Skip to main content

Job 20

Sofar: Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek

Waar Job se oortuiginge oor God die verbeelding van ‘n verlossende toekoms van God vir skepsels en skepping begin oopmaak, bly Sofar by sy beperkende intellektuele argumentering oor die lot van die goddelose.  Daar is by hom al hoe minder van ‘n moontlikheid te bespeur dat omkeer of inkeer moontlik is, soos hy weliswaar nog in sy vorige gesprek aan Job voorgehou het (Job 11).

Sofar beskou die goddelose al hoe meer as verdoem en sonder enige uitkoms: “Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose (resjaîmwicked – mense wat in opstand teen God lewe) van korte duur is, dat die blydskap van die godlose (ḥâneef – godless – mense wat sonder God lewe) net ‘n oomblik duur?” (20:5).

Let op hoe konsekwent hy sy intellektuele argument voer:

  • Die goddelose godlose word absoluut totaal vernietig (20:4-11). Dit is van altyd af te sien dat die goddelose godlose soos hulle eie uitwerpsel vir altyd vergaan: “Hy verdwyn soos ‘n droom.” (20:8).  Niemand sal hom weer sien nie, selfs sy kinders sal vergaan. Die dood bring ‘n totale vernietiging van sy hele nalatenskap.
  • Die soet smaak van onreg word soos die gif van ‘n slang (20:12-23). Al wil ‘n mens die soet smaak van onreg in jou mond vertroetel, en as’t ware wegsteek onder jou tong, sal dit jou maag omkrap, jou laat opgooi, jou dood veroorsaak soos die gif van ‘n adder.  Jou genot aan dié dinge wat God gee – water, heuning en dikmelk (natuurlike produkte) – sal verlore gaan, net soos die goddelose godlose armes verdruk het in sy gulsigheid en hebsug.  Vir Sofar het niks hierdie goddelose godlose (Job) se vraatsug ontsnap nie, en daarom sal sy voorspoed ook nie stand hou nie, soos dit inderdaad nou, só dink Sofar, vir almal sigbaar is.
  • Terwyl hy hom nog so vol eet, laat God die woede van sy toorn oor hom losbreek (20:24-29). “Hy vlug nog vir ‘n ysterwapen, dan deurboor ‘n bronspyl hom.  Terwyl hy dit uit sy rug uit trek, die glansende punt uit sy gal, oorval die doodsvrees hom.” (24-25).  Trouens, al sy skatte is bestem om vernietig te word – die bietjie van Job wat nog oorgebly het – die hemel en die aarde sal saamspan om hom te laat omkom onder God se toorn: “Dit is die lot van die mens wat skuldig is voor God, die deel van die een wat hom teen God verset.” (29).

Die probleem met Sofar se argument is egter nie dat hy noodwendig verkeerd is oor die uiteinde van mense wat goddeloos of godloos lewe.  Of dat hy inkonsekwent is nie.  Die boodskap van die Bybel beklemtoon immers regdeur hierdie kant van God se betrokkenheid by die wêreld.

Sofar se probleem is dat hy glad nie rekening hou met God se genade nie, en nog meer as dit, dat hy uit Job se krisis aflei dat Job self goddeloos en godloos lewe.  Dit sien ‘n mens in die feit dat hy regdeur in die enkelvoud van dié goddelose en godlose mens praat.  Die onvermydelike afleiding wat ‘n mens maak is dat hy dié beskrywing reglynig op Job van toepassing maak.  Job is die goddelose godlose, die een wat in opstand teen God is, trouens sonder God wil leef.  Job het in sy oë al hoe minder van ‘n toekoms en is verdoem tot ‘n allerverskriklike dood.

Dít is waarom God aan die einde vir Sofar saam met sy vriende aanspreek dat hulle nie reg oor Hom gepraat het nie.  Dit is nie soseer die woorde wat hulle ingespan het nie, maar die toepassing daarvan op grond van hulle verkeerde afleidings aangaande die verlies in Job se lewe.

‘n Perspektief wat ons tot versigtigheid moet maan om te vinnig op grond van ons beperkte insig absolute gevolgtrekkings oor ander mense te maak.

Oorsig oor die tweede gespreksrondte – Job 12-20

As ‘n mens terugkyk op die tweede rondte van gesprek raak dit duidelik dat die drie vriende van Job net sterker raak in hulle verdediging van die vergeldingsdogma wat hulle aanhang.  Job moes iets verkeerd gedoen het vanuit hulle perspektief.  Alle feite rondom die verlies van sy goed en sy gesondheid dui vir hulle daarop.

Dit raak egter ook al hoe duideliker dat hulle Job nie van sy diep soeke na ‘n regverdige behandeling deur God gaan beweeg nie.  Trouens, niks sal hom keer om te volhard in sy vasgryp aan God, selfs al kos dit hom sy lewe nie.  Hy wil liewer hê dat hulle moet stilbly, want hy wil met die Here praat (Job 12).

Dit is interessant om te sien hoe die lyding Job se insig in wie God is, begin verruim:

  • Job begin nadink oor vergifnis en die hoop op die ewige lewe (Job 13-14). Twee van die gawes wat ons as NT Christene uit die hand van God ontvang het, die omvang waarvan Job nog net kon droom.
  • Job bid dat die Here vir hom van ‘n vyand in ‘n vriend sal verander (Job 16). Iets wat eers vir ons in die Here Jesus Christus volledig waar geword het, maar tog uiteindelik ook Job se ervaring in sy tyd was.
  • Job soek eerder simpatieke vertroosting van sy vriende as hulle simplistiese veroordeling. Iets wat ons ter harte kan neem in ons eie verhouding met mense.  En, as sy vriende dan nie vir hom borg kan staan nie, dan vra hy dit ironies genoeg van God self (Job 17)!  Iets waarop ons ook kan staatmaak.
  • Midde in sy pyn en lyding gee Job daarby ‘n uitnemende getuienis gerig aan die adres van sy drie vriende: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25). Job verklaar hiermee nie nie net sy hoop vir sy eie persoonlike verlossing nie, maar sy hoop vir die hele aarde.  Die droom van God se totale verlossing wat steeds in Job se hart brand, is dat alles wat moontlik afbreuk kan doen aan God se plan met die mensdom, onder sy heerskappy geplaas sal word, en dat God sal triomfeer in die lewe van mense op aarde.

Daarteenoor staan die onverbiddelik eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie van sy drie vriende waarin God se genade geen rol speel nie:

  • Elifas hou vol dat Job se swaarkry en lyding bewys dat hy goddeloos is, gebaseer op sy eie ervaring (Job 15). Hy is selfs bang dat Job se woorde mense sonder eerbied vir God sal laat. Maar ‘n mens kom agter dat Elifas eintlik geen probleem het om sy eie woorde as dié van God te beskou nie! Elifas matig hom daarmee ‘n goddelike rol aan in Job se lewe, eerder as dat hy saam met Job die Here se aangesig soek.
  • Bildad bly brutaal in sy ontleding van die situasie en die uitkoms wat hy sien, gebaseer op die tradisie: “die onheil wag jou gretig in, omdat jy God nie erken nie” (Job 18). Teenspoed beteken vir hom God se afkeur en voorspoed sy goedkeuring. Dit is sy rigiede standpunt uit die tradisie wat hy ten alle koste gaan verdedig, kom wat wil.
  • Sofar se intellek bly vlymskerp in sy veroordeling: “Terwyl jy jou nog so vol eet, laat God sy woede oor jou losbreek” (Job 20)! Waar Job se oortuiginge oor God die verbeelding van ‘n verlossende toekoms van God vir skepsels en skepping begin oopmaak, bly Sofar by sy beperkende intellektuele argumentering oor die lot van die goddelose.  Die probleem met Sofar se argument is egter nie dat hy noodwendig verkeerd is oor die uiteinde van mense wat goddeloos of godloos lewe. Sofar se probleem is dat hy glad nie rekening hou met God se genade nie, en nog meer as dit, dat hy uit Job se krisis aflei dat Job self goddeloos en godloos lewe.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar