Skip to main content

Openbaring 12

God beskerm sy kerk te midde van ernstige vervolging

Openbaring 12-14 fokus weereens op die tydperk tussen die eerste koms van Jesus, sy geboorte en sy tweede koms, die Wederkoms. Johannes deel met ons die wyse waarop God sy verlossende oordeel uitwerk in die geskiedenis.

Openbaring 12 skets die Messiaanse geloofsgemeenskap (swanger vrou) waaruit die Christus gebore is en die stryd met die draak (vers 1-6), die stryd tussen Migael en die draak in die hemel (vers 7-12) en die draak se verdere oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde (vers 13-17).

Teks en konteks

Die stryd van die geloofsgemeenskap met die draak – Openbaring 12:1-6

Die swanger vrou word geteken as beklee met die son, die maan onder haar voete en ’n kroon van twaalf sterre op haar kop. Sy stel die Messiaanse geloofsgemeenskap voor waaruit die Christuskind gebore word.

Die draak word verder in die hoofstuk beskryf as “die slang van weleer” (Gen. 3), “wat duiwel en Satan genoem word”, die verleier van die hele bewoonde wêreld. Hy is moorddadig en gewelddadig met gewaande mag – sewe krone – wat oortref word deur die heerskappy van die Lam – baie krone – soos dit in Openb. 19:12 beskryf word. Hy kry dit reg om ’n derde van die hemelwesens (sterre) saam met hom te neem in sy opstand teen God en sy Seun.

Die draak wil die Christuskind verslind, maar kan Hom nie bykom nie, omdat Hy met sy opstanding en Hemelvaart na God se bestaan opgeneem is vanwaar Hy bestem is om die nasies te regeer, soos Psalm 2 voorspel het.

Die geloofsgemeenskap word in die tyd van (beperkte) verdrukking (1 260 dae = 3 ½ jaar) deur God versorg. Die derde perikoop sal van vers 13 af verder op die stryd van die kerk uitbrei.

Die stryd tussen Migael en die draak in die hemel – Openbaring 12:7-12

Daar is redelik verskil van mening oor die interpretasie van hierdie stryd tussen Migael en die draak. Sommige dink dat dit na ’n oergebeure verwys (Du Rand) en ander dat dit na die kruisgebeure verwys. Ek is geneig om eerder met laasgenoemde interpretasie te werk:

  • Enersyds omdat dit meer sin maak van die parallelisme van die drie gedeeltes in hoofstuk 12:
    • die stryd beskryf in terme van vervulling van die Messiaanse verwagting in die geboorte, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus (vers 1-6),
    • die hemelse stryd spesifiek in die kruisgebeure wat die verlossing gebring het (vers 7-12) en
    • die aardse stryd in die verkondiging van die evangelie deur die kerk in die tyd tussen eerste koms en wederkoms (vers 13-17).
  • Andersyds omdat dit vir my meer sin maak van die visioen van die Satan in vers 9 dat Hy sy posisie in die hemel verloor het, saam met sy engele, anders as bv. in vers 4 waar hy nog in beheer is en toegang tot die hemel het. Dit korreleer ook beter met Jesus se uitspraak dat Hy die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val het as gevolg van die bediening van bevryding deur sy dissipels (Luk. 10:18) wat uiteraard in die kruisgebeure sy hoogtepunt bereik.

Die funksie van dié gedeelte is om die gelowiges te bemoedig dat die mag van Satan gebreek is, dat die oorwinning reeds oor hom behaal is en ook uiteindelik volledig sal wees.

Die verlossing en heerskappy van God het deurgebreek en die aanklaer van die gelowiges het sy posisie in die hemelse hof verloor het.

Dit word sigbaar in die standvastigheid van die gelowiges wat nou op grond van die bloed van die Lam (kruisgebeure) hulle getuienis, selfs in doodsgevaar, onbevreesd en vrymoedig kan volhou. Daaroor is die hemel bly, al beteken die val van die Satan dat die aarde nou vir ’n kort tydjie onder sy woede gaan deurloop.

Die draak se oorlog teen die geloofsgemeenskap op aarde – Openbaring 12:13-18

Die Satan sit sy vervolging van die geloofsgemeenskap voort (vers 13 sit eintlik vers 6 voort), maar moet telkens rekening hou met die sorg wat God vir hulle dra, uitgedruk met die vlerke van die arend, die versorging in die woestyn en die aarde se insluk van die stroom water wat die draak gebruik om die geloofsgemeenskap te probeer vernietig. Die tyd word ook beperk soos dit al in vers 6 aangedui is.

Die stryd teen die geloofsgemeenskap deur die geslagte is egter sonder ophou, maar hulle bly standvastig deur God se gebooie na te kom en die getuienis van Jesus vas te hou. Hulle is gehoorsaam aan God se wil vir die lewe en bly getuig van sy goedheid en genade in Jesus Christus, dinge wat vir tyd en ewigheid belangrik sal bly.

Boodskap en betekenis

Die Messiaanse geloofsgemeenskap word met hierdie visioen gerusgestel dat die Here Jesus reeds sy posisie in die hemel ingeneem het en vandaar nie net regeer nie, maar ook sorg vir sy mense.

Die Here Jesus het met sy kruisdood en opstanding nie net Satan se posisie in die hemel as aanklaer beëindig nie, maar vir alle gelowiges die oorwinning oor die sonde en die dood behaal.

Satan sit uiteraard op aarde sy aanvalle op die geloofsgemeenskap voort, maar die Here gryp op verskillende wyses in en beskerm sy mense deur verskeie ingrypings, soos die simboliek van die arendsvlerke, en die aarde wat Satan se vernietigingspogings neutraliseer, illustreer.

Alhoewel gelowiges dus konstante teenstand ervaar, kan hulle vashou aan God se gebooie en getrou bly aan hulle getuienis. Die uiteindelike oorwinning van God se Koninkryk is seker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda