Skip to main content

Psalm 103

Ek wil die Here loof met alles wat in my is

Psalm 103 pas ook goed ná die Batseba verhaal. Dit is ’n besondere lofpsalm wat in ’n besondere lofpsalm reeks, Psalm 103–106, die 4de Psalmboek afsluit. Psalm 103 fokus op lofprysing as ’n persoonlike, korporatiewe en universele gebeure waaraan almal in die hemel en op aarde moet deelneem. Dit beskryf God se wese en werk op haas onvergelyklike manier.

Teks en konteks

Die Psalm begin in vers 1 en eindig in vers 22 met ’n persoonlike oproep tot lofprysing: “Ek wil die Here loof …” of soos dit nog sterker in die 2014 vertaling staan: “Ek moet die Here … prys …” Tussenin word die Psalm opgedeel in drie oproepe tot lofprysing:

  1. Persoonlike lofprysing – vers 1-5
  2. Lofprysing in die geloofsgemeenskap – vers 6-18
  3. Lofprysing van die hemelse wesens – vers 19–22

Dit is ook betekenisvol dat die eienskap van God wat die meeste besing word, sy troue liefde (ḥěsěḏ) is: vers 4, 8, 11, 17. Sy troue liefde wys in sy verlossing in vergifnis, genesing en beskerming van die dood (vers 4), in sy geduld en genade deur nie vir altyd toornig te wees nie (vers 8), dat Hy ons nie vergeld volgens ons sondeskuld nie (vers 11) en dat Hy sy troue liefde vir altyd en in alle geslagte betoon (vers 17). Dit bly een van die belangrikste beskrywings van wie God in sy wese is.

Persoonlike oproep tot lofprysing – vers 1-5

Vers 1 lui in die 1933 vertaling: “Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” Daardie “alles wat binne-in my is”, dui letterlik op jou binnegoed (derms) en metafories op jou binnekant in terme van gedagtes en emosies. Die siel dui op jou wese, jou menswees, jou persoon of persoonlikheid, dit wat die wêreld van jou kan agterkom in terme van jou interaksie met hulle. Die bedoeling is dus dat die Here met jou hele menswees, wat jou gedagtes en emosies insluit, jou buitekant en jou binnekant, geloof en geprys moet word.

Die inhoud van sy lofprysing fokus op God se persoonlik weldade waarvan hy geeneen wil vergeet nie, dat Hy al sy sondeskuld vergewe het, dat Hy hom van al sy siektes genees, selfs sy lewe vrykoop van die dood en hom kroon met troue liefde en ontferming. Dié God versadig vir Dawid met die goeie en gee hom die jeugdige krag van die arend.

‘n Mens sou dit só kon weergee, Dawid wil nooit vergeet

  • dat God al sy sondeskuld vergewe het (dink aan die sonde met Batseba);
  • dat Hy hom van al sy siektes genees (dink aan Psalm 38 waar hy beide sy fisiese en sy geestelike toestand beskryf);
  • dat Hy selfs sy lewe vrykoop van die dood (dink aan al die vervolgings van Saul en die talle oorloë waar sy lewe in gevaar was);
  • en hom kroon met troue liefde en ontferming (dink aan die Here se gawe aan hom van koningskap).

Vers 5 som dit dan alles op met die boodskap dat dié God Dawid versadig met die goeie en hom die jeugdige krag van die arend gee, een wat bó al die moeilikhede en uitdagings van die lewe kan uitstyg. Die arend is simbolies van krag en spoed, miskien vanweë sy vermoë om vinnig van bo af aan te val (John Barry, Faithlife Study Bible). Dit kan ook wees dat Dawid hier verwys na die “molting” (ververing) proses van sommige arende, waar hulle vere vernuwe word (NET Notes). Weiser sê in sy kommentaar op die Psalm: “The poet realizes that the opportunities which life offers lie before him just as they did in the sunny days of his youth.”
Die beeld van die arend wat vernuwe word, is hoe Dawid die Here se uitkomste en invloed in sy lewe ervaar.
Oproep aan die geloofsgemeenskap tot lofprysing – vers 6-18

Die fokus skuif in die Psalm na wat die Here in die geloofsgemeenskap doen en waarvoor Hy geloof moet word. Die Psalmis gee ’n omvattende beskrywing van wie God is en wat God doen, sy wese en sy werke. Dit verruim nie net ons Godsbegrip nie, maar verdiep ons verwagting van God in sewe inspirerende perspektiewe, met vers 8 wat veral sentraal staan:

  1. Die Here doen wat reg is en handhaaf die reg – dit is in die eerste plek van toepassing “vir almal wat verdruk word”, iets waarop Jesus in sy intreepreek in Nasaret klem gelê het: “Hy het My gestuur … om onderdruktes te bevry en om die genadejaar van die Here aan te kondig” – vers 6;
  2. Die Here openbaar sy weë en sy dade – die 1983-vertaling het: “sy wil bekend gemaak” en: “wat Hy van plan was om te doen”. Die 2014-vertaling is nader aan die grondteks met: “sy weë geopenbaar” en “sy dade”. Hiermee word Eks. 33–34 in herinnering geroep waar Moses ná die debakel van die goue kalf die Here versoek om “sy weë” aan Hom te openbaar sodat “ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag” (33:13), waarop die Here bevestigend geantwoord het en selfs vir Moses die voorreg gegee het om Sy heerlikheid te sien. Dit gaan dus oor die dag tot dag leef in die teenwoordigheid van die Here in die bewussyn van wat God doen en wat God verwag. Dit, sê die Psalmis, het God vir Moses en vir die volk gedoen. Dit doen Hy vandag nog vir leiers en die geloofsgemeenskap. Paulus verwys ook hierna in 2 Korintiërs 2-3, waar hy die ongelooflike mededeling doen dat ons God se woorde raak aan hierdie wêreld – vers 7.
  3. Die Here is barmhartig, genadig, geduldig, en vol troue liefde – dié vers word aangehaal uit dieselfde gedeelte in Eksodus waar God dit van Homself sê (Eks. 34:6). Dié eienskappe van God is waarskynlik die korste en mees omvattende beskrywing van sy wese, iets wat ons van Hom moet koester en waarop ons in ons gebede en lofprysing moet fokus. NB: Die volgende vier perspektiewe op God in vers 9–18 lê eintlik hierdie vier eienskappe van God verder uit, al is dit met ander woorde – vers 8.
  4. God is barmhartig: Die Here beskuldig nie vir ewig nie en koester nie vir altyd wraak nie – vers 9.
  5. God is genadig: Die Here tree nie op teen ons op grond van ons sonde en sondeskuld nie, want sy troue liefde is eksponensieel groter as ons sonde en sondeskuld vir dié wat vir Hom ontsag het (vertikaal beskryf), en verwyder ons oortredinge ligjare van ons af weg (horisontaal beskryf) – ’n verskuilde manier om die kruis van Golgota in spel te bring! Dit is die basis vir die wonderwerk van God se vergifnis wat in Jesus Christus se verlossingswerk sy hoogtepunt in die NT bereik het. God tree nie op teenoor my op grond van wat ek verkeerd gedoen het nie, maar op grond van die verlossing wat daar in Jesus Christus is. Watter wonderlike wete! – vers 10–12.
  6. God is geduldig: Die Here ontferm Hom soos ’n vader oor sy kinders vir dié wat vir Hom ontsag het, omdat Hy weet dat ons maar stof is, dat ons soos gras of ’n veldblom gou vergaan. God neem ons inherente beperkinge in ag. Hy staan daarvoor in! – vers 13–16.
  7. God is vol troue liefde: Die troue liefde van die Here is egter van altyd af en vir ewig oor dié wat vir Hom ontsag het, en sy weldade is vir ons kinders se kinders, dus in opvolgende geslagte. God se ewige bestaan word dus hier as die oplossing vir die probleem van die kortstondigheid van ons eie lewe geteken. God neem ons kinders en dié se kinders in sy sorg. Omdat Hy ewig is, kan Hy doen wat ons nie kan nie. Wat meer kan ’n mens nou eintlik van Hom vra?! – vers 17–18.

Die enigste reaksie wat daar by ons kán wees op dié beskrywing van God is ontsag (onthou vers 11, 13, 17 se beklemtoning – eintlik die enigste kwalifikasie vir die ontvangs van dié God se troue liefde) en lofprysing.

Oproep aan die hemelse wesens tot lofprysing – vers 19-22

Maar, dit is nog nie klaar nie. Die persoonlike en korporatiewe lofprysing vir God se wese en werk mond nou uit in ’n universele lofprysing vir God se heerskappy oor alles (vers 19). Die engele en hemelwesens (vers 20-21) word saam met alles wat Hy gemaak het, opgeroep om Hom te prys op al die plekke waar Hy heers (vers 22). ’n Mens kan weereens die vertikale en horisontale dimensies in die beskrywing van God se heerskappy sien in die manier waarop die hemelse lofprysing (vers 20-21) gekombineer word met die aardse lofprysing (vers 22) as in die wyse waarop die verlossende vergifnis van die Here in vers 11–12 beskryf word.

En die Psalm sluit af met dieselfde oproep aan homself as wat hy in vers 1 gedoen het: “Ek moet die Here prys!

Boodskap en betekenis

Dat God die Een is wat doen wat reg is en die reg handhaaf vir almal wat verdruk word, dat Hy sy weë en dade daagliks aan ons openbaar, en dat Hy barmhartig, genadig, geduldig, en vol troue liefde is, vul my vandag met ’n groot dankbaarheid. Dat Hy wat ewig is boonop verantwoordelikheid neem om sy troue liefde deur die geslagte heen aan my nageslag en dié van ons geloofsgemeenskap te bewys, bring groot berusting in my en ontsag vir Hom.

Ek kan daarom in antwoord op die boodskap van Psalm 103 alleen sê, soos Dawid: “Ek wil die Here loof met alles wat in my is!”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar