Skip to main content

Handelinge 21:1-36

God werk deur die Heilige Gees en die kwade bedoelings van mense

Oorsig van die laaste deel van Handelinge, hoofstuk 21-28

Hier begin die sesde fase van die uitbreiding van die koninkryk waarin die evangelie van Jesus Christus van Jerusalem tot in Rome, in die hartjie van die hoofstad van die Romeinse ryk geneem word.

Uit die een hoek sien ‘n mens raak dat Paulus die evangelie agtereenvolgens kan verkondig aan die Joodse volk in Jerusalem (Hand. 22), die Joodse Sanhedrin (Hand. 23), die Romeinse goewerneurs Feliks en Festus (Hand. 24), sowel as die Joodse koning Julius Markus Agrippa II (Hand. 25-26). Die evangelie is dus tot op die hoogste vlak in Jerusalem en Caesarea gehoor.

Uit ‘n ander hoek sien ‘n mens raak dat Paulus verhoor word deur dieselfde drie tribunale as Jesus wat ‘n verstommende ooreenkoms vertoon tussen Paulus en Jesus se lewens:

  • Paulus voor die Joodse Sanhedrin (Hand. 22 – soos Jesus in Luk. 22);
  • Paulus voor die Romeinse goewerneurs Feliks en Festus (Hand. 24 – soos Jesus voor Pilatus in Luk. 23);
  • Paulus voor een van die Herodes konings, in hierdie geval Agrippa II (Hand. 25-26 – soos Jesus voor Herodes Antipas in Luk. 23).

Die uiteinde hiervan is dat Paulus op ’n nuwe reis gaan, dié keer na Rome toe (Hand. 27), waarmee die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei (Hand. 28). Daarmee word bevestig dat die goeie nuus van God se redding vir alle mense is:

  • in vervulling van die belofte aan Abraham: “jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ‘n seën wees” (Gen. 12:2-3 – vgl. Hand. 3:25) en
  • as ’n sentrale aspek van die visie van die profete dat die evangelie vir “al die heiden nasies” sal wees (Amos 9:11-12 – vgl. Hand. 15:17).

Let op dat Lukas – soos in sy evangelie van Jesus – beklemtoon dat die beskuldigings teen Paulus en die kerk van alle waarheid ontbloot was. Drie keer word hy onskuldig bevind van enige verkeerde optrede teen Rome en die Romeinse ryk (Hand. 22:29; 23:26-30; 26:32).

Die verhaal van die beskerming van skipbreuk in hoofstuk 27 herinner ons ook daaraan dat die evangelie se verspreiding fundamenteel God se werk is. Soos Gordon Fee sê: “we are constantly reminded that the gospel is God’s thing in the world – salvation for all through Jesus Christ and the Spirit.” (How to read the Bible Book by Book).

Die boek sluit in hoofstuk 28 af met die opmerking dat Paulus ‘n volle twee jaar lank met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering die koninkryk van God kon verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer het (Hand. 28:30-31).

Teks en konteks

Hoofstuk 21-22 vertel van Paulus se reis na Jerusalem en die gebeure wat aanleiding tot die drie hofsake sal gee wat hom uiteindelik tot in Rome sal neem. Ons lees die hoofstukke op agtereenvolgende dae.

Paulus se reis na Jerusalem – Handelinge 21:1-15

Let op die innige verbintenis wat Paulus aan die gelowiges in Efese gehad het. Lukas sê vir ons dat hulle hulle moes “wegskeur” van die ouderlinge van Efese op hulle vaart tot by Tirus, vandag ‘n kusstad in Libanon naby die grens met Israel. Daar het hulle tuisgegaan by van die Christene.

Let op dat hierdie Christene “dissipels” genoem word (2020-vertaling), want dit is inderdaad die uitstaande kenmerk van die geloofsgemeenskap van daardie tyd, dat hulle volgelinge van Jesus Christus was in alles wat hulle gedoen het.

Hierdie dissipels het onder leiding van die Heilige Gees Paulus gewaarsku om nie na Jerusalem te gaan nie. Die inhoud van die leiding word nie uitgespel nie, maar met hulle aankoms Caesarea en verblyf by die evangelis Filippus, word dit duidelik met die profesie van Agabus dat dit oor Paulus se komende gevangenskap gaan.

Filippus was een van die sewe wat vroeër in Jerusalem aangestel is om vir die Griekse weduwees te sorg. Hy het ook die voorreg gehad om ‘n nuwe gebied in Samaria te bedien, sowel as die Ethiopiese eunug op die pad na Gasa (Hand. 8). Ons hoor ook hoe hy met vier ongetroude dogters geseën is wat oor die gawe van profesie beskik het. Dat spesifiek vermeld word dat hulle ongetroud was, was moontlik ‘n aanduiding van hulle toewyding aan die bediening in die koninkryk (vgl. Paulus wat dit aanbeveel in 1 Kor. 7).

Agabus se waarskuwing noop almal – dit sluit Lukas in – om Paulus te smeek om nie na Jerusalem op te gaan nie, maar Paulus is vasbeslote om daarheen te gaan, selfs al sou dit beteken dat hy daar moet sterf. Soos Jesus dit ook eenmaal gedoen het (vgl. Luk. 9:51: “Hy het sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis.”).

Dit wys hoe die leiding van die Gees altyd in die lig van jou eie roeping verstaan moet word, want reg aan die begin van sy bediening is sy lydenspad alreeds vir hom uitgespel (Hand. 9) en geëggo vroeër op dié reis soos hy die ouderlinge van Efese te kenne gegee het.

Paulus se besoek aan Jakobus – Handelinge 21:17-26

Met Paulus-hulle se aankoms in Jerusalem is hulle hartlik deur die broers ontvang, ook deur Jakobus, die broer van Jesus, en al die ouderlinge. Hulle reaksie op Paulus se verslag oor sy bediening is om Paulus aan te raai om die mense wat steeds kritiek vanuit hulle Joodse agtergrond op sy bediening gelewer het, gerus te stel deur betrokke te raak by die reiniging van en offers vir vier manne se gelofte.

Dit is interessant om te sien dat Paulus hier voor ’n skerp toets geplaas word. Bedoel hy werklik dat hy vir die Jode soos ’n Jood word, en is hy bereid om hom onder die wet te stel, al is hy nie meer onder die wet nie (1 Kor. 9:19-23)? En hy wys dat hy dit werklik bedoel, ter wille van die evangelie, deur hulle voorstel na te kom en deel te neem aan die proses in die tempel.

Paulus het immers vroeër vir Timoteus laat besny, omdat sy ma ’n Jodin was, waarmee hy sy getrouheid aan die wet in Joodse geledere gedemonstreer het (Hand 16:3). Maar, hy het daarteenoor heeltemal tereg nie vir Titus laat besny nie, al was daar ’n aandrang daarvoor, omdat Titus Grieks was, waarmee hy ook gewys het dat Christene uit die heidendom nie aan die wet gebonde is nie, behalwe vir die noodsaaklike afwysing van afgodery en immoraliteit (Gal. 2:3).

Gevangeneming van Paulus – Handelinge 21:27-36

Dit sit egter ’n proses aan die gang wat die Joodse leiers nie in berekening gebring het nie, waarin ’n mens sien hoe God sy wil uitwerk midde-in en regdeur die menslike oorwegings van die leiers in Jerusalem. Paulus word by die tempel gevange geneem, omdat “Jode uit Asië” (waarskynlik uit die omgewing van Efese) Paulus beskuldig dat hy ’n klomp Grieke in die tempel ingebring het en so die tempel ontheilig het.

Hulle het (doelbewus?) ‘n verkeerde afleiding gemaak van Trofimus, een van die gelowiges wat Paulus in Efese opgelei het, en nou saam met hom gereis het, asof Paulus hom toegelaat het dat hy die tempel sou ontheilig.

Dat die beskuldiging nie waar was nie, skeel die oproermakers min. Maar, dit sit die proses aan die gang om Paulus uiteindelik in Rome uit te bring, al is dit deur die kwade bedoelings van geslepe en gemene mense.

Daarby word Paulus se inhegtenisname die instrument waardeur hy in staat is om nie net sy getuienis teenoor die Joodse volk en die Sanhedrin van Jerusalem te bring nie, maar ook aan die goewerneurs, Feliks en Festus, en op die koop toe ‘n Herodes koning, Agrippa II.

Boodskap en betekenis

Die rol van die Heilige Gees in die eerste gedeelte, en die wyse waarop die gelowiges Hom ervaar, is baie interessant en insiggewend vir ons eie verstaan van Hom en vir ons onderskeidingsprosesse.

Dat die Gees vir Paulus voorberei vir ’n pad van lyding wat vir hom wag, is duidelik, soos Paulus vir die ouderlinge van Efese in Milete reeds gesê het (Hand. 20:22-24) en soos die Here Jesus self vir Ananias opdrag gegee het om vir Paulus reg aan die begin van sy roeping te sê: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (Hand. 9:16).

Dit was immers nie anders in die lewe van Jesus nie. Hy moes ly om die wil van God te vervul! Lyding was daarom ook deel van die roeping van Paulus. Dit was duidelik reeds reg aan die begin van sy roeping.

Die gelowiges in Tirus het ook hierdie boodskap van lyding van die Gees gehoor, maar wou Paulus dit spaar. Dit is waarom hulle hom aanraai om nie Jerusalem toe te gaan nie (Hand. 21:4). Maar, hulle het nie rekening gehou daarmee dat dit Paulus se lewensroeping en die persoonlike woord van die Gees in sy lewe sou dwarsboom nie (vgl. weer Hand. 20:2-24). Paulus kon dus nie inval met hulle goedbedoelde, maar misplaaste raad nie. Daarom gaan hy, nadat hulle saam gebid het, verder op die reis, juis na Jerusalem.

Dieselfde gebeur met die profeet Agabus in Caesarea se waarskuwing aan Paulus dat hy aan die heidene uitgelewer sal word (Hand. 21:10-11). Dit is weereens onder leiding van die Heilige Gees, maar Paulus hoor dit heel korrek, in die lig van sy lewensroeping en die leiding van die Heilige Gees vroeër, as ’n bevestiging dat hy juis op die regte pad is, en nie moet terugdeins van die lyding wat vir hom wag nie. Tot Agabus se krediet volstaan hy met Paulus se reaksie op sy woord.

Hieruit sien ’n mens die gevaar wat altyd in geestelike onderskeiding bestaan. ’n Mens hoor dieselfde woord van die Heilige Gees – ’n waarskuwing byvoorbeeld – maar maak afleidings daaroor in terme van ’n mens se eie denke, bv. dat jy gevaar moet vermy. Paulus daarenteen doen die regte ding, en verbind die woord van die Gees aan sy lewensroeping – lyding gaan deel wees van jou pad – en loop die pad van lyding met blymoedige dapperheid.

In die tweede gedeelte word die wyse waarop die Here misplaaste raad (van die Joodse leiers) en kwade bedoelings (van die Jode uit Asië) gebruik om Paulus as getuie voor ‘n wye verskeidenheid van gehore en instellings te bring. Dit is net so insiggewend. Om die waarheid te sê, dit is eintlik van God se kant af gesien, ontsagwekkend.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar