Skip to main content

2 Samuel 4

Die doel heilig nie die middele nie

Hoewel die dood van Is-Boset aan die hand van twee van sy leiers tot die verdere vestiging van Dawid se troon bydra, is dit duidelik dat Dawid onskuldig is daaraan. Hy kies steeds om nie self sy hand aan sy teenstanders in die volk te slaan nie, en straf daarom die moordenaars soos hy dit ook gedoen het met die Amelekiet in hoofstuk 1 wat Saul om die lewe gebring het.

Teks en konteks

Is-Boset was alreeds aan sy eie genade oorgelaat toe Abner sy lojaliteit na Dawid geskuif het, maar toe hy boonop hoor dat Abner gesterf het in Hebron, het hy moed verloor. Trouens, die hele Israel was angsbevange en het gewonder wat nou gaan gebeur.

Twee leiers, die broers Regab en Baäna, van Saul se roofbendes besluit om hulle lojaliteit ook na Dawid te skuif en vermoor Is-Boset op verraderlike manier. Hulle was deel van die Hewiete wat hulle by Benjamin geskaar het (Jos 9:17 – hulle het saam met die Gibeoniete met Josua op bedrieglike wyse ‘n verbond gesluit), maar was steeds as vreemdelinge gereken. Hulle wou dus in Dawid se goeie boekies kom met hierdie grudaad.

Tussendeur word ook van Jonatan se seun, Mefiboset, melding gemaak wat met sy oupa en pa se dood deur sy oppasser laat val en kreupel geword het. Die feit van sy gebrek onderstreep waarskynlik dat hy nie ‘n gevaar vir die troon was nie, en boonop natuurlik op Dawid se guns kon staatmaak weens die verbond wat Dawid met Jonatan gesluit het. Dawid neem hom later onder sy sorg (2 Sam 19:24-30).

Hulle misgis hulle egter met Dawid wat hulle ter dood veroordeel omdat hulle op ‘n goddelose manier ‘n regverdige wat hulle nie leed aangedoen het nie, vermoor het. Hy bewys ‘n laaste eer aan Is-Boset deur sy kop by Abner se graf by Hebron te sit.

Boodskap en betekenis

Daarmee gee Dawid die duidelike boodskap: die doel heilig nie die middele nie. ‘n Mens kan nie moord pleeg, omdat jy politieke munt wil slaan uit ‘n situasie nie.

Dawid kies dus om in hierdie gespanne tydperk waarin sy koningskap nou deur almal erken en aanvaar moet word, nie self onregverdig op te tree nie, en ook op te tree teen mense wat dit namens hom wil doen.

Dawid bly steeds op God se soewereine keuse om hom koning te maak, vertrou. Hy weier om die wet te oortree om sy wil op ander af te dwing. Hy stel dus vir ons ‘n voorbeeld dat die doel nooit die middele kan heilig nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar