Eli se nageslag word hiermee voltrek (1 Sam 2:27-36). Net Abjatar, Agimeleg se seun, kom vry.

Abjatar het hierna ‘n getroue priester in Dawid se diens gebly, totdat hy die verkeerde seun, Adonia, as Dawid se opvolger sou ondersteun (1 Kon 1:7) en deur Salomo van sy priesterskap onthef is (1 Kon 2:27). Die priesterlike voorregte van Eli se nageslag (die Elide) word van dié punt af hoofsaaklik deur die priesters uit Sadok se nageslag (die Sadokiete) uitgevoer in lyn met God se besluit, natuurlik nog steeds binne die toekenning van priesterlike funksies aan die breë Aäronitiese priesterlike geslag.

Let op hoe Dawid verantwoordelikheid aanvaar vir die gruweldaad toe dit aan hom oorgedra is. Hy is baie bewus van die feit dat elkeen wat hom ondersteun, vervolg sal word. Daarom bied hy veiligheid aan Abjatar, en sluit hom só in, as die laaste van hulle priesterlike geslag, om steeds sy funksie te kan vervul.

Boodskap en betekenis

Dit is uiters interessant om die lig te laat val op die mense wat hulle hier met Dawid geassosieer het. Dit was eerstens sy familie, waarvan sy broers nou erkenning begin gee het aan sy verkiesing as koning. In die tweede plek was daar mense wat op verskillende wyses in die moeilikheid beland het. Hulle skuld het bv te groot geraak of hulle skuldeisers was moontlik onbarmhartig wat hulle verbitterd gelaat het. Dawid aanvaar hulle by hom en gee hulle ’n nuwe doel in die lewe.

Net soos Jesus Christus dit in die NT sou doen. In sy teenwoordigheid het sy volgelinge nie net vergifnis ervaar nie, maar ook ‘n nuwe doel in die lewe om in God se geregtigheid sy voorsiening te kan geniet (Matt 6:33). Dit is hoe God werk. Hy laat ons sy barmhartigheid ervaar in vergifnis. Maar, Hy verander ons ook daardeur om in geregtigheid te kan lewe.

Daar was egter ook ‘n paar helde wat in hierdie tyd by Dawid aangesluit het wat ‘n groot rol in die uiteindelike vestiging van sy koningskap sou speel. Uit Juda en Benjamin, en later uit ander stamme ook. Die Here het dus vir Dawid ‘n leierskorps voorsien met wie hy die uitdaging van koningskap kon aanvaar en die hele volk onder sy heerskappy kon intrek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar