Skip to main content

Jesaja 47-48

God bepaal die geskiedenis, nie die nasies of toeval nie

Jesaja 47-48 vorm ‘n eenheid met die boodskap dat Jahwe beplan om sy volk, die ballinge in Babilonië, terug te bring huis toe. Babilon se hoogbloei is verby. Hulle sal verniet om hulp soek by hulle gode, en handelsvennote, want die Here het besluit om hulle te straf en sy volk genade te bewys. Dit is Hy wat die verloop van die geskiedenis bepaal, en nie die nasies, hulle gode of ‘n onpersoonlike toeval nie.

Teks en konteks

Jesaja 47

In hoofstuk 47 kondig God vir die tweede keer die val van Babilonië aan. Hulle word hier ook direk die Galdeërs genoem. Galdië was die naam van ‘n streek in die weste van Mesopotamië wat die Nieu-Babiloniese ryk gevorm het, met Nebukadnesar die bekendste koning in die laat 7de en vroeg 6de eeu vC.

Die profesie begin met ‘n beskrywing van die Galdeërs se status wat van bedorwe (fyn jong vrou [betulâ] wat altyd haar sin kry) na bediende (moet meel maal) verander. Trouens, met grusame beelde van haar ontbloting word haar beskaming voor die nasies van heersers tot onderdane beskryf.

Die feit dat die Here toornig oor sy volk was wat in hulle ballingskap geëindig het, moes die Galdeërs nie verlei het om die ballinge sonder deernis te hanteer nie. Selfs ou mense moes dit onder hulle wreedheid ontgeld.

Hulle het egter nie rekening gehou met die feit dat alle dade gevolge het nie en gedink dat hulle doodgewoon hulle mag kan misbruik sonder dat hulle daarvoor rekenskap sou moes gee nie.

Hoe verskriklik dat ‘n mens jouself só kan verhef: “ Ek is die een, en niemand anders nie!” Dat jy op jou “boosheid vertrou!”

Maar, onheil gaan hulle niksvermoedend oorval – iets wat in Daniël se tyd met Belsasar, opvolger van Nebukadnesar gebeur (Dan 5) – en hulle towerspreuke en sterrekykers (maandelikse horoskope was toe al gewild!) gaan hulle nie van die toorn van die Here red nie.

“Hulle kan hulleself nie red nie!” Wat nog te sê die handelsvennote! Al die nasies wat oor jare met hulle sake gedoen het, sal hulle verlaat: “Elkeen van hulle dwaal af, sy eie koers in; daar is niemand wat jou verlos nie.” (Vgl Openb. 18 waar dieselfde gebeur aan die einde van die tyd met die koninkryke van die wêreld)

Jesaja 48

Die klem val in hoofstuk 48 op die hardkoppigheid van Israel wat sy verlossing nie sonder meer wil aanvaar nie (Jes 48:1-19; vgl ook Jes 46:3-13). God se werk deur profesieë word hier verklaar as ’n manier om ’n hardkoppige volk te oortuig dat die ontplooiing van die geskiedenis nie maar toevallig is nie; sodat hulle later kan sien, maar wat nou gebeur, is al die tyd vroeër alreeds aangekondig.

Let op hoe God Homself en wat Hy doen in die geskiedenis TEENOOR die interpretasie van toeval opstel. God, en nie toeval nie, is besig in die geskiedenis. Hy alleen is God. Dié perspektief is ook belangrik vir die debat oor evolusie – God en nie toeval nie, is die aktiewe agent in die proses, soos ons in Jes 48:13 bv sien: “Dit is ook my hand wat die aarde gegrondves het, my regterhand wat die hemel oopgespan het.”

Die Here herinner hulle daaraan dat ballingskap een van sy maniere van onderrig was, maar dat dit nie die enigste is nie. Hulle sou in die eerste plek hulle ore kon oopmaak en luister na sy wil vir hulle lewe.

God pleit dus by sy volk om te vlug uit Babilon, terug na die Beloofde Land (Jes 48:20-22). Dit moet dien as ’n stuk getuienis wat die hele aarde laat uitbars in lof: “Ter wille van my Naam hou Ek my toorn terug, ter wille van die lof wat My toekom, bedwing Ek Myself – tot jou voordeel, en om jou nie uit te roei nie.”

Soos met die eerste Uittog uit Egipte deur die woestyn waar God vir hulle water gegee het, sal Hy nou weer vir hulle sorg met die tweede Uittog uit Babilon.

Hy roep hulle dus om nader te kom na Hom toe, want Hy is daar vir hulle. Hy is die Here hulle God, wat hulle leer tot hulle voordeel, wat hulle lei op die pad wat hulle moet loop.

As hulle maar net ag sou slaan op sy gebooie, sou hulle vrede wees soos ‘n rivier, hulle geregtigheid soos die golwe van die see. Hulle nageslag sal soos die sand wees wat nie getel kan word nie.

Daarom roep Hy hulle onder die Galdeërs uit om Hom weer in hulle eie land te kom dien.

Boodskap en betekenis

Ek dink ons kan vandag aan baie nasies (en mense) dink wat op dieselfde manier as die Galdeërs hulleself oor ander verhef en op hulle “boosheid vertrou.” Maar, ons kan terselfdertyd moed skep uit die feit dat dade gevolge het, en dat al draai die wiele van geregtigheid stadig, die Here ernstig is daaroor dat Hy uiteindelik alles reg sal stel.

In die Nuwe Testament tref dieselfde lot Babilon, die simbool vir die bose mensdom (en die hoofstad van die tyd, Rome) se opstand teen God (Openb 16:19; 17:5; 18:10, 21). Net soos die Here hier belowe om die Galdeërs te straf, só belowe Hy dit aan die einde van die huidige tydsgewrig, waarna Hy sy volk in die nuwe hemel en aarde sal vestig en versorg vir ewig en altyd.

Dit bly ook vir my insiggewend hoe die Here verwag dat daar medelye sal wees met dié wat jy oorwin, selfs al word jy deur die Here aangestel om te heers (Jes 47:6). Een van die redes daarvoor – God se deernis is die belangrikste rede – is dat regerings moet kennis neem dat hulle net vir ’n tyd bestaan en dat dit beteken hulle moet hulle voorberei op hoe die verhouding sal wees met hulle ondergeskiktes wanneer hulle nie meer die mag in eie hand het nie.

Dit is egter moeilik om te doen, veral as jy dink jy is die kat se snorbaard, by wyse van spreke, en in hoogmoed jou aanstel oor dié wat jou minderes is. Juis dan is jou val egter naby.

Die hoop in die gedeelte is dat hierdie roepstem van God na alle mense uitgaan, om die genade aan te gryp wat Hy aanbied, want vir almal wat die kans aangryp wat God gee, sal Hy sy toorn afwend en Homself “bedwing” tot hulle voordeel: “om hulle nie uit te roei nie.”

‘n Gedagte wat Paulus in sy Romeine brief in hoofstuk 1-3 uitspel vir alle mense: “en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Rom 3:24)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar