Skip to main content

Psalm 34

Die Here red dié wat by Hom skuil

Die Psalm is ‘n akrostiese Psalm met die verse wat opeenvolgend met letters van die Hebreeuse alfabet begin. Die eerste vers roep die gebeure in 1 Samuel 21 in herinnering. Die naam Abimeleg kom egter nie in Samuel voor nie. Abimelek kan of ’n skryffout wees vir die priester Agimelek, óf, meer waarskynlik, ‘n Filistynse titel Abimelek – my vader is koning – waarmee koning Agis beskryf word (soos farao ‘n titel vir Egiptiese konings was).

Dawid en Agis het ‘n hele paar kontakte gehad in Dawid se moeilike “woestyntyd”. Dit was egter uitdagend vir Dawid. Hy moes baie fyn trap om nie uitgevang te word nie. Selfs homself kranksinnig hou om ‘n keer uit Agis se kloue te ontsnap. Hy moes in die proses baie gevare trotseer (waarvan jy ook in 1 Sam 27-29 kan lees).

Teks en konteks

Twee temas bind die Psalm se onderskeie uitsprake saam: dankbaarheid en wysheid.

Dawid begin om die Here te loof en die geloofsgemeenskap uit te nooi om dieselfde te doen. Hy roem in of spog oor die grootheid van die Here, as aanmoediging vir ander om Hom te dien.

Hy loof God omdat Hy hoor en optree. Hier praat hy spesifiek daarvan dat die Engel van die Here (vers 8) intree en die dienaars van die Here beskerm. Daar is nie ’n spesifieke verhaal van Dawid wat ’n mens hiermee kan verbind nie, hoewel daar natuurlik baie ander verhale in die OT is wat as agtergrond kan dien. Dink bv aan Josua 5:13-15 met die oorwinning oor Jerigo, waar die Engel van die Here ‘n rol gespeel het. Ook die verhaal van Elisa in die konflik met die Arameërs, 2 Konings 6, waar Gehasi se oë oopgemaak word om die engeleskaar te sien wat hulle beskerm. Deur die eeue het baie mense al vertel dat hulle beskerm is soos vers 8 getuig.

Die punt is, dié wat by Hom skuil, word nie teleurgestel nie. En daaroor kan ’n mens net juig, en dankbaar wees.

Dit gee ons die motivering om nog beter te leer hoe om die Here te dien – en met wysheid en oorleg te leef. Só ’n lewe sluit beide woorde en dade in, en kan saamgevat word in:

  • die vermyding van kwaadpraat, leuentaal en kwaaddoen, en
  • die fokus op goeddoen, vredesoek en vrede najaag (vers 13-15).

Van vers 16 af kontrasteer Dawid dan hierdie twee maniere van leef,

  • die wysheid van die regverdiges wat in God hulle fokus vind, en
  • die dwaasheid van die goddeloses wat in hulleself hulle fokus soek. Hy dink hier miskien ook aan sy eie pogings om in ‘n vreemde gebied by die Filistyne te gaan skuiling soek, totdat Gad hom oortuig het om liewer in Judese gebied, tussen sy vriende, te gaan skuiling soek van die gevaar van Saul (1 Sam 22).

En sy ervaring is dat die Here sorg vir die regverdiges, maar nie vir die goddeloses nie. Let op dat die goddeloses se ondergang as die gevolg van hulle eie kwaad beskryf word: “Die kwaad wat die goddelose doen, bewerk sy eie ondergang” (vers 22). Dwaasheid boemerang op jou, soos dit uiteindelik met Saul die geval was. Dit is duidelik dat God eintlik sy hand van bewaring teruggetrek en Saul aan sy eie planne oorgelaat het, wat uiteindelik op rampspoed afgestuur het.

Maar God sorg vir die gebrokenes, en die moedeloses (spiritually crushed!), dié wat na Hom vra en dié wat Hom soek en wat toelaat dat Sy wil hulle lewens bepaal. Soos Dawid in die woestyntyd van sy lewe geleer het.

Let op dat die Psalm beklemtoon dat God se teenwoordigheid IN krisisse ervaar word, en dat wysheid beteken om aan die Here vas te klou ten spyte van wat ook al met jou gebeur.

Vers 21 het ‘n besondere toepassing in die Nuwe Testament gekry aan die kruis. Johannes gebruik waarskynlik hierdie vers in Joh 19:26: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

Boodskap en betekenis

Psalm 34 is ‘n kragtige loflied van dankbaarheid en vertroue in God. Dit dien as ‘n herinnering aan gelowiges dat ons op God kan vertrou om ons te beskerm en in al ons behoeftes te voorsien.

Die punt van hierdie Psalm is dat dié wat by God skuil nie teleurgestel word nie. En daaroor kan ’n mens net juig, en dankbaar wees. Daar is ‘n veilige hawe by God en sy mense te vinde. Dit is waarom die geloofsgemeenskap ook so belangrik is.

Hierdie karakter van God – dat Hy sorg vir gebrokenes en moedeloses – motiveer ons om te volhard in ons gebede en gehoorsaamheid.

Maar, die Psalm moedig ons ook aan om ons veiligheid in die wysheid wat God gee, te soek. En nie ons eie planne te maak wat ons in erger gevaar kan bring as waarin ons reeds is nie – soos Dawid dit eenmaal by Agis onder die Filistyne ervaar het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda