Hosea 13:1-14:1
Daarom sal hulle word soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn
Die laaste twee hoofstukke van Hosea sluit sy boodskap van oordeel op die korttermyn (hfst 13) en sy belofte van herstel op die langtermyn af (hfst 14). Ons lees dit afsonderlik, maar onthou dat dit uiteindelik sáám die geheelboodskap van Hosea vorm.
Teks en konteks
Waar Hosea vroeër die volk se gebrekkige getrouheid vergelyk het met ‘n môrewolk of dou wat vroeg verdwyn (6:4), verkondig hy hier dat hulle wispelturigheid nou hulle oordeel word: “Daarom sal hulle word soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn.” Hulle word soos hulle kies om te wees. Hulle voortbestaan is daarom in gedrang, want deur die komende ballingskap sal hulle word: “soos kaf wat van die dorsvloer, soos rook wat uit ‘n gat weggewaai word.”
Die hart van die aanklag teen hulle, is dat hulle die Here nie erken het vir wat Hy in hulle lewe sedert hulle Uittog uit Egipte vir hulle beteken het. Hulle het hulle lojaliteit geskuif na Baäl weens hulle voorspoed en hoogmoed. “Daarom het hulle My vergeet.”
Die Here het nou vir hulle soos ‘n roofdier geword – drie diere word genoem: ‘n leeuwyfie, ‘n luiperd en ‘n beerwyfie wat haar kleintjies verloor het – wat hulle sal verslind. Hulle het téén hulle Helper gedraai, soos geïllustreer deur hulle keuse vir ‘n monargie in die tyd van die rigters (1 Sam 15). Die Here het toe na hulle geluister en vir hulle ‘n koning gegee, maar dié gaan nou weer weggeneem word, omdat die konings hul primêre taak versaak het, om die volk aan die Here te verbind.
Die Here worstel met die goddeloosheid en sondige afvalligheid van sy volk. Hulle is soos ‘n kind wat gebore moet word, maar nie reg lê in die baarmoeder nie, en daarom bestem is vir die dood. Die Here vra daarom op retoriese manier: moet Hy help, moet Hy hulle red uit die mag van die dood? En dan antwoord die Here self met dié ongelooflike tragiese woorde: “Ek sal vir Efraim nie jammer kry nie.” Letterlik: “Medelye is vir my oë verberg.”
Daarom sal Assirië soos ‘n oostewind – wat terselfdertyd die wind van die Here is – Efraim se waterbron, sy bestaan as volk, wegdroog. Al was hulle soos ‘n blom tussen die riete, hulle sal tot niet gaan en verskrompel. Hulle opstand teen die Here sal op die alleraakligste manier tot hulle vernietiging lei: “Deur die swaard sal hulle val; hulle kinders sal verpletter word, hulle swanger vroue sal oopgesny word.” Goddelike toorn en internasionale politiek vorm onlosmaaklik die twee kante van die een werklikheidsmunt.
Boodskap en betekenis
Erkenning en dankbaarheid. Herinnering en lojaliteit. Dit is die dinge wat prioriteit moet kry in die verhouding met die Here. Waar dit ontbreek, taan die Godsbewussyn, en neem eie belang en begeerte oor. Dit is op ‘n persoonlike vlak al destruktief, maar waar dit op ‘n nasionale vlak gebeur, lei dit tot erge konflik tussen die nasies, veral weens die gebrek aan ‘n gemeenskaplike waardesisteem wat hulle onderlinge verhouding kan reguleer.
Let op dat die betrokkenheid van die Here by die konflik nie op ‘n direkte wyse geteken word nie. Efraim se ballingskap kom in werklikheid weens die optrede van die oostewind, Assirië. Maar, dit is op ‘n indirekte wyse ook die wind van die Here. Hy gebruik agter die skerms van die werklikheid dié gebeure as ‘n ingrype in sy volk se lewe om hulle tot die regte Godsbewussyn te ruk. Hoe dit gebeur weet ons nie presies nie, maar uit die profetiese interpretasie daarvan, kan ons die uitwerking daarvan sien en insien.
Dit is waarom ons as profete geroep word om God se beoordeling van situasies vanuit sy openbaring deur te gee. Ons is, soos Hosea, God se woordvoerders. Maar, ons het ook die dure plig om die nood in die lewe van mense en mensegroepe na die Here toe te neem en op sy ingrype agter die skerms van ons werklikheid te bid. Ons is ook voorbidders. Veral waar ons ook God se beloftes van genesing het om mee te werk, soos ons in hoofstuk 14 gaan lees.
‘n Laaste gedagte: Paulus haal in 1 Korintiërs 15:55 hierdie uitspraak in Hosea 13:14 aan. Maar, hy draai dit radikaal om. Waar die Here hier gevra het of Hy dan die Israeliete uit die dood moet red, en einde ten laaste besluit het om dit nie te doen nie, kan Paulus met die dood spot op grond van Christus se oorwinning. Want, God se deernis het deur Christus ‘n deur oopgemaak na die ewige lewe wat die mag van die dood beslissend gebreek het.
Watter vreugde is dit nie om dié boodskap te omarm soos ons ons leeswerk in Hosea begin klaarmaak nie. Hierdie vasgevalde situasie is uiteindelik omgekeer, en ons geniet die vrugte daarvan.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar