Skip to main content

1 Korintiërs 12:31b-13:13

Die liefde is onmisbaar in alles

Hierdie hoofstuk 13 van Paulus is só ’n pragtige tekening van die hart van die Christelike geloof in die vorm van ’n gedig. Dit besing eerstens die onmisbaarheid van die liefde in die gebruik van die gawes in ’n gemeente (1 Kor. 13:1-3), dan die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente (1 Kor. 13:4-7), en dan die duursaamheid van die liefde bo alles anders (1 Kor. 13:8-13). Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.

Teks en konteks

Die liefde is noodsaaklik en onmisbaar – 1 Korintiërs 3:1-3

Paulus besing eerstens die noodsaak en onmisbaarheid van die liefde. Sonder liefde maak niks regtig saak nie. Al praat hy die tale van mense en engele, maar hy het nie liefde nie, dan het hy ‘n galmende ghong of ‘n weerklinkende simbaal geword.

Dieselfde geld profesie, openbarings, kennis en geloof. Selfs die opoffering van besittings en sy eie lewe baat niks as dit nie in en uit liefde is nie.

Paulus relativeer dus regdeur en eksplisiet die gawes van hoofstuk 12 en maak dit ondergeskik aan die liefde. Die liefde is onmisbaar in die beoefening van die gawes en daarom onmisbaar.

Die gawes is ondergeskik aan die liefde in al sy rykdom – 1 Korintiërs 13:4-7

Dan besing Paulus die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente. In taal wat herinner aan wat hy in sy vorige brief, dié aan die Galasiërs, geskryf het oor die vrug van die Gees, spel Paulus die kenmerke van die liefde uit. Altesaam vyftien kenmerke.

Paulus begin met twee positiewe eienskappe van die liefde:

  1. Liefde bly geduldig – ‘n Mens kan dit ook vertaal met “lankmoedig”. Liefde is om lank moed te hou met iemand.
  2. Liefde gee om – dit kan ook met “vriendelik” of (in Engels) “kind” vertaal word. Liefde hanteer ander met ‘n sagte hand en hart.

Hy volg dit op met agt negatiewe eienskappe van wat die liefde nie is nie:

  1. Liefde is nie jaloers nie– probeer nie inpalm wat aan ander behoort nie.
  2. Liefde spog nie– loop nie te koop met goeie hoedanighede nie.
  3. Liefde is nie verwaand nie– dink nie hulle is beter as ander net omdat hulle ‘n besondere gawe het nie.
  4. Liefde tree nie onbehoorlik op nie– Onbehoorlik (aschēmoneō) verwys na die skandelike seksuele dade waarvan hy reeds in hierdie brief geskryf het, maar nog later op sal uitbrei in sy brief aan die Romeine hierna (Rom 1:27).
  5. Liefde jaag nie eiebelang na nie– dit is só ‘n versoeking om jou eiebelang vóór ander s’n te stel!
  6. Liefde is nie liggeraak nie– ‘n mens kan ook vertaal, “raak nie kwaad nie”.
  7. Liefde hou nie boek van die kwaad nie– koester nie wraakgedagtes nie, maar is bereid om te vergewe.
  8. Liefde is nie bly oor onreg nie– die woord adikia word hier gebruik. ‘n Mens kan ook vertaal (in Engels) “wrongdoing” of “ongeregtigheid”. Paulus sal hierna aan die Romeine skrywe dat dit juis hierdie adikia van die mensdom is wat God se toorn oor mense laat losbars (Rom 1:18).

Dan sluit Paulus af met vyf positiewe aspekte van die liefde wat hy teenoor die vorige agt negatiewe eienskappe stel:

  1. Die liefde is saam bly oor die waarheid– die liefde “rejoice” in die waarheid, die waarheid van God in Jesus, die waarheid van God in die Woord van God, die waarheid wat die Gees ons leer. Soos Paulus later aan die Efesiërs sal skryf: “ons sal in liefde by die waarheid bly.” (Ef 4:15). Die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar. Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.
  2. Die liefde bedek alles– Dit is ’n interessante aspek van die liefde, wat, hoewel dit nie bly is oor die onreg nie, dit tog in liefde bereid is om “alles te bedek”, dws om in alle omstandighede te “ endure” (Louw-Nida) en te “protect” (NIV), wat ’n mens herinner aan Spreuke 10:12: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee.” Miskien is die beste manier om dit te verstaan dat die liefde nie ou wonde wil oopkrap nie, bereid is om ’n tweede myl te loop, bereid is om 70×7 keer te vergewe, bereid is om te verdra en vorentoe te kyk.

Daarby is die liefde bereid om onbevange ’n pad met mense te loop, en nie in sinisme te verval nie en mense te wantrou op grond van ervarings uit die verlede. Dit is waarom Paulus verder in vers 7 sê:

  1. Die liefde glo alles – d.w.s bly glo in die Here Jesus in alle omstandighede.
  2. Die liefde hoop alles – d.w.s. bly om die Here te vertrou in alle omstandighede.
  3. Die liefde verduur alles – d.w.s. bly volhard in alle omstandighede.

Die gawes sal verdwyn, maar die liefde sal vir altyd bly – 1 Korintiërs 13:8-13

Dan besing Paulus die onmisbaarheid van die liefde in alles (1 Kor. 13:8-13). Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.

Om die waarheid te sê, sê Paulus, gawes sal verdwyn, terwyl die liefde sal voortduur. Dit geld natuurlik alle gawes. Anders gestel, die gawes kom net tot hulle reg binne ’n konteks van liefde.

Want, hierdie tipe liefde is eienskappe van God (bv. Eks 34:6 – lankmoedig) wat Hy deur die Gees aan ons skenk (Gal 5:22). Daarom maak die liefde dat ’n mens die gawes gebruik terwyl jy geduldig is met mense, vriendelik is en nie afgunstig nie, en verseker nie grootpraterig en verwaand daaroor nie. Anders bring die gawes verdeeldheid en hoogmoed. Liefde leer jou verder om nie onwelvoeglik op te tree daarmee nie, nie jou eie belang binne die liggaam te soek nie en ook nie liggeraak te wees oor wat ander doen nie. Daarom hou die liefde ook nie boek van die kwaad nie.

Maar die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar. Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.

Liefde is ook meer duursaam as die gawes; profesie en tale sal verdwyn, en kennis sal uitgedien raak, wanneer ons eendag met God se oë na alles kan kyk, maar die liefde sal bly.

Vers 11 kontrasteer die onvolwasse gebruik van die gawes teenoor die volwasse gebruik daarvan. Vers 12 kontrasteer ons gebrekkige verstaan van dinge teenoor die volle kennis wat eendag ons deel sal wees.

Wat hom uitbring by sy belangrike slot, dat al wat saak maak, is geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is.

Boodskap en betekenis

Alles spruit voort uit liefde uit. Maar, belangrik, uit die liefde van God, die liefde wat Hy vir ons het. Dit is die basis vir ons geloof. Dit is die basis vir ons hoop. Dit is die basis vir ons etiek.

Die vraag is dus, hoe raak 1 Korintiërs 13 ‘n werklikheid in my lewe?

Die antwoord is om te fokus op God en sy liefde vir jou. Dit sal jou geloof en vertroue laat groei. Dit sal sorg dat jy elke gawe uit sy hand as ‘n geskenk sal ontvang. Dat die dankbaarheid in jou sal groei. Dit sal sorg dat jy bly is oor die waarheid. Dat jy alles wat in stryd is met die waarheid sal verwerp.

Dit sal jou diensbaarheid laat groei. Jou gawes in perspektief plaas. Sodat jy besef dat dit nie oor jou gaan nie, maar oor die mense rondom jou vir wie God iets wil beteken. En jy jou besittings, vermoëns, en gawes in diens van God tot voordeel van mense sal aanwend.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar