Skip to main content

Psalm 38

Moet my nie verlaat nie, help my gou, my Redder

Dié Psalm is nie so maklik om te dateer nie, maar word hier hanteer as een van die reeks van boetePsalms, veral omdat dit so persoonlik is en die pyn en wroeging van siekte – fisies of geestelik – beskryf. Die lyding bring die ervaring van afstand van God sowel as van jou vriendekring. Dit word ’n Herinnering genoem in vers 1, wat kan beteken dat dit gebruik is as lering oor die verband tussen siekte, sonde en skuldbelydenis (vgl Psalm 70 wat dieselfde titel het). Dit pas dus goed in hierdie tyd van boetedoening.

Teks en konteks

Vers 1-12

Dawid skets sy ervaring dat daar ’n integrale verband tussen sy siekte en sonde bestaan. Sy siekte is in sy ervaring die gevolg van sy sonde. Daarby is dit iets wat die Here hom aandoen. God se toorn straf en tugtig hom met siekte. Daarom bid hy om verlossing nie net van sy siekte nie, maar ook van sy sonde. Hoewel die siekte nie ’n naam gegee word nie, wil dit voorkom asof dit dermatologies van aard is (“wonde stink en sweer”, “nie ’n heel plek aan my lyf nie”). Terloops: “ek kan nie eers meer sien nie” in vers 11 mag ook dui op impotensie (vgl Moses in Deut 34:7 van wie die teenoorgestelde gesê word – “sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie.”). Andersyds kan dit ook geestelik van aard wees.

Vers 13-23

Sy siekte is ’n aanleiding vir sy vyande om vir hom strikke te stel, hom kwaad aan te doen en vals beskuldigings na hom te slinger. Let op hoe Dawid kies om nie na hulle te luister nie, maar sy vertroue op God self te stel en sy ongeregtigheid teenoor Hom te bely. Die Psalm eindig met die roerende pleidooi dat God hom tog nie sal verlaat nie, nie ver van hom af sal bly nie en gou sal maak om hom te help. God alleen is sy Redder.

Boodskap en betekenis

Die Psalm wentel dus om sonde met siekte – in meer as een sin. Dit kan fisies of geestelik van aard wees Dawid skets die worsteling en onsekerheid wat siekte as sodanig in ’n mens se lewe bring. En hy trek ’n verband tussen sonde en siekte – ten minste in sy ervaring – met die besef van en behoefte aan skuldbelydenis in die verwagting van God se genade, vergifnis en genesing.

Dawid se evaluering van die verband tussen die siekte en sy sonde hoef natuurlik nie korrek te wees nie, maar dit is steeds sy ervaring. Hy is bewus van sy sonde; hy is siek. So, ten minste moes God dit toegelaat het. Dit is sy logiese en eerlike gevolgtrekking.

In die NT word hierdie direkte verband tussen sonde en siekte meer genuanseerd getrek. Jesus wys met die verhaal van die genesing van die blinde man dat sy gebrek met God se verheerliking verband hou (Joh 9). Siekte kan daarby ook die gevolg van die verganklikheid van die lewe wees, waaraan ’n mens deel het, sonder dat dit noodwendig met persoonlike skuld te make het.

Maar onthou ook dat Paulus – in die konteks van die nagmaal – aan die Korintiërs skryf dat siekte soms in die gemeenskap van gelowiges met die Here se oordeel en tugtiging verbind kan word. Dit kan ook ‘n teken wees dat God besig is met ’n proses van heiligmaking, “sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie” (1 Kor 11:27-32 – vgl ook die verhaal van Ananias en Saffira in Hand 5). God se genade sluit nie sy oordeel uit nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar