Skip to main content

Levitikus 3

Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar

Teks en konteks

Waar die brandoffer versoening gebring het tussen God en sy mense (vgl. die riglyne oor bloed en verbranding), en die graanoffer die verbond met God bevestig het (vgl. die riglyne oor suurdeeg en sout), het die maaltydoffer die gemeenskap met God en mekaar gevier.  Daarom is die vet van die binnegoed verbrand vir God en die vleis geëet deur die familie.  Selfs die priesters het daarin gedeel (Lev. 7).  Almal kon deel in die gemeenskap wat die verbond tussen hulle tot stand gebring het.

Die beskrywing van die maaltydoffer is aan die hand van die tipe dier wat geoffer word, ingedeel, telkens afgesluit met die beskrywing daarvan as ‘n vuuroffer: ‘n bees – vers 1-5; ‘n skaap – vers 6-11; ‘n bok – vers 12-16.  Vers 17 rond dit af met die opmerking dat dit vir altyd só in die geslagte nagekom moet word.

Hierdie derde tipe offer is by die ingang van die tent van ontmoeting geslag, want dit is waar die grootste deel van die offer deur die deelnemers gekook en geëet sou word.

Die vet is verbrand

Die vet van die organe is aan die Here geoffer, uiteraard nie die vet wat onder die vel en in die res van die dier teenwoordig was nie.  Laasgenoemde het die Here bedoel as ‘n lekkerny vir die familie, soos Moses in Deut. 32:14 verkondig.  Dit het egter die vetstert uitgesluit.  Die vetstert is ook aan die Here geoffer.  En dit was nogal besonders.  Die skaapras waarmee hulle merendeels geboer het, het ‘n prominente stert gehad wat ongeveer 7 kg geweeg het!

Daar is nie duidelikheid oor die presiese rede waarom die vet van die organe en die vetstert aan die Here behoort het nie.  Dit kan te make hê met die idee dat daar krag in vet gelê het, soos Dawid in sy treurlied oor Saul en Jonatan metafories te kenne gee: “die vet van helde.”  Omdat God gereken is as die enigste bron van krag, was dit moontlik ‘n erkenning daarvan (Hartley).

Die niere en die punt van die lewer is verbrand

Die niere – setel van gevoelens en die gewete (Ps. 73:21: “Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was”; Ps. 16:7: “selfs in die nag vermaan my niere my” – OAV) soos dit ook gegeld het van die hart (Jer. 17:10: “Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere” – OAV) – en die punt van die lewer – wat in voorspellings gebruik is – is saam met die vet aan die Here geoffer.

Dit het dus aan die een kant gesimboliseer dat die Here die binnekant van die deelnemers suiwer en aan Hom verbind.  Aan die ander kant het hulle simbolies hulle afgekeer van heidense gebruike deur nie die wil van die Here op enige ander manier as wat Hyself voorskryf, te probeer bekom nie.

Die motivering was dankbaarheid, ‘n gelofte of ‘n vrywillige offer

Levitikus 7:15–18 spel die motivering vir dié offer verder uit – dankbaarheid, gelofte of vrywillig – en Levitikus 7:28-34 dat die bors en regterboud die priesters toegekom het.  Hierdie maaltydoffer was dus ‘n dankoffer vir al die goeie gawes wat God gee en ‘n viering van die vrede wat Hy vir hulle bring in hulle verhouding met Hom en met mekaar.  Daarom het dit ook bekend gestaan as die vredeoffer.

Die priesters het in die vreugde daarvan gedeel en jy kon ook gaste saamnooi om in die feestelikheid te deel (Deut. 12:18), soos ons dit ‘n paar keer in die bediening van Samuel sien in sy verhouding met Saul (1 Sam. 9:12-13) en Dawid (1 Sam. 16:1-3).

Die waarde het in die gemeenskap gelê wat tussen God en mense tot stand gekom het

Die waarde van dié offer sou dan ook telkens deur die loop van die geskiedenis van Israel beklemtoon word, soos ons bv. by Hanna (1 Sam. 1) en Salomo (2 Kon. 8) se verhale lees.  Dit was immers ‘n offer wat bedoel was vir feesviering en vreugde in die gemeenskap met die Here, soos by Salomo, en soms juis as ‘n gebed daartoe, soos by Hanna.

Salomo het die tempel met ‘n maaltydoffer ingewy.  Die feesviering hiermee was só groot dat hulle spesiale reëlings moes tref om die massa maaltydoffers – 22 000 beeste en 120 000 kleinvee – in die voorhof te offer, aangesien die bronsaltaar te klein was (1 Kon. 8).  Die reëling volgens Levitikus was in elk geval dat die diere van die maaltydoffers by die opening van die Tabernakel geslag word en net dié dele wat verbrand moes word, is op die altaar geoffer.  Die res het die families en die priesters geëet.

Let op dat al die offers daar ‘n maaltydoffer genoem word, maar dat dit brandoffers en graanoffers ingesluit het.  Al die diere is ook nie op een slag geslag nie, want die oorblyfsel na ‘n dag se feesviering moes volgens die wet verbrand word, en hulle het vir veertien dae fees gevier!

Hanna het só ‘n maaltydoffer as ‘n geleentheid vir gebed gebruik.  Dit is die agtergrond waarteen ‘n mens die verhaal van Elkana en Hanna in 1 Sam. 1:4-8 moet lees.  Hanna se kleiner deel van die maaltydoffer het haar kinderloosheid geïllustreer.  En by só ‘n offergeleentheid het sy die Here gesmeek vir ‘n kind en is een van die grootste profete van Israel gebore, Samuel.  Die gemeenskap met die Here wat deur die maaltydoffer tot stand gekom het, was die basis waarop sy die Here om ‘n ingryping in haar lewe kon vra.

Die feit dat ‘n deel van die offer verbrand is as ‘n gawe aan die Here terwyl die res deur die families en ook die priesters geëet is, het egter ook die boodskap gedra dat daar steeds ‘n fundamentele onderskeid tussen God en sy mense gehandhaaf is.  Die gemeenskap wat hulle via die offer kon geniet, het nie die grense tussen God en sy mense opgehef nie.  Hy het God gebly en hulle sy mense.

Maaltydoffers het ‘n nasionale impak gehad

Dit was ook die tipe offer wat met die salwing van konings geassosieer is, soos ‘n mens by Dawid sien (1 Sam. 16:1-3) en selfs met die abortiewe pogings van Absalom (2 Sam. 15:7-12) en Adonia (1 Kon. 1:9) wat probeer het om hulleself as konings te kroon.

Dié offers moes dus op die korrekte wyse gebring word, soos Saul tot sy spyt agter gekom het toe hy sy koningskap verloor het omdat hy sy manskappe se guns met brandoffers en maaltydoffers op ‘n ongeoorloofde manier wou koop (1 Sam. 13:9).  Dawid daarenteen het juis die wonder van die vrede wat God gee, beleef toe hy ná sy straf vir die sonde met Batseba brandoffers en maaltydoffers gebring het.  Die Here het nie net die plaag in Israel gestop nie, maar ook weer Israel se gebede begin verhoor (2 Sam. 24:25).

Maaltydoffers het krisisse beredder

By geleentheid is hierdie maaltydoffer ook gebruik as ‘n manier om as volk saam te kom om saam die Here se aangesig te soek.  Ons lees in die Rigterstyd dat die hele volk met die grusame verkragting van die Leviet se byvrou in Gibea in die gebied van Benjamin bymekaarkom en oorlog verklaar het teen Benjamin.  Hulle word egter twee keer verslaan totdat hulle besluit om die riglyne van Levitikus te volg. Nadat hulle hulleself verootmoedig het voor God met brandoffers en maaltydoffers het hulle met die derde probeerslag oorwin.

Maaltydoffers is ook as metafoor vir God se oordeel gebruik

Daar is egter ook ‘n ontstellende gebruik van hierdie maaltydoffer as ‘n metafoor vir God se oordeel oor die nasies (Eseg. 39:17) en oor Israel (Sef. 1:7) waarin die offers die mense self is.  ‘n Grusame prentjie van die effek wat die sonde en ongehoorsaamheid in mense se lewens kan hê.

Boodskap: gemeenskap met God en mekaar by die nagmaal en liefdesmaaltye

Dit is dus geen wonder dat Jesus se bediening in die NT baie keer rondom maaltye gebeur het nie.  Daar is ‘n duidelike verband tussen die gemeenskap wat tussen God en die families, priesters en uitgenooide gaste tot stand gekom het rondom die maaltydoffers by die tabernakel in die OT en die gemeenskap wat in die NT rondom Jesus tot stand gekom het.  Ons sien dit reeds in die verhaal van die roeping van die tollenaar-dissipel Matteus (Levi) waar Jesus by hom in die huis gaan eet het en talle tollenaars en sondaars by hulle aangesluit het (Matt. 9:9-13) en waarskynlik ook in die verhaal van Saggeus waar Jesus by hom tuis gaan (Luk. 19:1-10).

Selfs in die wonderwerke van broodvermeerdering (al vier evangelies vermeld dit: Mark. 6:35-44; Matt. 14:15-21; Luk. 9:12-17; Joh. 6;5-14) is daar ‘n klem op die gemeenskap wat met Jesus en mekaar – hulle gaan sit “klompies-klompies” om te eet (Mark. 6:39) – rondom ‘n maaltyd tot stand kom.  Jesus gebruik ook in sy gelykenisse soms ‘n maaltyd as metafoor vir die gemeenskap wat in die koninkryk van God tussen Hom en sy mense tot stand kom (Luk. 14:15-24), soms uitgedruk as ‘n bruilofsmaaltyd (Matt. 22:1-14) en waarin die gereedheid vir die maaltyd (die vyf verstandige en vyf onverstandige meisies: Matt. 25:1-13; die man sonder bruilofsklere: Matt. 22:11-14) belangrik is.  Dieselfde geld die nagmaal (Luk. 22:14-23) en die bruilofsmaaltyd van die Lam aan die einde van die tyd (Openb. 19:9).

Dit was nie anders in die vroeë kerk nie.  Soos gelowiges in die OT rondom die maaltydoffers gemeenskap met God en mekaar geniet het, het gelowiges in die NT gemeenskap met God en mekaar by die nagmaal en liefdesmaaltye geniet.  Daarom het gelowiges gereeld brood gebreek met die gemeenskaplike maaltyd en: “hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys.” (Hand. 2:46-47).

Dit het ook gebeur met die viering van die nagmaal soos Paulus aan die Korintiërs skryf en hulle ook wys op die tipe riglyne wat hulle in die proses moet nakom, sodat almal in die vreugde daarvan kon deel (1 Kor. 10-11).  Anders as met die maaltydoffers in die OT waar die bloed nie vir die gelowiges beskore was nie, het die bloed van Christus in die NT juis ‘n prominente plek op sy bevel ingeneem met die wyn van die nagmaal wat saam met die brood die tekens van en gemeenskap met sy bloed en liggaam geword het.

Daardeur het ons nie net die voordele van die verbond wat die Here Jesus met ons gesluit het, ontvang nie, maar is Hy nou self ons vrede, soos Paulus in sy briewe aan Efese en Kolosse skrywe (Ef. 2:14,17; Kol. 1:20).

Hierdie maaltye is daarby ook nie meer by die tempel gehou nie, maar in die huise van gelowiges, want op dié manier het God deur sy Gees die gemeenskap met Hom binne bereik van elke gelowige gebring waar hulle ook al gebly of gereis het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda