Skip to main content

1 Samuel 26

In swaar tye word oorwinnings gebore

Die pad na die troon lê besaai met dorings! Saul se erkenning van Dawid as ‘n beter mens as hy hou nie lank nie (hfst 24). Op ‘n soortgelyke wyse as in die grot by die skaapkrale in En-Gedi, word Saul in Dawid se mag gegee. Hierdie keer is dit egter nie waar Dawid in die grot skuil nie, maar in die kamp waar Saul slaap. Dawid kies egter weer om nie vir Saul dood te maak nie. Hoewel Saul op soortgelyke wyse as by die grot teenoor Dawid reageer – let op hoe Saul sy eie optrede as dwaas beskryf – sien ons in die volgende hoofstuk dat Dawid besluit om uit die grondgebied van Israel te wyk teen die raad wat die profeet Gad hom vroeër gegee het, waarskynlik omdat hy ‘n groot genoeg gevolg opgebou het in Judese gebied.

Teks en konteks

Die Sifiete was Dawid nie goedgesind nie en verklap Dawid se posisie op die heuwel van Hagila in die omgewing van Jesimon by Saul in Gibea. Saul sak met drieduisend uitgesoekte manne op Dawid toe en slaan kamp op by daardie presiese plek. Dawid het egter in die woestyn van Saul weggekruip.

Toe hy deur verkenners agterkom waar Saul is het hy saam met Abisai, sy susterskind (Seruja – 1 Kron 2:13), die kamp van Saul binnegesluip en sy vegspies en waterkruik verwyder. Dawid weier weereens om sy hand teen Saul te lig, al por Abisai hom teenoor Saul, sy vyand, aan.

Dawid is egter baie helder daaroor dat hy nie homself aan moord skuldig gaan maak nie. Hy vertrou dat die Here teen Saul sal optree deur óf ‘n normale sterfte óf ‘n sterfte in oorlog. Laasgenoemde is wat uiteindelik gebeur.

Met die padgee uit die laer, vertel die skrywer ons dat dit die Here se toedoen was dat niemand iets agtergekom het nie. Die “diep slaap” is deur die Here beskik.

Dawid roep dan van veraf vir Abner, ‘n neef van Saul en die hoofleier van sy leër, om verantwoording dat hy nie vir Saul opgepas het nie.

Wanneer Saul sy stem herken, tree hulle in gesprek oor die onverdiende maar meedoënlose agtervolging wat Saul telkens teen Dawid loods.

Die opmerking oor die Here wat dalk vir Saul aanhits (vers 19), sluit aan by die gedagte dat God agter alles besig is, met die goeie dinge wat gebeur sowel as met die slegte. Dawid se voorstel is dat Saul sy verhouding met die Here moet regmaak deur Hom die reuk van ‘n graanoffer te laat ruik (vgl Lev 2). Dit sou vrede tussen hulle bring.

Hy vervloek egter die mense wat meewerk daartoe – oa die Sifiete – en verwyt hulle dat hulle hom van “deelname aan die erfenis van die Here” verdryf, dit is die beloofde land waar hulle die Here in vryheid mag dien. Dit is so goed hulle sê vir hom om ander gode te gaan dien.

Hy bid dat die Here hom nie sal laat sterf ver van die teenwoordigheid van die Here in die land nie. ‘n Sentiment wat ‘n mens regdeur sy talle Psalms optel.

Dit gee ook ‘n interessante perspektief op sy deurlopende behoefte om in die huis van die Here te wees, selfs ‘n huis vir Hom te bou: “Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God” (Ps 84:11).

Saul word weereens beweeg tot ‘n skuldbelydenis. Hierdie keer verklaar hy dat hy gesondig het. Hy was dwaas en het “die spoor heeltemal byster geraak.”

Dawid val egter nie vir die uitnodiging om weer die pad met Saul te loop nie. Hy gee ook die regte perspektief op Saul se belydenis. “Die Here is die Een wat die mens beloon vir sy regverdigheid en sy getrouheid.” (vers 23) En dit is met die Here wat Saul nie wil versoen nie. Dit maak enige ooreenkoms wat hy wil sluit, verdag.

Dawid verlaat hom net op die Here: “mag my lewe so kosbaar wees in die oë van die Here, en mag Hy my red uit alle nood.” Dit is immers deur die swaar tye die hoof te bied wat oorwinnings uiteindelik kom.

Saul reageer daarop met ‘n seënbede en erken: “Jy sal nie net baie vermag nie, maar beslis ook seëvier.” Daarna het Dawid sy koers gegaan – hierdie keer na Filistynse gebied teen die vorige raad van die profeet Gad in – en Saul het teruggekeer na sy woonplek.

Boodskap en betekenis

Dawid se voet is al hoe sterker op die pad weg van self wraak neem teen sy vyande in die geledere van die Joodse volk. Hy besluit telkens om eerder God te vertrou dat Hy dinge sal regstel, eerder as om homself te wreek op sy vyande. Daar is nie kortpaaie na die koninkryk toe nie, soos Jesus ook vir ons demonstreer in sy versoekings in die woestyn toe Hy nee gesê het om sy Goddelike mag te misbruik om relevant, spektakulêr en magtig te wees (Henri Nouwen).

Dawid erken steeds dat Saul die gesalfde van God is en dat dit nie sy plek is om hom te vernietig nie, al weet Dawid ook dat hyself die nuwe gesalfde is. Wraak behoort egter nie aan ons nie, maar aan God. Ons moet “uitgestelde wraak” toelaat en God oorlaat om reg en geregtigheid te laat geskied.

Dawid bewys dus genade aan sy vyand Saul deur hom nie dood te maak nie. Presies wat Jesus ook in die Bergrede van ons vra, om ons vyande lief te hê soos onsself.

Hierdie optrede van Dawid is waarskynlik ook een van die redes waarom die groot leier Abner uiteindelik, ná sy aanvanklike teenstand wat op burgeroorlog uitgeloop het, tot die besef kom dat hy vir Dawid moes ondersteun en instrumenteel optree dat die noordelike tien stamme Dawid as koning aanvaar. Ongelukkig het Joab, ‘n ander susterskind van Dawid, Abner in ‘n hinderlaag gelei en hom wederregtelik vermoor. Dawid hef dan ‘n klaaglied oor Abner aan wat die volk oortuig dat hy niks daarmee te doene gehad het nie, en hulle verenig uiteindelik onder sy leiding (2 Sam 3:33).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.