Skip to main content

Openbaring 19:11-21

Jesus Christus oorwin die antichris en vals profeet

Openbaring eindig met ‘n visioen van Satan wat deur die Woord van God, die Here Jesus, oorwin word (19:11-21), die duisend jaar van vrede wat aanbreek (Openb 20:1-10), die laaste oordeel wat plaasvind (20:11-15), en die nuwe hemel en aarde (21:1-8) en die nuwe Jerusalem wat deur God onthul word (21:9-22:5).

Teks en konteks

Die Woord van God op sy wit perd oordeel regverdig – Openbaring 19:11–21

Jesus Christus word in die volgende gedeelte voorgestel – met vier beskrywings wat herinner aan Openbaring 1 – in sy rol as beide die Regter wat regverdig oordeel en die Generaal wat met die swaard van sy mond met die leërs van die hemel die oorlog teen die Bose aanvoer en twee van die bose driemanskap (die antichris en die valse profeet) en hulle magte uitwis (die draak se uitwissing kom in die volgende hoofstuk).

Sy karakter word beskryf as een wat getrou is – die Getroue – en ook een wat die waarheid lief het – die Betroubare.

Hy het ‘n ontsagwekkende voorkoms met oë soos ‘n vuurvlam en op sy kop nie net sewe of tien krone soos die draak of die dier uit die see nie (Openb. 12:3; 13:1), maar baie krone.

Jesus het ‘n vyfde geskrewe Naam wat niemand ken, behalwe Hyself nie (vgl Openb. 2:17; 3:12), d.w.s. die diepte daarvan kan ons nie peil nie. Maar, die sesde baie bekende Naam is dat Hy die Woord van God genoem word, soos alreeds in die Johannes evangelie aangetoon is (Joh. 1). Daarmee kan ons identifiseer.

Dat sy klere deurweek is met bloed verbind Hom aan die vorige beeld van die wingerdoes (Openb. 14:14-20; vgl Jes 63:1-6) as die Regter en Generaal wat sy oordeel uitoefen.

Jesus lei die leërs van die hemel in ’n groot oorlog op wit perde om sy heerskappy te vestig. Die word deur sy vurige oordeel tot stand gebring. Hy is ‘n Herder, sy sewende beskrywing, maar met ‘n ysterstaf (vgl Ps. 2:9; Openb. 12:5).

‘n Agste besondere Naam is op sy kleed geskrywe wat Hom as die Koning van die konings en die Here van die heersers aandui.

’n Baie besondere engel – let op dat hy by of op die son staan! – kondig die vernietiging van die hele goddelose mensdom aan met die grusame beeld van ’n oproep aan die (aas)voëls van die hemel om aan die gesneuweldes in die oorlog te kom peusel. Die feesmaal word die “groot feesmaal van God” genoem. ‘n Grusame kontras met die bruilofsmaaltyd van die Lam.

Dit lei tot ‘n grootskaalse oorlog tussen die twee diere – die antichris uit die see en die valse profeet uit die aarde – en die Een wat op die perd sit met hulle magte, die Christus.

Die magte van die antichris en die valse profeet word in die oorlog oorwin (vgl. Armageddon wat met die sesde bak se oordele gebeur: Openb. 16:16) en hulle “is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.” Die res van die mensdom het ook omgekom. Dit berei die weg voor vir die finale oorwinning oor die draak, die Satan.

Boodskap en betekenis

Jesus Christus word as die regverdige Regter en oorwinnaar geopenbaar wat in glorie terugkeer om die bose magte te oorwin en sy heerskappy te vestig. Sy titels en beskrywings beklemtoon sy goddelike gesag, betroubaarheid, en regverdigheid, terwyl sy bloedbevlekte klere sy rol as Regter en Generaal simboliseer. Die leërs van die hemel volg Hom in ‘n beslissende stryd teen die antichris en die valse profeet, wat uiteindelik in die vuurpoel gewerp word. Die toneel kontrasteer die vreugde van die bruilofsmaal van die Lam met die grusame “groot feesmaal van God,” waar aasvoëls die gevalle goddelose eet. Hierdie oorwinning berei die weg voor vir die finale oordeel oor Satan in die volgende hoofstuk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar