Skip to main content

Psalm 121

God, jou Beskermer, slaap nie

Psalm 121 lyk asof dit spesifiek vir die Pelgrims geskryf is. Dit pas egter ook in Dawid se “woestyntyd”. Ek plaas dit dus direk ná Psalm 120. Dit was ook die gebed aan die einde van die dag wat elke Jood gebid het met die aandgebed (Maariv). Lees meer daaroor hier.

Teks en konteks

Die Psalm verwoord die bewussyn van pelgrims dat hulle nie op hulle eie die gevaarlike tog na Jerusalem kan aanpak, sonder dat die Here as hulle Beskermer optree nie. Trouens, sy beskerming is nodig in elke faset van die lewe.

Die Psalmis kyk dus op na die berge en vra amper op ‘n retoriese wyse vanwaar sy hulp sal kom. En antwoord onmiddellik dat dit van die Here, die Skepper (Maker) van die hemel en die aarde af sal kom.

Die berge kan op verskillende maniere geïnterpreteer word (negatief of positief):

  • Dit kan die fisiese berge wees wat ‘n uitdaging was op hulle reis (vgl. Ps. 23:4 se “donker klowe”) (negatief).
  • Dit kan ook die berge van die ”gode” wees wat as ‘n bedreiging geskets word, waarteen die Skepper van die hemel en die aarde die beskerming kan bied (negatief).
  • Dit kan die berge van Jerusalem wees waarop die tempel gebou was as simbool van God se teenwoordigheid (positief).

Die beskrywing van God is dan met die negatiewe interpretasie ‘n uitkoms in gevaar, en met ‘n positiewe interpretasie die bron van die uitkoms in gevaar. Hoe dit ook al sy, die Psalm besing dus die beskerming van die Here teen fisiese en geestelike gevaar. Regdeur word die klem daarop geplaas. Ses keer word verskillende verbuigings van die Hebreeuse woord beskerm of wag hou (sjâmar) gebruik wat op God se beskerming van die pelgrims van toepassing gemaak word.

Dié Psalm bely dus ‘n God wat op omvattende wyse vir sy mense sorg. Hy is paraat in elke omstandigheid wat hulle kan tref. En Hy doen dit: “nou en vir altyd”:

  • Twee keer word gesê dat dié Beskermer van Israel nie insluimer of slaap nie, d.w.s Hy sal dus nie toelaat dat jou voet struikel nie. Hy is met jou in alles wat jy doen (121:3). GOD LAAT NIE TOE DAT JY STRUIKEL NIE.
  • Die Beskermer doen dit nou en vir altyd, d.w.s. Hy sal nie soos ‘n wag op diens aan die slaap raak nie. Hy is dus met jou selfs wanneer jy slaap (121:4,8). GOD HOU ALTYD WAG OOR JOU.
  • Hierdie Beskermer is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie (121:5). GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Hierdie Beskermer sorg dat die son jou nie bedags “dodelik tref” nie en snags ook nie die maan nie (121:6). Die son en maan is baie keer met “gode” verbind. Dit kan ook as metafore staan vir alles wat ‘n mens kan tref regdeur die dag. God is dus daar waar jy nie noodwendig beheer het nie. GOD SORG VIR JOU TEEN BOSE AANVALLE.
  • Die Beskermer beskerm teen alle onheil wat jou lewe bedreig. Hy is daar waar jy geen impak kan maak uit eie krag nie (121:7). GOD SORG VIR JOU IN ALLE ONHEIL.
  • Die Beskermer sorg vir jou uitgaan en jou terugkoms, d.w.s. wanneer jy van die huis af weggaan en wanneer jy daarheen terugkeer (121:8). GOD SORG VIR JOU OP ELKE REIS.

Boodskap en betekenis

Jy kan dus vandag ingaan met dié versekering van God as Beskermer. Daar is nie ‘n beter belofte as dít nie. Jy kan op Hom staatmaak en van Hom afhanklik lewe. Hy is in staat om vir jou te sorg.

In die NT word dié belydenis uitgebrei dat hierdie beskerming van God nie net met aardse beskerming te make het nie, maar veral met die beskerming vir God se koninkryk. Ons oog is dus nie meer soseer op die aardse Jerusalem gerig nie, maar op die hemelse Jerusalem. Ons kan dié Psalm dus ontvang as ‘n belofte dat die Here ons sal beskerm om in sy hemelse koninkryk aan te kom. Soos Paulus dit ook bely: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…