Skip to main content

Jeremia 29

Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie

Ons lees in hierdie hoofstuk van die twee briewe wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het.

  • Die eerste was na die leiers van die ballinge wat nog oor was in ballingskap, saam met die priesters en profete en die res van die volk wat saam met die jong koning Jojagin en sy ma, Negusta, weggevoer is. Ook die paleispersoneel, amptenare, ambagsmanne en bouers word in die aanhef van die brief genoem.
  • Die tweede brief was gerig aan Semaja, maar waarskynlik ook bedoel as kommunikasie met die ballinge.

Interessant genoeg is die eerste brief van Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur saam met twee gesante. Die een het waarskynlik in opdrag van Jeremia gegaan, Elasa. Die ander, Gemarja, in opdrag van koning Sedekia. Om die waarheid dit sê, dit kan selfs wees dat Sedekia self saam is Babel toe, soos ons uit Jer. 51:59 aflei.

Sedekia sou dus heeltemal bewus gewees het van die inhoud van Jeremia se boodskap aan die ballinge, hoewel hy self nie enige eksplisiete kommentaar gelewer het nie. Tot sy krediet het hy ook nie die brief probeer keer nie. Dit het hom egter nie van standpunt laat verander nie. Vgl. hierna sy vrugtelose worsteling met die wil van die Here in Jeremia 37-38. Ons lees nie direk wie die tweede brief aflewer nie.

Dit is ook duidelik dat daar ten minste twee briewe was. Semaja, die Negelamiet, wat in Babel was saam met die ballinge, het gereageer op Jeremia se eerste brief met sy eie brief aan die priester Sefanja (vgl. Jer. 29:24 vv.). Sefanja het vroeër saam met Pasgur opgetree teen Jeremia (Jer. 20), maar hanteer hom nou met ‘n bietjie meer deernis en lees die brief vir hom voor. Hy voer ook nie Semaja se opdrag om Jeremia in blokke te sit nie, iets waaraan hy wel vroeër deelgeneem het saam met Pasgur. Jeremia antwoord dan vir Semaja in ’n tweede brief wat deel is van sy kommunikasie aan die ballinge.

Ook belangrik: die “profeet Sedekia” wat hier genoem word in vers 20-21, is nie dieselfde persoon as “koning Sedekia” (onthou sy naam was eintlik Mattanja – 2 Kon. 24:17) nie, voorwaar iets wat ’n mens maklik deurmekaar kan maak! Die profeet Sedekia was die seun van Maäseja, terwyl koning Sedekia die seun was van koning Josia en sy vrou Gamutal (2 Kon. 23:31), ironies genoeg ook ’n dogter van ’n Jeremia, nie die profeet nie, maar ’n Jeremia uit die Kanaänitiese stad Libna (24:18). ’n Mens moet nogal kophou met dié name!

Teks en konteks

Jeremia 29:1-23 – Die brief aan die ballinge

Die eerste opdrag aan die ballinge word verwoord met dieselfde tipe belofte van seën wat aan die eerste mense in die tuin van Eeden gerig was (Gen. 1:28). Dit bevat ’n “implied promise of success” (Keown)! “Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.” ’n Mens hoor hier dieselfde tipe opdrag wat van die begin af die opdrag aan die mensdom is: bewoon, bewerk en bewaar.

Laasgenoemde word uitgespel in terme van die plek waar hy hulle nou die seën van die Here moet soek en beleef: “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek hulle in ballingskap weggevoer het.” Daaraan word boonop nou ’n opdrag tot intersessie gekoppel: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

Let op dat dié belofte van die Here gekoppel word aan ’n waarskuwing om nie te luister na profete en waarsêers wat hulle met drome en profesieë probeer mislei dat die ballingskap gou verby sal wees, en daarom hulle in opposisie teen die Galdeërs beide in Babel as in Jerusalem probeer opsweep (vgl. veral vers 28). Die Here sê kortweg dat Hy hulle nie gestuur het en nie met hulle gepraat het nie.

Die tweede opdrag aan die ballinge word verwoord met ’n belofte van bevryding dat die ballingskap sewentig jaar sal duur waarna hulle na Jerusalem sal kan terugkeer. Aan die belofte van bevryding word die baie bekende woorde gekoppel: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teëspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”

Daaraan word ’n opdrag gekoppel, wat die Here aanvaar nagekom sal word, dat die volk tot God sal bid en dat Hy hulle sal verhoor. En onthou, dit is dié belofte van Jeremia wat Daniël geïnspireer het om – toe die sewentig jaar van ballingskap amper verby is – die Here te smeek om die volk se ballingskap te beëindig en die volk terug te laat trek na hulle land toe. Daniël was amper negentig jaar oud teen hierdie tyd (Dan. 9): “Julle sal vra na My wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit.”

Hierdie belofte van ’n geestelike omkeer in hulle verhouding met die Here sal in die volgende twee hoofstukke opgevolg word met ’n nog helderder verwoording daarvan (Jer. 31:31-34) wat een van die fondamente vir die NT belofte van die nuwe verbond sou vorm.

As deel van die kommunikasie vertoef Jeremia op die moontlike besware wat sommige van die ballinge sou kon opper in Babel teen hierdie woord van die Here. Hulle sou kon dink die toekoms lê in Jerusalem. Die Here sluit die moontlikheid uit met ’n oordeel oor die huidige koning van Juda, Sedekia, wat die Here soos “oopgebarste vye” sal maak, “wat so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie.” Onthou die beeld van Jeremia 24 oor die ballinge as die goeie vye!

Die ballinge word ook liggies op die vingers getik – “Julle ballinge het ook nie geluister nie” – maar die eintlike verdere oordeel gereserveer vir twee van die opstokers teen die woord van die Here deur die bediening van Jeremia, Agab en Sedekia wat sonder God se opdrag as profete daar optree. Hulle sou die volk kon verlei dat die ballingskap kort sal wees. Die Here verwerp hulle woorde, ook omdat hulle lewenstyl (owerspel) hulle profesieë (vals) geëggo het.

Ek weet dit, Ek is getuie daarvan”!

Jeremia 29:24-32 – Die brief aan Semaja

Semaja word die Negelamiet genoem, ’n woord wat moontlik met “dromer” in verband gebring kan word. Die Here spreek hom skerp aan dat hy selfstandig opgetree het in Babel en namens die Here vals bevele gegee het aan die priester Sefanja in Jerusalem om teen Jeremia op te tree.

Sefanja voer gelukkig nie die opdrag van Semaja uit nie, en gee vir Jeremia kans om ’n woord van die Here in ’n brief aan Semaja te formuleer waarin hy vir sy leuens en opstand teen die Here gestraf word: “Hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie.”

Boodskap en betekenis

Die dilemma van die ballingskap word hier op besonder treffende manier geskets. Hoe onderskei ’n mens die wil van die Here in ’n tyd van ontwrigting?

  • Daar is die gevaar van selfaangestelde “dromers” – die ballingskap sal kort wees: Semaja.
  • Daar is die versoeking van magsmisbruik – sit die “malles” in blokke, d.w.s. dié mense wat met die heersende diskoers verskil: Sefanja. Gelukkig sê hy nee daarvoor!

Die ware woord van die Here word hier gevind in die aanvaarding van die ontwrigting. Dit sluit die aanvaarding van skuld vir die ontwrigting in. Hulle is immers in ballingskap vanweë hulle ongehoorsaamheid aan die boodskap van die Here. Sonder dié belangrike instemming kan nuwe lewe nie grondvat nie.

Waar dié aanvaarding posvat in die psige van die geloofsgemeenskap, open dit egter die weg vir die hoor van die belofte van die Here beide:

  • in die belofte van seën wat gesoek moet word in die ruimte wat die Here gee, sowel as
  • in die biddende verwagting wat gebid moet word, dat die belofte van bevryding en bevestiging terug in hulle eie land deur Hom bewaarheid sal word.

Elkeen van ons sal dié boodskap op verskillende wyses in ons eie lewe en dié van ons geloofsgemeenskappe kan toepas.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.