Skip to main content

1 Kronieke 28-29

Dawid motiveer en mentor Salomo vir sy roeping om die tempel te bou

Aan die einde van die eerste boekrol waarop 1 Kronieke geskryf is, word Dawid se laaste opdragte oor die bou van die tempel en Salomo se koningskap weergegee. Dit is in die vorm van:

  1. Dawid se oorleg met al die gesagdraers van die hele Israel (28:1),
  2. twee toesprake aan die leiers (28:2-8; 29:1-9) en twee gesprekke met Salomo (28:9-10; 28:20-21),
  3. die voorsiening van ’n model van die tempel aan Salomo (28:11-19) en
  4. ’n lofprysing aan die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering van leiers (29:10-20).

Die Kronis sluit die verhaal van Dawid en die tempel af met ’n beskrywing van die volk se feesvieringe en ’n eed van getrouheid aan Salomo (29:21-25) sowel as ’n laaste oorsig oor die koningskap van Dawid (29:26-30).

Teks en konteks

Dawid kry al die gesagdraers van Israel betrokke

Dawid werk met baie oorleg en kry alle gesagsdraers by mekaar om hulle aan God te verbind sowel as aan Salomo vir die groot onderneming om die tempel te bou. Dit staan uit as een van die sleutel eienskappe van sy leierskap dat Dawid baie wyd konsulteer om mense, veral leiers, betrokke en ingekoop te kry. Dit sluit almal wat in die vorige hoofstukke gelys is en gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, die leiers oor duisend, die leiers oor honderd, die opsigters van sy besittings en vee, sy seuns, die hoofbeamptes, die oorlogshelde, ja, “al die manne van betekenis”.

In sy eerste toespraak aan die leiers beklemtoon hy in die eerste plek die rol wat God in elke detail van sy eie lewe en in die besluite rondom die tempel en die koningskap gespeel het. God het Salomo nie net as koning gekies nie, maar ook om die tempel te bou. Dawid was ongeskik vir dié rol omdat hy gebruik is om die koninkryk te vestig en baie bloed in die proses vergiet het.

Let op hoe Dawid God se keuse vir Salomo sterk stel en tog nog aan Salomo se gehoorsaamheid sowel as die gehoorsaamheid van die volk verbind in die tweede plek. Daarom roep hy almal op: “Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here en ten aanhore van ons God” om die gebooie van die Here – die bekende opgetekende wil van God in die gesagvolle boeke van die Bybel van daardie tyd – te onderhou en ondersoek. Dit sal ’n langtermyn effek op hulle verbintenis aan God hê en aan die land waar Hy hulle laat woon het.

In die tweede toespraak beklemtoon Dawid sy eie bereidheid om Salomo te ondersteun met die oorvloed van materiaal wat hy “met alles in my vermoë” vir die huis van God in gereedheid gebring het. Daarmee motiveer Dawid die volk op deurslaggewende manier met sy voorbeeld om die bouwerk te ondersteun en dit lei tot ‘n groot betrokkenheid van almal: “Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.” Let op dat selfs die amptenare in diens van die koning bygedra het.

Dawid motiveer en mentor vir Salomo

In sy twee toesprake aan Salomo fokus Dawid op twee sake: die motivering en mentoring van Salomo.

Die eerste toespraak (28:9-10) gee ’n sinopsis van wat belangrik is in enige verhouding met die Here. Die dinge waarop Salomo moet fokus, is:

  • om die Here te ken,
  • die Here met sy hele hart te dien en met ’n gewillige gemoed (siel) – ’n mens hoor die Here Jesus se opsomming van die wet hier weerklink,
  • deur na Hom te vra en Hom te raadpleeg (met die voorbeeld van Dawid as rigsnoer),
  • deur te besef dat die Here hom gekies het om die heiligdom te bou (God se roeping vir Salomo),
  • en nou prakties te doen wat God sê: “Pak nou die werk aan en doen dit!”

Dawid motiveer Salomo egter nie net met ’n herinnering aan die in standhou van sy verhouding met God en sy roeping nie. Hy mentor Salomo ook deur aan hom ’n argitektoniese model te gee van die tempel sowel as ’n skriftelike kosteberekening vir die bou daarvan. Let op hoe twee kante in die totstandkoming van Dawid se visie vir die tempel beskryf word:

  • Dawid se verbeelding (“Dit is ’n model van alles wat hy hom voorgestel het” – 28:12) en
  • God se openbaring (“Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur ’n openbaring van God te wete gekom” – 28:19).

Dit is ’n uitstekende illustrasie van hoe God se werk en ons werk saamwerk.

In die tweede toespraak van Dawid aan sy seun fokus hy weer op motivering, maar dié keer meer op wat God vir Salomo sal gee, sowel as op wat die volk se verbintenis is: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel. Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.”

Dawid se lofprysing aan die Here

Dawid praat egter nie net met die leiers en met Salomo nie. Hy praat ook met God in hulle almal se teenwoordigheid. Sy gebed van lof en dank aan God sentreer om die frase: “Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.” (29:14).

Let op hoe belangrik Dawid die hart van die mens reken in dié gebed. Dit is die een ding wat hy van God vra, dat God wat die harte vir opregtheid ondersoek, vir altyd hierdie gesindheid van vrygewige opregtheid in die gemoed van die volk sal behou: “Rig hulle hart op U” (29:18).

Daarna begelei Dawid die volle vergadering ook in lofprysing en almal het gekniel in huldebetoon voor die Here. Die volgende dag het hulle offers gebring en met uitbundige vreugde geëet voor die Here. Hulle het vir die tweede keer vir Salomo as koning verklaar en aan hom trou gesweer. ’n Ware luisterryke geleentheid.

Die Kronis sluit af met ’n oorsig oor Dawid se “vol lewe, ryk en geëerd.”

Boodskap en betekenis

Ons gaan nog ‘n paar Psalms uit Dawid se hand lees, sowel as sy laaste woorde (2 Sam 23:1-7) en die uiteindelike oorgee van die koningskap aan Salomo in 1 Konings 1. Maar, die prentjie wat ‘n mens nou reeds oor en oor gekry het, is van Dawid as ‘n mens wat met sy foute en al voluit die Here gedien het. Hy was waarlik ‘n man na God se hart. Sy nalatenskap is legendaries. Geen wonder dat die Messias juis sy nageslag moes wees, Iemand wat sy goeie kwaliteite kon bevestig, en sy swak kwaliteite te bowe kon kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda