Skip to main content

Esegiël 15

Jerusalem sal soos ‘n wingerdstok verbrand word

Esegiël sluit met dié kort gelykenis aan by ‘n baie bekende tradisie onder die profete, die beskrywing van Israel as die wingerd van die Here: Jesaja 5; Hosea 10; Jeremia 2 (vgl. ook Jakob se verwysing na dié metafoor in sy gebed vir sy nageslag in Gen. 49:22). Die metafoor van Israel as die wingerd van die Here vorm ook die basis van die gebed vir herstel uit ballingskap in Psalm 80.

Teks en konteks

In teenstelling met die positiewe beskrywing van Israel as die wingerd van die Here, noem die Here hulle egter nou ‘n afgesnyde wingerdhout wat nie beter is as enige ander kreupelhout in die bos nie. Terloops, ‘n kreupelbos bestaan uit laag, deurmekaar groeiende houtagtige struike en bome. Dit is dus ‘n bos wat van baie minder waarde as ‘n aangeplante goedversorgde wingerd is.

Maar as die wingerd afgekap is, deug die wingerdhout vir niks meer as die kreupelhout nie. Net soos kreupelhout deug wingerdhout dan vir niks beter as vuurmaakhout nie. Jy kan dit nie gebruik om iets van te maak of iets aan op te hang nie. Die enigste nut daarvan is om daarmee vuur te maak.

En dít is presies wat die Here nou met die inwoners van Jerusalem gaan doen. Hy gooi hulle soos wingerdhout in die vuur, die vuur van God se toorn, die vuur van God se teenstand. Dit hét al gebeur met die vorige wegvoerings – “hulle kom uit die vuur” – en sal nou wéér gebeur – “maar die vuur sal hulle verteer”. Hulle land sal verlate word, omdat hulle in ballingskap weggevoer sal word. Dán sal hulle besef dat Hy die Here is.

Boodskap en betekenis

Dié gelykenis stem ‘n mens moedeloos. Hoe kan ‘n wingerd só verword dat dit vir niks beter as ‘n kreupelbos deug nie? Hoe kan die volk van God só afvallig word dat die enigste raad die vuur van ballingskap is? Dit is egter inderdaad wat met die volk in hierdie tyd gebeur het. Skaars 5 jaar later het Jerusalem geval en het ‘n tyd van groot ontwrigting vir hulle aangebreek.

Psalm 80 sluit aan by dié gedagtegang van Esegiël en transformeer die moedeloosheid oor die toestand van die “wingerd van die Here” in ballingskap tot ‘n moedige gebed vir hulle herstel.

Ek het vroeër só daaroor geskryf:

Die Psalmis span die beeld van Israel as wingerdstok in om die Here tot aksie te beweeg, om tog uit die hemel af te kyk (vers 15) en Hom oor Israel, oor sy wingerdstok, te ontferm en weer onder Sy sorg te neem. “Hou in stand wat U met u eie hand geplant het, die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!” (vers 16).

Daarom bid Hy dat die Here Hom nie net oor die heelal sal bekommer nie, maar oor sy mense met wie Hy in ’n intieme verhouding is, Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem. En hy vra dat die volke wat Israel vernietig het eerder tot niet sal gaan (vers 17). “Dán sal ons nie weer van U af wegdraai nie … dan sal ons u Naam aanroep!” (vers 19).

’n Subtiele boodskap is verskuil in vers 18 wat nie in die 1983 vertaling raakgesien kan word nie. Dit is dat die gebed van die metafoor van wingerdstok skuif om oor ’n individu te praat wat die Here uitgekies het en God tot aksie in beweging moet bring. Die 2014 vertaling help ’n mens om dié subtiel boodskap raak te sien: “Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het.”

Uiteraard bedoel dit hier nog in die eerste plek die volk Israel, maar in die lig van die NT gebeure kan ’n mens nie anders as om iets van die NT vervulling hierin raak te sien nie. Geen wonder dat dié metafoor in die NT nie op die volk van God van toepassing gemaak nie, maar wel op Jesus, die Seun van God, wat die fundamentele verandering wat God in die nuwe bedeling teweegbring – deur self die basis van hulle gemeenskap te word in die God-mens Jesus – uitdruk (Joh. 15:1-8). Die NT dra dus die boodskap dat die hoop vir verandering nie in die herstel van die volk opgesluit lê nie, maar in die redding wat Jesus bring. Iets wat reeds in Psalm 80 op verskuilde manier teruggevind kan word.

Psalm 80 help ons dus om die regte respons op die negatiewe boodskap van Esegiël 15 te gee. Die lewe van die Godsvolk is van God afhanklik en sy sorg is ons enigste hoop. Hy is in staat om die onmoontlike moontlik te maak. In ons inlywing in Christus Jesus, God se ware wingerdstok, is ons heil opgesluit. Waar ons as lote op die ware wingerdstok ingeplant is en in Hom bly (Joh. 15), daar sal ons ervaar dat Hy vir ons op besondere maniere kan en wil sorg.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…