Skip to main content

Handelinge 15:36-16:5

‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars

Handelinge 15:36-16:5 wys hoe konflik tussen Paulus en Barnabas oor wie as die opkomende geslag van bedienaars ingesluit moet word in die verdere uitbreiding van die evangelie hulle paaie uitmekaar laat gaan. Barnabas kies om Johannes Markus verder te mentor en vertrek na Ciprus. Paulus kies vir Timoteus om deur hom en Silas op hulle tweede sendingreis wat uiteindelik Europa insluit, gementor te word en vertrek oor land na die gemeentes wat op sy eerste sendingreis in Asië gestig is.

Dit is egter ook goed om te sien dat die gemeente van Antiogië nie kant kies in hierdie konflik nie, en steeds albei apostels met die gemeente se seën uitstuur. Barnabas sou op die koop toe uiteindelik vir Paulus en Johannes Markus met mekaar versoen soos ons onder andere in Kolossense 4 sal sien.

Teks en konteks

‘n Paar dae na Judas na Jerusalem toe vertrek het, het Paulus besluit om die gelowiges in die gemeentes wat op hulle eerste sendingreis tot bekering gekom het, te gaan ondersteun. Barnabas wou egter vir Johannes Markus, saamneem, wat tot groot konflik tussen hom en Paulus gelei het, want Paulus het nie gedink dat dit reg is om iemand wat hulle in die steek gelaat het en nie deel was van die werk in Asië saam te neem nie.

Die meningsverskil was so skerp dat hulle uitmekaar gegaan het elkeen op sy eie sendingreis, en elkeen met sy eie doelwit van ondersteuning, ook ten opsigte van die jongmense wat hulle gementor het as die volgende geslag van bedienaars van die evangelie.

Let op dat die gemeente nie kant gekies het nie, maar hulle eenvoudig aan die genade van die Here opgedra het.

Barnabas het dus vir Markus saamgeneem en na Ciprus gevaar, die plek waar hy groot geword het, en grond besit het. Dit was ook die eerste eiland wat hy en Paulus op die eerste sendingreis besoek het.

Barnabas se naam was natuurlik eintlik Josef (Hand. 4:36), maar sy bynaam – Barnabas wat beteken die Bemoediger – het sy hele bediening gestempel. Dit word geïllustreer deurdat hy dit regkry om Johannes Markus só te begelei dat hy uiteindelik nie net met Paulus versoen word nie (Kol. 4:10; 2 Tim. 4:11; Filemon 24), maar ook die evangelie van Markus kon skrywe (volgens die tradisie het hy die woorde van Petrus neergepen, met wie hy ‘n goeie verhouding gehad het; vgl. 1 Pet. 5:13).

Dit is ook duidelik dat Barnabas en Paulus versoen het, soos ons uit Paulus se waarderende woorde oor hom in Paulus se eerste brief aan die Korintiërs kan aflei, hoewel die detail daarvan nie vir ons vertel word nie (1 Kor. 9:6).

Paulus het vir Silas (Silvanus in Latyn) – wat so pas saam met hulle die besluite van die gemeente van Jerusalem aan die gemeente in Antiogië kom oordra het – gekies en vertrek deur Sirië en Silisië en die gemeentes daar versterk.

Hy het ook Derbe besoek – hy reis natuurlik per land en kom daarom eers by Derbe aan – en toe na Listra waar hy tevore gestenig is. Daar het hy ‘n dissipel met die naam Timoteus, die seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse pa, gewerf vir sy verdere sendingreise, want Timoteus was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het.

Paulus laat daarom vir Timoteus besny ter wille van die Jode wat hy daar saam met hulle sou bedien, omdat almal geweet het dat sy vader ‘n Griek was, en hulle sou kon weerstand bied as hy in die sinagoges en die Joodse gemeenskap sou optree.

Paulus tree hier anders op met Timoteus se besnydenis as toe hy Titus se besnydenis geweier het (Gal 2:3). Die rede is dat in Titus se geval het die mense die besnydenis geëis as iets wat noodsaaklik vir redding was, en Paulus wou dié gedagte in die kiem smoor. In Timoteus se geval was die besnydenis ‘n manier om toegang tot die sinagoges en die Joodse gemeenskap te kry.

Timoteus was waarskynlik hier nog ‘n tiener, want in sy latere brief aan Timoteus praat hy nog steeds van hom as ‘n jongman (1 Tim. 4:12).

Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges – uit die heidene en die Jodedom – oorgedra om dit te onderhou.

Dit het nie net die gemeentes in die geloof versterk nie, maar hulle het van dag tot dag in getal toegeneem soos die Here die bediening geseën het.

Boodskap en betekenis

Die besluit oor die besnydenis in ongeveer 49 n.C. het dus verreikende gevolge vir die ontwikkeling van die Christelike kerk gehad.

Aan die een kant het dit die kernwaarhede van die Christelike godsdiens bevestig, dat dit oor Jesus, die Seun van God, en Sy verlossende boodskap, wat vir die wêreld bedoel is, gaan, en dat alles daaraan gemeet moet word.

Aan die ander kant het die besluit oor die besnydenis ‘n baie duidelike breuk gebring met die Joodse godsdiens veral in sy wettiese karakter (of wettiese interpretasie daarvan). In Timoteus se geval kon hy nog die Joodse gemeenskap bereik. In Titus se geval was dit baie moeiliker.

Dit is ook opmerklik hoe beide Paulus en Barnabas fokus op die opkomende geslag van bedienaars, terwyl hulle voortgaan om self die evangelie te verkondig, ‘n fokus wat ons gerus ook ter harte kan neem in ons eie bedienings.

‘n Laaste woord oor Barnabas

Waar eindig Barnabas se verhaal, want ons hoor nie verder van hom in Handelinge nie? Daar is ’n tradisie wat sê dat hy op die eiland Ciprus, naby die stad Salamis, deur Jode gestenig is. ’n Graf wat in 488 n.C. daar ontdek is, word met hom verbind. Dit beteken dat hy soos talle vroeë Christene en waarskynlik al die ander apostels behalwe Johannes, as ’n martelaar sterf vir Christus. Daar is ook ’n tradisie dat hy die brief aan die Hebreërs geskryf het, hoewel daar ook ander moontlikhede is.

In ’n sekere sin leef sy verhaal voort oral waar gelowiges lewenspraktyke van begeleiding, bemoediging, en vrygewigheid volg.

Mag Barnabas se verhaal ook in ons gemeentes voortleef. Barnabas se lewensverhaal was dié van ’n gewone mens wat besondere dinge vir die Here gedoen het. Deur die Here se genade kan elkeen van ons só ’n lewensverloop hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda