1 Samuel 26

In swaar tye word oorwinnings gebore

Die pad na die troon lê besaai met dorings! Saul se erkenning van Dawid as ‘n beter mens as hy hou nie lank nie (hfst 24). Op ‘n soortgelyke wyse as in die grot by die skaapkrale in En-Gedi, word Saul in Dawid se mag gegee. Hierdie keer is dit egter nie waar Dawid in die grot skuil nie, maar in die kamp waar Saul slaap. Dawid kies egter weer om nie vir Saul dood te maak nie. Hoewel Saul op soortgelyke wyse as by die grot teenoor Dawid reageer – let op hoe Saul sy eie optrede as dwaas beskryf – sien ons in die volgende hoofstuk dat Dawid besluit om uit die grondgebied van Israel te wyk teen die raad wat die profeet Gad hom vroeër gegee het, waarskynlik omdat hy ‘n groot genoeg gevolg opgebou het in Judese gebied.

Teks en konteks

Die Sifiete was Dawid nie goedgesind nie en verklap Dawid se posisie op die heuwel van Hagila in die omgewing van Jesimon by Saul in Gibea. Saul sak met drieduisend uitgesoekte manne op Dawid toe en slaan kamp op by daardie presiese plek. Dawid het egter in die woestyn van Saul weggekruip.

Toe hy deur verkenners agterkom waar Saul is het hy saam met Abisai, sy susterskind (Seruja – 1 Kron 2:13), die kamp van Saul binnegesluip en sy vegspies en waterkruik verwyder. Dawid weier weereens om sy hand teen Saul te lig, al por Abisai hom teenoor Saul, sy vyand, aan.

Dawid is egter baie helder daaroor dat hy nie homself aan moord skuldig gaan maak nie. Hy vertrou dat die Here teen Saul sal optree deur óf ‘n normale sterfte óf ‘n sterfte in oorlog. Laasgenoemde is wat uiteindelik gebeur.

Met die padgee uit die laer, vertel die skrywer ons dat dit die Here se toedoen was dat niemand iets agtergekom het nie. Die “diep slaap” is deur die Here beskik.

Dawid roep dan van veraf vir Abner, ‘n neef van Saul en die hoofleier van sy leër, om verantwoording dat hy nie vir Saul opgepas het nie.

Wanneer Saul sy stem herken, tree hulle in gesprek oor die onverdiende maar meedoënlose agtervolging wat Saul telkens teen Dawid loods.

Die opmerking oor die Here wat dalk vir Saul aanhits (vers 19), sluit aan by die gedagte dat God agter alles besig is, met die goeie dinge wat gebeur sowel as met die slegte. Dawid se voorstel is dat Saul sy verhouding met die Here moet regmaak deur Hom die reuk van ‘n graanoffer te laat ruik (vgl Lev 2). Dit sou vrede tussen hulle bring.

Hy vervloek egter die mense wat meewerk daartoe – oa die Sifiete – en verwyt hulle dat hulle hom van “deelname aan die erfenis van die Here” verdryf, dit is die beloofde land waar hulle die Here in vryheid mag dien. Dit is so goed hulle sê vir hom om ander gode te gaan dien.

Hy bid dat die Here hom nie sal laat sterf ver van die teenwoordigheid van die Here in die land nie. ‘n Sentiment wat ‘n mens regdeur sy talle Psalms optel.

Dit gee ook ‘n interessante perspektief op sy deurlopende behoefte om in die huis van die Here te wees, selfs ‘n huis vir Hom te bou: “Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God” (Ps 84:11).

Saul word weereens beweeg tot ‘n skuldbelydenis. Hierdie keer verklaar hy dat hy gesondig het. Hy was dwaas en het “die spoor heeltemal byster geraak.”

Dawid val egter nie vir die uitnodiging om weer die pad met Saul te loop nie. Hy gee ook die regte perspektief op Saul se belydenis. “Die Here is die Een wat die mens beloon vir sy regverdigheid en sy getrouheid.” (vers 23) En dit is met die Here wat Saul nie wil versoen nie. Dit maak enige ooreenkoms wat hy wil sluit, verdag.

Dawid verlaat hom net op die Here: “mag my lewe so kosbaar wees in die oë van die Here, en mag Hy my red uit alle nood.” Dit is immers deur die swaar tye die hoof te bied wat oorwinnings uiteindelik kom.

Saul reageer daarop met ‘n seënbede en erken: “Jy sal nie net baie vermag nie, maar beslis ook seëvier.” Daarna het Dawid sy koers gegaan – hierdie keer na Filistynse gebied teen die vorige raad van die profeet Gad in – en Saul het teruggekeer na sy woonplek.

Boodskap en betekenis

Dawid se voet is al hoe sterker op die pad weg van self wraak neem teen sy vyande in die geledere van die Joodse volk. Hy besluit telkens om eerder God te vertrou dat Hy dinge sal regstel, eerder as om homself te wreek op sy vyande. Daar is nie kortpaaie na die koninkryk toe nie, soos Jesus ook vir ons demonstreer in sy versoekings in die woestyn toe Hy nee gesê het om sy Goddelike mag te misbruik om relevant, spektakulêr en magtig te wees (Henri Nouwen).

Dawid erken steeds dat Saul die gesalfde van God is en dat dit nie sy plek is om hom te vernietig nie, al weet Dawid ook dat hyself die nuwe gesalfde is. Wraak behoort egter nie aan ons nie, maar aan God. Ons moet “uitgestelde wraak” toelaat en God oorlaat om reg en geregtigheid te laat geskied.

Dawid bewys dus genade aan sy vyand Saul deur hom nie dood te maak nie. Presies wat Jesus ook in die Bergrede van ons vra, om ons vyande lief te hê soos onsself.

Hierdie optrede van Dawid is waarskynlik ook een van die redes waarom die groot leier Abner uiteindelik, ná sy aanvanklike teenstand wat op burgeroorlog uitgeloop het, tot die besef kom dat hy vir Dawid moes ondersteun en instrumenteel optree dat die noordelike tien stamme Dawid as koning aanvaar. Ongelukkig het Joab, ‘n ander susterskind van Dawid, Abner in ‘n hinderlaag gelei en hom wederregtelik vermoor. Dawid hef dan ‘n klaaglied oor Abner aan wat die volk oortuig dat hy niks daarmee te doene gehad het nie, en hulle verenig uiteindelik onder sy leiding (2 Sam 3:33).

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: