Skip to main content

Handelinge 15:36-16:5

‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars

Handelinge 15:36-16:5 wys hoe konflik tussen Paulus en Barnabas oor wie as die opkomende geslag van bedienaars ingesluit moet word in die verdere uitbreiding van die evangelie hulle paaie uitmekaar laat gaan. Barnabas kies om Johannes Markus verder te mentor en vertrek na Ciprus. Paulus kies vir Timoteus om deur hom en Silas op hulle tweede sendingreis wat uiteindelik Europa insluit, gementor te word en vertrek oor land na die gemeentes wat op sy eerste sendingreis in Asië gestig is.

Dit is egter ook goed om te sien dat die gemeente van Antiogië nie kant kies in hierdie konflik nie, en steeds albei apostels met die gemeente se seën uitstuur. Barnabas sou op die koop toe uiteindelik vir Paulus en Johannes Markus met mekaar versoen soos ons onder andere in Kolossense 4 sal sien.

Teks en konteks

‘n Paar dae na Judas na Jerusalem toe vertrek het, het Paulus besluit om die gelowiges in die gemeentes wat op hulle eerste sendingreis tot bekering gekom het, te gaan ondersteun. Barnabas wou egter vir Johannes Markus, saamneem, wat tot groot konflik tussen hom en Paulus gelei het, want Paulus het nie gedink dat dit reg is om iemand wat hulle in die steek gelaat het en nie deel was van die werk in Asië saam te neem nie.

Die meningsverskil was so skerp dat hulle uitmekaar gegaan het elkeen op sy eie sendingreis, en elkeen met sy eie doelwit van ondersteuning, ook ten opsigte van die jongmense wat hulle gementor het as die volgende geslag van bedienaars van die evangelie.

Let op dat die gemeente nie kant gekies het nie, maar hulle eenvoudig aan die genade van die Here opgedra het.

Barnabas het dus vir Markus saamgeneem en na Ciprus gevaar, die plek waar hy groot geword het, en grond besit het. Dit was ook die eerste eiland wat hy en Paulus op die eerste sendingreis besoek het.

Barnabas se naam was natuurlik eintlik Josef (Hand. 4:36), maar sy bynaam – Barnabas wat beteken die Bemoediger – het sy hele bediening gestempel. Dit word geïllustreer deurdat hy dit regkry om Johannes Markus só te begelei dat hy uiteindelik nie net met Paulus versoen word nie (Kol. 4:10; 2 Tim. 4:11; Filemon 24), maar ook die evangelie van Markus kon skrywe (volgens die tradisie het hy die woorde van Petrus neergepen, met wie hy ‘n goeie verhouding gehad het; vgl. 1 Pet. 5:13).

Dit is ook duidelik dat Barnabas en Paulus versoen het, soos ons uit Paulus se waarderende woorde oor hom in Paulus se eerste brief aan die Korintiërs kan aflei, hoewel die detail daarvan nie vir ons vertel word nie (1 Kor. 9:6).

Paulus het vir Silas (Silvanus in Latyn) – wat so pas saam met hulle die besluite van die gemeente van Jerusalem aan die gemeente in Antiogië kom oordra het – gekies en vertrek deur Sirië en Silisië en die gemeentes daar versterk.

Hy het ook Derbe besoek – hy reis natuurlik per land en kom daarom eers by Derbe aan – en toe na Listra waar hy tevore gestenig is. Daar het hy ‘n dissipel met die naam Timoteus, die seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse pa, gewerf vir sy verdere sendingreise, want Timoteus was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het.

Paulus laat daarom vir Timoteus besny ter wille van die Jode wat hy daar saam met hulle sou bedien, omdat almal geweet het dat sy vader ‘n Griek was, en hulle sou kon weerstand bied as hy in die sinagoges en die Joodse gemeenskap sou optree.

Paulus tree hier anders op met Timoteus se besnydenis as toe hy Titus se besnydenis geweier het (Gal 2:3). Die rede is dat in Titus se geval het die mense die besnydenis geëis as iets wat noodsaaklik vir redding was, en Paulus wou dié gedagte in die kiem smoor. In Timoteus se geval was die besnydenis ‘n manier om toegang tot die sinagoges en die Joodse gemeenskap te kry.

Timoteus was waarskynlik hier nog ‘n tiener, want in sy latere brief aan Timoteus praat hy nog steeds van hom as ‘n jongman (1 Tim. 4:12).

Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges – uit die heidene en die Jodedom – oorgedra om dit te onderhou.

Dit het nie net die gemeentes in die geloof versterk nie, maar hulle het van dag tot dag in getal toegeneem soos die Here die bediening geseën het.

Boodskap en betekenis

Die besluit oor die besnydenis in ongeveer 49 n.C. het dus verreikende gevolge vir die ontwikkeling van die Christelike kerk gehad.

Aan die een kant het dit die kernwaarhede van die Christelike godsdiens bevestig, dat dit oor Jesus, die Seun van God, en Sy verlossende boodskap, wat vir die wêreld bedoel is, gaan, en dat alles daaraan gemeet moet word.

Aan die ander kant het die besluit oor die besnydenis ‘n baie duidelike breuk gebring met die Joodse godsdiens veral in sy wettiese karakter (of wettiese interpretasie daarvan). In Timoteus se geval kon hy nog die Joodse gemeenskap bereik. In Titus se geval was dit baie moeiliker.

Dit is ook opmerklik hoe beide Paulus en Barnabas fokus op die opkomende geslag van bedienaars, terwyl hulle voortgaan om self die evangelie te verkondig, ‘n fokus wat ons gerus ook ter harte kan neem in ons eie bedienings.

‘n Laaste woord oor Barnabas

Waar eindig Barnabas se verhaal, want ons hoor nie verder van hom in Handelinge nie? Daar is ’n tradisie wat sê dat hy op die eiland Ciprus, naby die stad Salamis, deur Jode gestenig is. ’n Graf wat in 488 n.C. daar ontdek is, word met hom verbind. Dit beteken dat hy soos talle vroeë Christene en waarskynlik al die ander apostels behalwe Johannes, as ’n martelaar sterf vir Christus. Daar is ook ’n tradisie dat hy die brief aan die Hebreërs geskryf het, hoewel daar ook ander moontlikhede is.

In ’n sekere sin leef sy verhaal voort oral waar gelowiges lewenspraktyke van begeleiding, bemoediging, en vrygewigheid volg.

Mag Barnabas se verhaal ook in ons gemeentes voortleef. Barnabas se lewensverhaal was dié van ’n gewone mens wat besondere dinge vir die Here gedoen het. Deur die Here se genade kan elkeen van ons só ’n lewensverloop hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!