Skip to main content

Handelinge 11

God brei die kerk uit tot in Antiogië

Handelinge 11 is ‘n verdere belangrike episode wat die oorgang van die evangelie van die Jode na die heidene bevestig in die aanvaarding daarvan deur die gemeente in Jerusalem. Petrus se verslag oor die gebeure by Kornelius wys hoe God self agter die grensoorskryding is waardeur die Heilige Gees op heidene uitgestort is. Dit bevestig dat bekering en redding nie beperk is tot ‘n spesifieke volk nie, maar vir almal beskikbaar is. Verder illustreer die groei van die gemeente in Antiogië hoe gewone gelowiges die evangelie versprei en hoe die Heilige Gees die kerk lei om nuwe grense oor te steek. Hierdie hoofstuk nooi ons om na te dink oor hoe God se werk voortdurend mense oor kulture en gemeenskappe heen verenig.

Teks en konteks

Petrus verantwoord sy sendingwerk aan die gemeente in Jerusalem – Handelinge 11:1-18

Die gebeure in Sesarea is van só ’n paradigma-skuiwende aard dat Petrus homself en die werk wat God onder die heidene (nie-Jode) gedoen het, moet gaan verantwoord teenoor die “moeder”-gemeente in Jerusalem. Dié werkswyse sou ’n patroon word wat later ook met die uitbreiding deur Saulus se sendingreise gevolg moes word, waar die seël van goedkeuring deur die gemeente in Jerusalem geplaas moes word op die oorsteek van nuwe grense met die evangelie. Dit is dan ook die begin van die idee van ’n verband van kerke soos deur baie gemeentes regdeur die wêreld gevolg word.

’n Mens sien hier ook al die groot vraag oor die plek van die besnydenis wat gelowiges uit die Jodedom in Jerusalem bly vra het, iets wat wel later in Handelinge 15 se vergadering geantwoord is (dat besnydenis nie nodig was vir gelowiges uit die heidene nie), maar op baie plekke in die wêreld ’n sleutelkwessie sou bly.

Die bekering van die heidene word op twee maniere beskrywe. Aan die een kant word dit met die aanneming (ontvangs) van die woord van God (vers 1) beskrywe. Dws – bekering is iets wat gebeur onder die geluister na die woord van God. Dit is iets waartoe jy instem, en wat jy aangryp.

Aan die ander kant word bekering ook as ’n bekering wat God gee tot die lewe beskrywe. Dit is hoe die Afrikaanse frase in vers 18 vertaal kan word (“God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee”). Bekering is dus nie net iets wat jy doen nie (omdraai en God se woorde aanneem nie), maar ook iets wat God jou gee.

Let ook op dat bekering ook direk met die ontvangs (doop met) van die Heilige Gees verbind word. Om die waarheid te sê, die doop met die Heilige Gees vind voor die doop met water plaas.

Die evangelie versprei na Antiogië – Handelinge 11:19-30

Vervolging het altyd ook ‘n positiewe kant, in die sin dat God dit gebruik om visie vir sy mense te gee, en positiewe gevolge daaruit te laat voortspruit. Let op dat dit mense uit Afrika was, dws mense wat nie in die hart van die Jerusalem gemeente was nie, wat die evangelie aan nie-Jode verkondig in Antiogië, die derde grootste stad van daardie tyd naas Rome en Alexandrië.

Hulle volg waarskynlik die voorbeeld van Petrus, ten minste soos Lukas vir ons die verhaal vertel. Verandering kom dus uit die sentrum (Jode), sowel as van die periferie af (nie-Jode).

In dit alles is dit die Here wat die verandering bewerk. Hy het die leiding in Petrus se geval geneem. Hy doen dit nou ook in die res van die wêreld. Dit is ’n sleutel insig wat Lukas ons gee vir ons eie betrokkenheid in die wêreld. God is konstant besig om sy koninkryk te vestig en te bou in nuwe gebiede, en ons lewensroeping is om daarby aan te sluit.

Barnabas word nou gestuur om die nuwe gelowiges te bemoedig, wat tot ‘n vierde fase van uitbreiding sou lei met Saulus wat ingetrek word in die nuwe gemeente (ongeveer 46 n.C.) en ‘n jaar daarna saam met hom onder die direkte leiding van die Heilige Gees uitgestuur sou word. Barnabas as eenmanskommissie word dus baie gou aangevul met Saulus om nie net die las van die bediening te hanteer nie, maar ook ander tipe gawes in te span om die gemeente sy bestaansdoel te laat verwesenlik.

Die situasie in hierdie gemeente wys op ’n besondere manier hoe nie net die evangelie versprei nie – apostels en gewone gelowiges doen daaraan mee – maar ook hoe ’n gemeente intern funksioneer, sowel as binne die verband met ander gemeentes. Ons sien bv. hoe die Here “gawes” van leierskap en begeleiding gee (Saulus en Barnabas), onder andere ter wille van dinge soos gemeenskap, lering en inskakeling binne die groter verband van die geloofsgemeenskap oor die wêreld (Barnabas).

Let op hoe Barnabas se karakter deur Lukas beskryf word. Barnabas is ’n goeie man, soos Lukas ook vir Josef van Arimatea (Luk 23:50) beskryf het, die enigste ander persoon wat die titel kry. Barnabas was ook met die Heilige Gees vervul. Daarbenewens het Barnabas ook, soos Stefanus (Hand 6:5), ’n vaste geloof gehad.

Barnabas se uitstaande bydrae tot die bediening in Antiogië, soos tevore in Jerusalem, is dat hy die jong kerk daar aangespoor het om met hart en siel aan God getrou te bly (Hand 11:23). Dit is iets wat by uitstek kenmerkend van sy bediening was. Die woord wat hier gebruik word om sy betrokkenheid te beskryf, is die woord “parakalei” (aanmoedig of bemoedig) wat ooreenkom met sy Hebreeuse naam Barnabas wat beteken: “seun van bemoediging/ vertroosting”.

Hy en Saulus is ook instrumenteel in die hulp aan die gemeentes in Judea wat hulle gaan aflewer het om die uitdaging van die hongersnood wat Agabus in Antiogië aangekondig het, die hoof te bied. Saulus verwys waarskynlik hierna in Galasiërs 2, ‘n reis wat so veertien jaar ná sy bekering plaasgevind het.

Saulus brei in Galasiërs 2 uit oor die openbaring van God (moontlik verwys het na die profesie van Agabus) sowel as die interaksie met die leiers in Jerusalem waar hy die besnydenis van Titus, wat hulle vergesel het, op evangeliese gronde teengestaan het, en hulle ook onderling op ‘n werksverdeling ooreengekom het: die binnekring van Jesus: Jakobus, Cefas (Petrus) en Johannes as apostels na die Jode, en Barnabas en Saulus as apostels na die nie-Jode.

Onthou ook dat Johannes Markus, nefie van Barnabas, Saulus-hulle op hulle terugreis na Antiogië vergesel, soos ons aan die einde van hoofstuk 12 sal sien. Soos Titus sou Markus ‘n belangrike rol speel in die vroeë kerk, al het Markus aanvanklik ‘n bietjie teruggedeins van die uitdagings, soos ons in Handelinge 13 sal lees. Hy skryf later die Evangelie van Markus in Rome na aanleiding van die herinneringe van Petrus.

Titus was van die begin af egter ‘n belangrike vennoot van Saulus wat op verskeie plekke saam met en soms namens Saulus gemeentes oor die wêreld heen bedien het, onder andere in Efese en Korinte (2 Kor 8:6, 16, 23; 12:18), Dalmasië (2 Tim 4:10) en Kreta (Tit 1:5).

Boodskap en betekenis

Handelinge 11 beklemtoon God se werk deur die Heilige Gees in die uitbreiding van sy koninkryk oor kulturele en geografiese grense heen. Bekering en die ontvangs van die Heilige Gees is universele gawes wat nie beperk is tot een groep of volk nie.

Dit toon ook hoe vroeë gemeentes saamwerk en mekaar ondersteun in die groter sending opdrag. Die rol van apostels soos Jakobus, Petrus, en Johannes vernaamlik na die Jode (hoewel dit natuurlik ook nie-Jode ingesluit het), sowel as Barnabas en Saulus vernaamlik na die nie-Jode (wat ook verkondiging aan die Jode ingesluit het) illustreer dat samewerking kernaspekte van effektiewe bediening onder die leiers is.

Mentorskap van opkomende leiers was ook hoog op die agenda, soos ons later sal sien in die intrek van Titus en Johannes Markus in die bediening.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.