Skip to main content

Johannes 17

Jesus bid passievol vir eenheid in sy kerk

Dit tref my dat Jesus nie net later in Getsemane gebid het nie, waar Hy geworstel het met God se wil nie, maar dat Hy vooraf op pad, voor Hy in die tuin ingegaan het, hierdie ongelooflike Hoëpriesterlike gebed gebid het.

Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels voor Hy sy laaste gebede in Getsemane tot God rondom sy Lydenspad sou bid. Hy sou sy intersessie hierna hervat as Hoëpriester in die hemel. Hy is daar ons Voorspraak (1 John 2:1). Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree (Hebr 7:25). Hy pleit daar vir ons (nes die Gees in ons harte dit doen) waar Hy sit aan die regterhand van God (Rom 8:34).

Die gebed vertoon die volgende driedelige struktuur (Westcott) wat interessante ooreenkomste vertoon met die wyse waarop Aäron sy rol as Hoëpriester gespeel het waar hy ook intree vir homself, dan vir die priesters en laastens die hele gemeente (vgl Lev 16:17).

Teks en konteks

17:1-8 Jesus bid eerstens vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi (onthou sy kruiswoord: “dit is volbring” – Joh 19:30), om God se woorde aan mense bekend te maak.

Hy loof die Here vir die mag wat Hy gekry het oor alle mense, sodat Hy vir elkeen wat God die Vader vir Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. Hy het God se Naam aan die mense geopenbaar, spesifiek die mense wat die Vader uitgekies het om Hom te gehoorsaam (Joh 1:18; 5:43; 14:6-9; 17:26). Hulle het nie net die boodskap ontvang nie, maar die diepte daarvan besef en geglo – dat Jesus van die Vader uitgaan.

Let op dat die ewige lewe nie op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ’n tydloosheid nie, maar op ’n onbelemmerde verhouding met God. Wat natuurlik die hemelse werklikheid insluit, maar reeds hier ‘n aanvang geneem het, want die ewige lewe is doodgewoon om die enige ware God te ken en Jesus wat die Vader gestuur het.

Jesus sien in sy gebed ook uit na die heerlikheid wat Hy by God die Vader gehad het voor die wêreld daar was. Dit sal Hom nou weer beskore wees na die Lydenspad wat Hy gaan loop.

17:9-19 Jesus bid tweedens vir die dissipels. Let op dat Jesus nie vir die wêreld bid nie, maar vir hulle wat God die Vader vir Hom gegee het, omdat hulle reeds die Vader s’n is. Per slot van rekening is alles wat Jesus s’n is, ook die Vader s’n, en vice versa. Hulle aanvaarding van Hom as hulle Here en Meester is tot sy verheerliking.

Daarom bid Jesus vir die beskerming van die dissipels in hulle onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees met mekaar. Tot dusver het Jesus dié rol vervul, en niemand van hulle het verlore geraak nie, behalwe die “seun van verderf”, Judas, sodat die Skrif vervul kan word. Jesus verwys hiermee moontlik ook na Ps 41:10 soos Hy dit vroeër in Johannes 13:18 gedoen het, waarmee hy Judas vergelyk met die “boesemvriend” van Dawid in die Psalm wat teen hom gedraai het (moontlik ‘n verwysing na Agitofel).

Maar, omdat Hy nou na die Vader toe gaan, lig Hy met hierdie gebed sy dissipels in sodat hulle blydskap kan hê. Jesus se werk in hulle is vir altyd, behalwe vir Judas.

Dan bid Jesus ook vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord. Die beskerming is noodsaaklik, omdat die wêreld hulle sal haat, soos die wêreld Jesus ook gehaat het.

Jesus bid nie daarmee dat hulle uit die wêreld weggeneem moet word nie, maar net dat hulle, ten spyte van watter aanslae ook al, nie sal toegee aan die uitdagings wat die bose aan hulle sal stel nie.

En in sy gebed noem Hy die geheim van volharding. Dit kom deur die heiligende werk van die waarheid van God se woord.

Daarom kan Jesus hulle in die wêreld instuur, net soos die Vader Hom aanvanklik ingestuur het in die wêreld. Hy het Homself afgesonder (geheilig) ter wille van hulle geloofsgehoorsaamheid.

Let ook op dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf moet word in die midde van die eksterne aanvalle van die Bose en die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

17:20-26 Jesus bid derdens vir die kerk wat hierna op Pinksterdag sou ontstaan – hulle wat die dissipels se boodskap in Jesus sal glo. Hy bid spesifiek vir eenheid tussen gelowiges – soos die eenheid tussen die Vader en die Seun – sodat hulle ook ingetrek kan wees in die gemeenskap van God. Watter voorreg!

Dit is juis in die gelowiges se onderlinge eenheid wat die wêreld tot geloof beweeg sal kan word op grond van, nie net hulle onderlinge liefde nie, maar ook die liefde van die Vader.

Jesus bid ook vir ’n hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en sy liefde, dit beteken Hyself, volkome in hulle kan bly. Dit is die liefde wat in sy regverdige Vader was vir Hom. Dit is ‘n liefde wat die Drie-eenheid ook met die geloofsgemeenskap wil deel.

Boodskap en betekenis

Dit bly die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ’n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ’n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ’n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel. Natuurlik, solank dit in die waarheid is, want dit is die manier waarop ‘n mens bymekaar bly, deur in die waarheid te bly.

Paulus sou baie tyd aan hierdie gedagtes spandeer en dit verder uitspel (1 Kor 12-14; Ef 3-4).  Hierdie gebed is dus die lewende testament van Jesus. Hy bid vir en werk vir eenheid, ’n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef. Niks minder as dit kan ooit my doelwit en passie bly nie.

Jy kan gerus die indeling van die gebed as model in jou gebede gebruik. Bid eers vir jou eie gehoorsaamheid aan God. Bid dan vir die onmiddellike kring van dissipels om jou. En tree dan in vir die hele gemeenskap van gelowiges oor die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.