Skip to main content

Genesis 20

Abraham tree as profeet op ten spyte van sy onbehoorlike gedrag

Teks en konteks

Hierdie verhaal vertoon groot ooreenkomste met Abram se verblyf in Egipte toe daar ‘n hongersnood was in Kanaän (Gen. 12). Hierdie keer trek Abraham na die grens tussen Kanaän en Egipte en gaan bly daar tussen Kades en Sur in Gerar op die suid-oostelike grens van Kanaän.

Soos die vorige keer in Egipte gee Abraham voor dat Sara sy suster is. Hierdie keer gee hy vir ons meer detail. Sy is inderdaad sy halfsuster. Hulle het dieselfde pa, Tera, maar ‘n ander ma (Gen. 20:12).

Die koning van Gerar, Abimelek, laat haar haal om met haar te trou. In twee drome die nag waarsku God hom om nie met ‘n getroude vrou te trou nie. Dit sal hom sy dood kos. Soos Abram by die Here gepleit het vir die regverdiges in Sodom en Gomorra, pleit Abimelek vir sy onskuldige nasie, want hy het dit onskuldig en sonder slegte bedoelings gedoen.

Interessant genoeg kom ‘n mens in die tweede droom agter dat die Here agter die skerms gewerk het om te keer dat Abimelek teen God sondig – let wel nie teen Abraham of Sara nie! – en het hom gekeer om aan haar te raak.

Abraham word as ‘n profeet beskryf – die eerste persoon wat so genoem word in die Bybel – wat vir Abimelek sou intree deur gebed, een van die belangrikste take van ‘n profeet. Hulle was mense wat naby aan God gelewe het en daarom as Intersessors en Woordvoerders van God opgetree het.

Abimelek het na God geluister, maar nie sonder om Abraham te betig vir sy “onbehoorlike gedrag” nie! ‘n Mens kon verseker meer verwag het van iemand wat naby aan God gelewe het: “Wat het jou besiel om so iets aan te vang?” Voorwaar, sou ‘n mens saamstem.

Abraham se reaksie verskoon hom nie, maar gee ‘n mens insig in die geweldige uitdaging om God te dien in ‘n omgewing wat sedeloos en goddeloos lewe. Abraham moes egter leer om die Here te vertrou, al was daar geen ondersteuning in die samelewing of selfs in sy wyer familiekring nie.

Abraham en Sara word oorlaai met rykdom en word die vryheid van die land aangebied. Let op hoe Abimelek spesifiek vir Sara uitsonder om te wys dat alles in orde is, en sodat niemand sou skinder oor wat moontlik tussen hulle kon gebeur het nie.

Abraham se gebed herstel die situasie vir Abimelek en sy mense sodat die normale verwagting van vrugbaarheid herstel, ironies, want die volgende hoofstuk vertel vir ons dat Sara uiteindelik die seun van die belofte ontvang het. Dit is selfs moontlik dat sy al swanger was met dié episode in Gerar. Wie weet!

Betekenis

1. Dit tref my hoe God oor sonde dink. Wat moontlik tussen Abimelek en Sara kon gebeur het – en onthou Dawid het doelbewus dié grens oorgesteek met Batseba – sou nie net op ‘n horisontale vlak vir hulle probleme geskep het nie, maar ook in hulle vertikale verhouding met God. Dawid erken dit in sy roerende boetepsalm as hy sê: “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.” (Ps. 51:6).

Sonde het altyd met God se wil vir die lewe te make. Waar ons dit oortree, bring ons nie net ons eie verhoudinge met mekaar in gedrang nie, maar nog dieper ons verhouding met God. Dit is waarom sonde ook nie deur ‘n verskoning uit die weg geruim kan word tussen mense nie. Dit behels altyd vergifnis van God se kant af, soos die gebed van Abraham inderdaad bewerk, selfs al was Abraham in die eerste plek eintlik verantwoordelik vir die gevaarsituasie vir Abimelek en Sara.

2. Dit tref my ook hoe God in die midde van dié potensiële dilemma optree. Mense kon miskien dink dat Sara by Abimelek swanger geraak het, wat God se hele idee van die kind van die belofte in die gedrang sou gebring het. Die Here sorg dat dit vir almal duidelik is dat Hy aan die werk is, beide in die feit dat Abimelek nie die troue voltrek nie, sowel as in die publieke bewussyn van wat hier aan die gang was. God werk in ons gedagtes en gedrag op subtiele en tog helder maniere.

Dit versterk my vertroue op God dat Hy op soortgelyke maniere in my lewe sal optree. Dat Hy my kan bewaar van die onnosel dinge wat ek onwetend kan doen. Dat Hy my sal lei in gedagtes en gedrag om in gehoorsaamheid aan Hom te volhard. Dat Hy my in die gelyk sal stel as ek oop en eerlik lewe.

3. Dit tref my ook watter rol van profete verwag word: Intersessors en Woordvoerders. Ek weet nie almal is profete soos wat Abraham was, en soos wat ons in die lewe van Moses, Samuel, Elia, Elisa en die ander groter en kleiner profete van die OT kon sien nie. Maar gelowiges het almal ‘n rol in ander se lewe in terme van voorbidding en getuienis. Dit is ‘n profetiese rol. Wanneer jy naby aan die Here lewe, is dit eintlik onmoontlik om nie voorbidding te doen en vanuit jou verhouding jou oortuigings met ander te deel nie. Moet dus nie jou verhouding met God verwaarloos nie, en kom jou verantwoordelikheid na om te bid en te getuig.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda