Skip to main content

Job 19

Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!

Dit is opmerklik dat Job in dié gesprek van hom nét met die drie vriende praat, en nie ook met die Here nie.  Waar hy in elkeen van die vroeëre gesprekke eintlik meer op sy verlange om met die Here te praat, gefokus het, fokus hy hier direk op die drie vriende en lewer ‘n uitnemende getuienis van sy diepste oortuiging oor God: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (19:25 – vgl. 16:19 waar hy oor God as sy getuie in die hemel praat).

Let op hoe Job nie net oor sy eie persoonlike verlossing praat nie, soos ons baie keer met lidmate se belydenisaflegging dié teks gebruik.  Dit gaan vir Job oor die breër prentjie van God se heerskappy nie net in sy persoonlik lewe nie, maar oor die hele aarde.  Die droom van God se totale verlossing wat steeds in Job se hart brand, is dat alles wat moontlik afbreuk kan doen aan God se plan met die mensdom, onder sy heerskappy geplaas sal word, en dat God sal triomfeer in die lewe van mense op aarde.

Let ook op dat Job hieroor praat nie as ‘n vae wens wat moontlik gedwarsboom kan word nie. Dit is vir hom ‘n vaste werklikheid: “Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien.  Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.” En voeg hy daaraan by: “Ek smag daarna met my hele lewe.” (19:27).

Vir ons wat die voorreg het om hierdie gesprek van Job vanuit die ontknoping daarvan in hfst. 38-42 te kan hoor, is dié waarskynlik een van die grootste motiverings om aan te hou in ons eie geloofstryd en aan die Here vas te hou, kom wat wil.  Want, Job het presies waarna hy met sy hele lewe gesmag het, uiteindelik gekry.  Hy het die Here gesien, met sy eie oë, en kon die transformasie van sy lewe aan die hand van God se lotsverandering beleef.

Dié twee perspektiewe – dat dit vir Job oor ‘n totale verlossing gaan, wat hy as ‘n vaste werklikheid verwag het (vgl. Hebr. 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”) – verdiep ‘n mens se besef van die prys wat dit Job kos om hieraan vas te hou:

  • Sy vriende het veroordeel en beledig. Hulle skaam hulle nie oor hulle slegte behandeling nie, al kry hulle nie dit reg om die fout wat Job begaan het, uit te wys nie.  Hy probeer hulle oortuig dat hy letterlik in die kruisvuur van ‘n hemelse geweld beland het, maar hulle skryf dit af, omdat dié ervarings nie inpas by hulle teologie nie.  Hulle wat eintlik sy vertrouelinge moes wees, verafsku hom: “dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.” (19:19).  “Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer!” (19:21).
  • Job beleef God as iemand wat sy pad versper het, en dat hy letterlik nie verder kan gaan nie. Job se eer en aansien is van hom af weggeneem.  God behandel hom as ‘n vyand.  Dit is waarskynlik sy grootste dilemma, want dit tap sy kragte, laat sy hoop wankel.
  • Selfs sy familie het hom verlaat. Sy broers het hom in die steek gelaat, die eerste keer dat iets hiervan genoem word.  Sy huismense, selfs sy slawe, beskou hom eintlik as ‘n vreemdeling, en reageer nie op sy uitreik na hulle nie.  Die effek in sy lewe is dat hy ervaar dat hy heeltemal alleen staan.

Tóg – en dit moet ‘n mens regtig in die lig van dié diep donkerte in sy lewe raaksien – Job skryf dié teenstand en veroordeling af as van minder betekenis as die getuienis oor sy Losser wat steeds in sy hart leef, en wat hy wil opskryf vir die nageslag: “Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap.” (19:23-24).

Wat Job dus in 19:25-27 skryf oor God is nie net ‘n wonderlike getuienis oor God wat hy in ‘n boek gelees en as lewensmotto aanvaar het nie.  Dit is ‘n deurleefde oortuiging waarvoor hy kan instaan selfs al vergaan al sy goed en die laaste bietjie van sy gesondheid.  Hy is van oortuiging dat dié God, wat hy tot sy afgryse as ‘n vyand ervaar, steeds regverdig sal wees, al beleef hy Hom op die oomblik nie só nie.

Job is dus ‘n venster na hoe ‘n geloof werk wat steeds aan God in die krisis van ‘n verskriklike verlies vasgryp.  En dit is ook ‘n venster na iets wat – ook vir ons – nog in die toekoms lê.  Dit is die totale verlossing wat God vir die heelal beplan.  Job maak dus op ‘n verskuilde manier iets van God se globale verlossingswerk op aarde bekend, hoewel Job weliswaar nie die omvang daarvan sou kon besef het nie.

Dit is dié verlossing waaroor die hele bediening van Jesus Christus in die NT gegaan het.  Soos die Hebreërskrywer dit uitdruk:

  • Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebr. 7:25). Die bediening van die Here Jesus het ‘n persoonlike verlossingskant wat inhou dat Hy vir altyd vir ons intree.
  • Dit bediening van die Here Jesus het ook ‘n verlossende effek op die hele aarde: “dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.” (Hebr. 12:27), soos die apostel Johannes ook verder op uitbrei in sy Openbaring (hfst 19-22).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda