Skip to main content

Psalm 66

God se dade moet vir almal vertel word

Hierdie Psalm kan enige plek pas en word nie met Dawid verbind nie, maar word omring deur ander Psalms van Dawid, daarom hanteer ek dit hier. Die Psalmis begin met ‘n oproep vir die hele aarde om God te loof en te aanbid – met die trek deur die Rooi See-oorgang as uitstaande voorbeeld van wat God kan doen. Hy beweeg dan na sy persoonlike danksegging, en verklaar sy voorneme om sy geloftes na te kom en offers te bring. Die Psalmis nooi ander uit om self die Here se goedheid te beproef – “Kom luister, alle dienaars van God… skaars het ek geroep… of die Here het geluister” (vers 16-19) – en sluit af deur God te dank vir sy troue liefde (vers 20).

Teks en konteks

  1. Die eerste kenmerk van dié Psalm (outeur onbekend) wat my opval, is die feit dat die eerste deel van die Psalm (vers 1-7) in die meervoud geskryf is – ons – en die tweede deel van die Psalm (vers 8-20) in die enkelvoudek. Die Psalm was dus waarskynlik bedoel om in die liturgie gebruik te word om beide die geloofsgemeenskap as ’n individu (dit kon ook die koning gewees het) kans te gee om God te prys vir sy groot dade. Dit is dus ’n soort danksegging liturgie.

Dit getuig van ’n wisselwerking tussen verhale van die gemeenskap en dié van ’n lid van daardie gemeenskap, wat ons ’n goeie voorbeeld gee van die ideaal wat ons gerus in ons eredienste na kan streef.  Die lof van die gemeenskap en die lof van die individu hoort saam in die liturgie.  Dit komplimenteer mekaar.

  1. Die tweede kenmerk van dié Psalm is die feit dat die groot dade van die Here, beide in die geloofsgemeenskap as in die Psalmis se persoonlike lewe, bedoel is om vir almal vertel te word: “Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor van sy magtige dade onder die mense.” (vers 5) Ook: “Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het.” (vers 16). God se wonders in die OT, soos Jesus se wonders in die NT, was nooit bedoel om net asemrowend te wees nie, maar mense van God se teenwoordigheid en betrokkenheid in die lewe te oortuig.

Daarom word van die wonders as tekens gepraat, soos bv. duidelik in die Johannes evangelie uitgespel is. En dít is ook die rede waarom die dade aan die nasies bekend gemaak moet word, sodat hulle ook onder die indruk van God se betroubaarheid en betrokkenheid in die lewe oortuig kan word.

  1. Die derde kenmerk van dié Psalm is die wye verskeidenheid van reaksies wat gevra word van almal wat van God se groot dade hoor: juig (vers 1), sing (vers 2), gee Hom eer (vers 2), bely voor God (vers 3), kom hoor (vers 5), prys ( vers 8 – alle volke!), betaal geloftes (vers 13 – dit was brandoffers [die hele offer is verbrand, die persoon wat offer het nie iets daarvan terug gekry soos dit die geval was met van die ander offers nie]), kom luister (vers 16). Daar is nie net een manier waarop God erken word nie, maar baie. En dié erkenning hou ook verband met die situasie waarbinne die ervaring van en met God plaasgevind het – bv. geloftes pas by die een of ander noodsituasie (vers 13-15).

Vers 6-7 verwys waarskynlik na die twee groot gebeurtenisse in die woestyntyd, die trek deur die Rooi See (see) en die intog deur die Jordaan (rivier).

Vers 9 se verwysing na God wat “nie toelaat dat ons struikel nie” is waarskynlik ’n eufemisme vir die feit dat Hy gekeer het dat hulle doodgaan in die beproewings  waarvan vers 10-12 praat.  Let op hoe pragtig die Psalmis die omvangrykheid van die beproewings beskrywe: “ons het deur vuur en water gegaan”.  Die Psalmis erken dus dat beproewings deel van die lewe saam met God is.  Dit is nie net as gevolg van sonde en swakheid nie.  Meer nog, dat God daarmee ’n doel het: “U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer.” (vers 10).

Petrus sou veel later hierby aansluit en dit soos volg verwoord: “Verheug julle hieroor (die lewende hoop op die ewige lewe), selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:6-7).

’n Interessante stukkie kommentaar op gebed kom na vore in vers 18-20 dat God nie sou luister as daar sonde in die hart van die bidder sou wees nie.  Spreuke 28:9 en Jesaja  59:2 druk dieselfde gedagte uit.  Spreuke waarsku teen ’n gebed wat nie met toewyding aan die Here gekombineer word nie: “As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed.” Jesaja waarsku teen ’n lewe wat nie met toewyding aan die Here geleef word nie.  Gebede het dan geen krag nie: “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”

Boodskap en betekenis

Die blinde man wat Jesus genees met die wegstap van die tempel af in Johannes 9 het dié Psalm waarskynlik geken, want hy reageer skerp op die Fariseërs se ontkenning van Jesus se wonderwerk deur vir hulle uit Psalm 66:18 aan te haal:

“’Dis darem snaaks,’ sê hy daarop vir hulle. ‘Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees.  Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.’”

Dit het die Jode natuurlik nie oortuig nie en het hom afgemaak as ‘n sondaar wat nie die reg het om hulle te leer nie, en hom summier uit die sinagoge uitgeban (Joh 9:30-33).  Jesus het hom egter ontvang en nog verder geleer van wat inderdaad met die blinde man se genesing gebeur het: hy het nou ‘n visie op die God en die ewigheid gekry!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda