Skip to main content

Deuteronomium 25:5-19

Die leviraatshuwelik en ‘n oproep tot regverdigheid en billikheid

Teks en konteks

Moses hanteer vervolgens ‘n uitsondering op die sewende gebod, die sogenaamde leviraat- of swaershuwelik (Deut. 25:5-10) en gee ‘n aantal los uitsprake wat Israel tot regverdigheid en billikheid oproep om oneerlikheid en bedrog te voorkom (Deut. 25:11-16). Hy sluit met ‘n sterk uitspraak teen die Amalekiete (Deut. 25:17-19).

Die Leviraat– of swaershuwelik – Deuteronomium 25:5-10 

‘n Uitsondering op die verbod van egbreuk (sewende gebod) is die sogenaamde leviraat- of swaershuwelik (levir in Latyn beteken swaer) by broers wat saamgebly het op dieselfde stuk grond. Geslagsgemeenskap is in die reël streng verbied tussen swaers en skoonsusters (Lev. 18:16; 20:21), behalwe waar die een broer sterf sonder dat daar vir hom en sy vrou ‘n nageslag verwek is. Dan moes die ander broer sy skoonsuster as vrou geneem het en vir sy broer ‘n nageslag verwek sodat sy naam kon voortleef in Israel. Die vrou mag nie met ‘n buitestander trou nie sodat die grond in die familie bly.

Om dié verpligting nie na te kom nie, was ‘n groot skande, en is in die openbaar bekendgemaak met ‘n spoeg-en-sandaal-uittrek ritueel. Die broer is waarskynlik verdink van ‘n knoeiery om sy broer se deel van die grond wederregtelik in te palm. Sy skoonsuster het hom met minagting in die openbaar gespoeg en sy skoen (sandaal) uitgetrek as teken van sy weiering om sy plig in die familie na te kom. Die familie was doodgewoon belangriker as persoonlike voorkeure en verseker as persoonlike gierigheid. Die verhaal van Juda en Tamar (Gen. 38) is ‘n vroeëre voorbeeld hiervan en dié van Boas en Rut ‘n latere een (Rut 4).

Regverdigheid en billikheid voorkom oneerlikheid en bedrog – Deuteronomium 25:11-16

Moses brei uit op twee praktiese situasies waarin hulle deur die beginsels van regverdigheid en billikheid begelei moes word.

  1. ‘n Vrou mag in ‘n bakleiery nie die ander man se geslagsorgane beseer het in ‘n poging om haar man te help nie. Die doel heilig nie die middele nie. Dit wys ons enersyds hoe belangrik die voortplantingsfunksie gereken is. Daarom is dit ook aangeraak net ná die leviraatshuwelik. Die feit dat hier gepraat word van ‘n hand wat afgesny moet word, wys ons andersyds ‘n praktiese toepassing van die lex talionis reël waar dit nie letterlik nagevolg kon word nie: “’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet.” (Deut. 19:21). In dié geval was dit die hand van die vrou vir die geslagsorgaan van die man.
  2. Jy mag nie groot en klein gewigte gebruik om die massa van produkte te manipuleer nie, een gewig vir aankoop en een gewig vir verkoop. Jy mag nie met groter en kleiner inhoudsmate werk om op soortgelyke wyse mense te bedrieg nie. Jy moet altyd billik en regverdig afweeg en afmeet, word dit opgesom.

Die Here het ‘n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg. Presies wat met die negende gebod (valse getuienis) beoog is.

Die Amalekiete moet uitgeroei word – Deuteronomium 25:17-19

Die Amalekiete was ‘n doring in die vlees van die Israeliete reeds in die woestyn vóór Sinai (Eks. 17) en telkens daarna bv. by die eerste abortiewe Intog (Num. 14). Die Here beveel daarom die Israeliete om hulle geen genade te betoon nie – soos hulle dit nie teenoor die Israeliete gedoen het nie – en hulle uit te wis: “Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.” Dit was deel van die onafgehandelde sake uit die verlede. Die Simeoniete het dié opdrag vervul, soos die Kronieke skrywer ons vertel (1 Kron. 4).

Boodskap en betekenis

In Matteus 22:24 verwys die Fariseërs na die gebruik rondom die Leviraatshuwelik uit Deuteronomium 25:5 om Jesus se lering oor die opstanding te dwarsboom. Jesus troef hulle egter met hulle onkunde van die Skrif: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” Daarmee handhaaf Jesus dus die blywende gesag van die boodskap van die OT.

Interessant genoeg pas Paulus ook Deuteronomium se voorskrif – om osse billik te behandel deur hulle nie te muilband nie, maar te laat eet van dié koring wat hulle help maal (Deut. 25:4) – op die werkers in diens van die evangelie toe. Die arbeider is sy loon werd (1 Kor. 9:9; 1 Tim. 5:18). Dit wys net hoe integraal die twee dele van die Bybel, die Ou en Nuwe Testament, aan mekaar verbind is.

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…