Skip to main content

1 Petrus 1

Jubel oor God en leef uit die hoop

Inleiding

Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer. Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus word in die Bybelteks as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken. Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see! In die proses het hy soms foute gemaak. ‘n Oor afgekap. Jesus kon Malgus se oor darem genees in die tuin van Getsemane (Joh. 18:10).

Soms het Petrus egter bitterlik gehuil oor sy beperkinge. In die tuin toe hy die Here Jesus drie keer verloën het. Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk.

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd. Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad. Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees. In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

Dit sal jou dus loon om in diepte sy menswees en bediening na te speur in die NT. Dit sal ‘n redelike omvattende studie wees, aangesien daar ongeveer 180 verwysings na hom in die NT is. Die dertig plus groter verhale oor hom sal ‘n uiters fassinerende studie wees as ‘n venster op hierdie geloofsheld se unieke pad met God. Daaruit sal jy baie kan leer wat ons op ons eie pad met God kan inspireer.

Die eerste brief van Petrus

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die middel sestigerjare van die eerste eeu n.C. uit Rome (aangedui as Babilon in die brief – 1 Pet. 5:13 – soos dit ook in Openbaring gedoen word – Openb. 14:8; 17:5).

Daar is twee oorwegings vir die datum vir 1 Petrus. Die eerste oorweging is die feit dat dit uit Petrus se brief duidelik is dat lyding en vervolging van Christene begin toeneem het, en ons weet dat dit juis in die sestigerjare onder keiser Nero die geval was. Trouens, die eerste amptelike vervolging van Christene deur die staat is deur Nero begin in 64 n.C. toe hy onverdiend die Christene vir ‘n brand in Rome verantwoordelik gehou het. Dieselfde geld Paulus se tweede brief aan Timoteus.

Die tweede oorweging vir hierdie datering is die feit dat Petrus ‘n marteldood gesterwe het in Rome aan die hand van keiser Nero êrens tussen die jare 64-68 n.C. Omdat Nero in 68 n.C. dood is, moes dié brief voor 68 n.C. geskryf gewees het. Dieselfde geld Paulus se tweede brief aan Timoteus. Hy is ook deur Nero tereggestel. Maar, omdat Petrus na Paulus verwys in sy tweede brief (2 Pet. 3:15-16), kan ‘n mens die twee briewe van Petrus vóór die tweede brief van Paulus aan Timoteus plaas.

Die brief aan die Hebreërs is ook in hierdie tyd geskrywe, ook weens die verwysing na vervolging, maar die volgorde tussen die briewe is moeilik bepaalbaar. Ek plaas dit ná 2 Timoteus.

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet. 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Hy doen dit egter op ‘n ander manier as wat Jakobus dit gedoen het in sy eie brief (Jak. 1:1). Jakobus het Joodse Christene bedoel, terwyl Petrus duidelik van Christene uit die heidennasies praat (vgl. 1 Pet. 1:14: “As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike neigings van vroeër toe julle nog sonder kennis was nie.”; 2:10: “Julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is …”; 4:3: “Julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen …”).

Die term vreemdelinge dui dus aan die een kant die vreemdelingskap van Christene aan binne die politieke bedeling van die streke waar hulle woon. Aan die ander kant sluit Petrus hulle met die term Diaspora ook duidelik in binne die een volk van God wat verspreid is oor die aarde, iets waarvoor sy oë die eerste oopgegaan het in die vroeë kerk, soos die verhaal van Kornelius bewys (Hand. 10).

Hoewel die brief waarskynlik ook die status van ‘n omsendbrief gehad het en deur baie gemeentes ontvang is, rig Petrus dit ook spesifiek aan Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1). Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie. Trouens, Paulus is deur die Heilige Gees verhinder om in Asië en Bitinië te gaan werk (Hand. 16:6-7) wat tot die evangelisering van Europa gelei het met die werk wat in Filippi begin is in antwoord op die roepstem van die Masedoniese man in Paulus se nagvisioen.

Sou dit dus gebiede wees wat Petrus besoek het en onder wie hy die evangelie verkondig het? Hy praat immers van homself ook as ‘n sendeling na die heidene en verwys daarna as iets wat aan die vroeë kerk bekend was (Hand. 15:7-8). Was dit moontlik die rede hoekom die Gees van Jesus Paulus verhinder het om daar te gaan werk, omdat Petrus reeds daar aan die werk was? Ons weet nie, maar die moontlikheid prikkel ‘n mens se verbeelding.

Wat ons wel weet, is dat die wyse waarop die vyf gebiede genoem word ‘n natuurlike roete van opeenvolgende besoeke sou kon beteken, omdat ‘n mens by een van Pontus se hawens sou kon aandoen in die noordooste, die roete deur Galasië kon volg (die noordelike provinsie – Paulus se brief aan die Galasiërs is waarskynlik aan die suideliker etnies-geografiese streek in Turkye gerig, wat ook Galasië genoem is), dan afswaai meer na die binneland in Kappadosië en die roete verder wes na die provinsie Asië kon volg, en dan weer opswaai na die noordweste in Bitinië om weer die reis per boot na Rome te kon voortsit.

Die vraag kan dus gevra word of Petrus in die wyse waarop hy hulle noem, verwys na vorige besoeke aan hulle, of dui dit moontlik die roete aan waarlangs Silvanus die brief moes gaan aflewer? Dat Petrus ‘n band met hulle gehad het, is duidelik. Ons weet egter te min om daaroor sekerheid te kan hê.

Petrus skryf die brief in samewerking met Silvanus (1 Pet. 5:12). Dit kan ook wees dat Silvanus die brief volledig geskryf het, gesien in die lig van die hoë kwaliteit van die Grieks in die brief. Silvanus is die Latynse vorm van die naam van dieselfde man wat ons in Handelinge aantref en daar regdeur met sy Griekse naam Silas beskryf word. Hy was sedert Paulus se tweede sendingreis sy vennoot in die bediening en het saam met hom baie deurgemaak, onder andere die tronk ervaring in Filippi (Hand. 16). Silvanus was ook ‘n medeskrywer van Paulus in sy briewe aan die Tessalonisense en het saam met hom en Timoteus gepreek in Korinte (2 Kor. 1:19).

Uit die brief van Petrus lei ons dus af dat Silas nie net van groot hulp vir Paulus in dié se bediening was nie, maar ook vir Petrus. Hoe jammer dat ons nie meer van dié begintyd van ons geloof weet nie!

Petrus dra ook groete oor van (Johannes) Markus (1 Pet. 5:13), dié een wat deur Barnabas, sy oom, met Paulus versoen is ná hulle uitval op Paulus se tweede sendingreis (vgl. Hand. 15:36-41 met Kol. 4:12 en 2 Tim. 4:11). Markus was dus ook by beide Paulus as Petrus betrokke. Volgens oorlewering het Markus sy evangelie geskrywe aan die hand van die herinneringe van Petrus en is dit daarom geen wonder nie dat ‘n mens baie ooreenkomste kry tussen die evangelie van Markus en die twee briewe van Petrus nie, bv. die fokus op Jesus as die Lydende Kneg van Jesaja (vgl. Mark. 10:45; 1 Pet. 1:18).

Teks en konteks

Petrus begin sy brief met ‘n helder trinitariese visie op God – 1 Pet. 1:1-2. Hy kies drie aspekte van God se verbintenis aan hulle uit om die gelowiges te bemoedig:

  1. God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af,
  2. die Heilige Gees se heiligmakende krag om hulle tot gehoorsaamheid aan God te begelei, en
  3. die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus wat nie net iets is wat met die doop gebeur het nie, maar inderdaad deur hulle hele lewe hulle reinig om voortdurend met God in verhouding te kan staan.

Dit volg hy op met ‘n verdere lofrede op God – 1 Pet. 1:3-5 – waarna hy van hulle op hulle beurt ‘n paar verbintenisse vra:

  1. Hy roep hulle op om oor hierdie God te jubel – 1 Pet. 1:6-12 – en
  2. uit die hoop wat God gee, te leef – 1 Pet. 1:13-25. Dit sluit in dat hulle hele persoonlike lewenswandel heilig moet word (13-21), en dat hulle mekaar in die geloofsgemeenskap innig met rein harte moet liefhê (22-25).

Dit sal opgevolg word met verdere oproepe in die volgende hoofstukke:

  • om te fokus op geestelike groei binne die geloofsgemeenskap – “laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis” (1 Pet. 2:1-10),
  • sowel as op ‘n lewe van respek in die publieke gemeenskap (1 Pet. 2:11-17),
  • wat gewys moet word in arbeidsverhoudinge (1 Pet. 2:18-25),
  • die huwelik (1 Pet. 3:1-7),
  • en ‘n goeie leefwyse (1 Pet. 3:8-16).

Dit is immers wat dit beteken om Christus na te volg as mense wat deur God uitgekies is, en daarom as vreemdelinge in die wêreld lewe.

Die Drie-enige God is aan julle verbind – 1 Petrus 1:1-2

Petrus rig sy brief aan die “vreemdelinge van die Diaspora” en dui daarmee die Christene uit die heidennasies aan wat verspreid in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, woon. Petrus het duidelik ’n band met dié gelowiges, hoewel ons nie presies weet hoe dit gebeur het nie.

Die drie aspekte wat Petrus in vers 2 van die Drie-enige God se verbintenis aan hulle uitspel, is baie bemoedigend en eintlik al genoeg om vandag oor na te dink:

  1. “Hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader ….”

God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af dui aan dat God se verhouding met sy mense iets is wat in Homself begin het. Die Griekse woord wat hier met voorkennis vertaal word, is die woord prognôsis wat ons natuurlik ook sal herken in die mediese term prognose. God het dus vooraf geweet dat Hy ons gaan kies! Hy het vooraf besluit om ons te ken!

God se keuse vir en van ons is daarom nie maar ’n tydelike bevlieging nie, maar het ’n ewige karakter. Sy voorkennis is ook nie gebaseer op hóé sy mense is nie, óf wat hulle gedoen het of nog sal doen nie, maar gebaseer enkel en alleen op grond van sy eie genadige voorneme. Voorkennis beteken dus: God het geweet wat Hy gaan doen.

Sy uitverkiesende besluit is daarom gebaseer nie op wat ons gaan doen nie, maar op wat Hy gaan doen. In sy genade het Hy besluit, voordat ons kon kies of kon vra, om met ons die pad te stap na die nuwe koninkryk wat Hy gaan vestig.

Dieselfde gaan in vers 20 oor sy voorkennis van die Christus gesê word, dié een wat in tyd aan ons geopenbaar is. Hy het ook vooraf geweet dat Hy Jesus as die Christus gaan bekendstel.

Oor só ’n voorkennis en uitverkiesing kan ’n mens net juig. Trouens dit is al manier om daarop te reageer. God se keuse vir ons kom dus nie net uit die verre verlede nie. Dit kom uit die tydlose ewigheid voor alles tot stand gekom het wat ons as die heelal ken! Tóé al het Hy geweet Hy gaan ons kies om deur die Gees heilig gemaak te word sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.

Ons het dus in God se gedagtes bestaan, lank voor ons die lewenslig aanskou het. Wat ’n diep voorreg en vreugde is dit nie!

  1. “om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees ….”

Die Heilige Gees se heiligmakende krag begelei hulle tot gehoorsaamheid aan God. Ons dink nie genoeg hieraan nie. Heiligmaking is net so ’n geskenk van God as wat geloof dit is. Die feit dat ons aan God gehoorsaam lewe, kom ook van Hom af. Hy het geweet Hy gaan ons heilig maak sodat ons Hom kan ken. En Hy is besig om dit nou uit te voer deur die Gees.

Dit gebeur uiteraard nie sonder dat ons Hom toelaat en met Hom saamwerk nie. Vandaar die oproep in die res van die brief om op God se verbintenis aan ons te reageer met ’n verbintenis aan Hom in die praktyk van die lewe. Maar, heiligmaking bly steeds iets wat die Gees in ons doen, en daarom ’n geskenk van God. God werk dus in ons met die oog op die toekoms. Hy wil ons volmaak saam met Hom in sy koninkryk inneem.

  1. “en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.”

Die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus dui nie net op iets wat met die doop en met wedergeboorte gebeur nie, maar inderdaad op iets wat deur die hele lewe van toepassing is. Die bloed van Jesus Christus reinig ons voortdurend om met God in verhouding te kan staan, soos ’n mens ook in Hebreërs 9:14 lees: “ hoeveel te meer sal die bloed van Christus … ons gewete reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien.

God neem dus ook deur Christus verantwoordelikheid vir ons hede, sodat ons by dié toekoms waarop Hy reeds in die ewigheid besluit het, kan uitkom.

Jubel oor God in allerhande beproewings – 1 Petrus 1:3-12

Met hierdie inleiding is dit geen wonder dat Petrus uitbars in ’n lofbetuiging aan God nie. Hy fokus op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ’n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem.

Let op hoe Petrus in vers 5 ons geloof en die krag van God aan mekaar verbind: “ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing.” Beide God se krag sowel as ons geloof speel ’n rol in ons volharding tot die einde toe. Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het.

Oor hierdie erfenis en hierdie toekoms moet ons jubel … “al moes julle nou eers vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” Daar is immers ’n doel met beproewings – dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is. Die toetsing deur beproewings wys dat geloof beproefd is, dat dit die moeite werd is. En die motivering vir ons volharding kom van ons liefde vir die Here Jesus Christus, in wie ons glo, al het ons Hom nog nie gesien nie. Hy is die Een van wie ons glo dat Hy ons by die verlossing sal uitbring, sodat ons die einddoel van ons geloof kan bereik.

Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete. Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

Wees heilig, want God is heilig – 1 Petrus 1:13-21

Petrus roep hulle daarom op om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand”) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat. Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (11:44-45; 19:2; 20:7).

Hy spel dit nie meer presies hier uit nie – hy sal later meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik wat hierby aanhaak – maar stel dit in die algemeen dat hulle dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe.

Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus. Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof. God se heiligheid moet hulle tot ontsag vir God beweeg, nie om vir Hom bang te wees nie, maar om Hom te gehoorsaam. Hulle verlossing het Hom duur gekos, omdat hulle: “losgekoop is met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” Die offer van Christus het hulle dus in die regte verhouding met God gebring. Hulle hele lewe moet nou vir God geleef word.

Hê mekaar met rein harte innig lief – 1 Petrus 1:22-25

Maar die oproep is nie net om persoonlik hulleself aan God te verbind nie. Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word. Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word. Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word!

Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh. 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18).

Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik. God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is! Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit.

Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!

Boodskap en betekenis

Ja, God het reeds vooraf goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna! Daarin lê die diep evangelie van hierdie teks vir my opgesluit. Dit maak die volharding in beproewings die moeite werd. Dit moedig my aan om onverskrokke heiligheid in alles in my persoonlike lewe na te jaag en as geskenk van God te ontvang. Dit inspireer my om onophoudelik en van harte lief te hê. Want, God die Vader het my van alle ewigheid af lief. God die Seun neem verantwoordelikheid vir my hede en hou my rein. En God die Heilige Gees neem verantwoordelikheid vir my toekoms. Hy sal sorg dat ek die erfenis in besit sal neem. Daarom het ek dit eintlik nou alreeds!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.