Sagaria 1:1-2:13
Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring
Inleiding
Die profeet Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai. Hy spreek dieselfde twee leiers aan – Jesua die hoëpriester en Serubbabel die goewerneur – as wat Haggai gedoen het. Sagaria was benewens ‘n profeet ook ‘n priester, as kleinseun van Iddo, die hoof van een van die priesterlike families wat uit die ballingskap in 539 v.C. teruggekeer het (Neh. 12:4).
Sagaria fokus die gedagtes van die volk op die herstel wat God sal bring, onder andere met die herbou van die tempel en die herstel van die leierskap (hfst. 1-8), maar versit ook die horison van hulle verwagting verder na die Lydende Messiaanse koningsfiguur wat sal kom om volkome verlossing te bring (hfst. 9-14). Sagaria se visie is dat God dán erken sal word as die ware koning, nie net in Jerusalem deur sy eie volk nie, maar ook deur die nasies, ‘n boodskap wat in die NT weerklank vind.
Hoofstuk 1-8
Die eerste deel van Sagaria se boek, hoofstuk 1-8, kan gedateer word tussen 520-518 v.C – die tweede en vierde regeringsjaar van die Persiese koning Darius onderskeidelik (vgl. Sag 1:1,7; 7:1), nét na Haggai begin optree het. Sagaria roep die volk op tot gehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap met die herbou van die tempel (soos Haggai) en ‘n heilige lewe. Hy spreek ook baie spesifiek die leierskap aan, en eis van die hoëpriester en goewerneur gehoorsaamheid in die voorbeeld wat hulle aan die volk moet stel. Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek.
Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek, soos in die laaste deel van hierdie deel met visioene uitgespel word (hfst. 7-8).
Hoofstuk 9-14
Die tweede deel, hoofstuk 9-14, is nie gedateer nie, en volg waarskynlik ‘n geruime tyd daarna, moontlik in ‘n tyd toe die voortdurende ongehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap en die gebrekkige voorbeeld van die priesterlike en politieke leiers, die profeet oortuig het dat die verwagte volkome verlossing eers verder in die toekoms tot vervulling sal kan kom.
Hierdie deel bevat twee hoofdele, telkens ingelei met die woorde: “’n Profesie” (9:1; 12:1).
- Die eerste – hoofstuk 9-11 – het te make met God se oordeel oor die nasies, die terugkeer van die volk uit hulle verstrooiing, God se keuse vir ‘n Messiaanse koningsfiguur wat egter verwerp word, en welwillendheid en samehorigheid (uitgebeeld met twee kieries) wat in die gedrang kom in die wêreld.
- Die tweede – hoofstuk 12-14 – raak ook al dié temas aan, maar sien dit nog meer eskatologies, as iets wat aan die einde van alles – op “daardie dag” (12:3,4,6,8,9,11; 13:1,2,4; 14:1,4,6,7,9,13,20,21) – in vervulling sal gaan.
Die hoop lê dus vir Sagaria toenemend op hierdie toekomstige koninklike figuur uit die geslag van Dawid, wanneer Jerusalem uiteindelik die plek sal word waar die volk aan God gehoorsaam sal wees, en nasies daarheen sal stroom om die Here saam met die volk te aanbid.
Uit die NT weet ons dat die belofte van dié koninklike figuur in die Messias, Jesus die Christus, vervul is, soos Matteus 21:5 en Johannes 12:15 dit vir ons aantoon. Die profesie van Sagaria 9:9 is dus in Hom vervul: “Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.” Die feit dat Hy ‘n Lydende Messias sou wees, word egter ook op verskuilde manier in die profesieë aangeraak.
Teks en konteks
Die eerste deel van Sagaria, die priester-profeet, se boodskap, hoofstuk 1-8, word gedateer tussen 520-518 v.C. Dit neem ‘n aanvang so twee maande ná Haggai met sy boodskap rondom die herstel van die tempel begin het, êrens in Oktober 520 v.C. Soos Haggai roep Sagaria die volk op tot gehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap met die herbou van die tempel, maar nog meer spesifiek tot ‘n heilige en gehoorsame lewe.
Hy spel spesifiek in die eerste perikoop, Sag. 1:1-6 uit: “Moenie soos julle voorvaders wees nie.” Hulle was aan God ongehoorsaam en het die straf gekry soos die verbond uitgespel het. Die les wat die geskiedenis die volk nou moes leer, is die volgende: “Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom voorgeneem het om te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.”
Die ongehoorsame voorvaders het dus in ballingskap gegaan soos die profete voorspel het. Die uitsprake van die profete het die voorvaders ingehaal. “Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer julle wees.”
Hierna volg Sagaria se agt visioene wat deur ‘n engel vir hom geïnterpreteer word. Dit is moontlik dat dit by een geleentheid in opeenvolgende gesigte na hom gekom het, omdat net die eerste visioen gedateer word. Die visioene word gedateer in 1:7 op die 24ste dag van die 11de maand van die Joodse kalender, ongeveer twee maande ná Haggai sy laaste boodskap gelewer het. Indien my verstaan van die Joodse kalender reg is, is dit die nag van die 15de Februarie 519 v.C.
Volgens Douglas Stuart (“Zechariah” in How to Read the Bible Book by Book) kan ‘n mens dié agt visioene as volg interpreteer waarin visioen 4 en 5 as die kernboodskap aan die leierskap rondom die herbou van die tempel en die stad (die leiers Jesua en Serubbabel) uitstaan.
Die kernboodskap pas as volg in binne die konsentriese patroon van die res van die agt visioene.
- Visioen 1 en 8 fokus op God se wêreldheerskappy.
- Visioen 2 en 3 fokus op die gevare van buite.
- Visioen 6 en 7 fokus op die gevare van binne.
- Visioen 4 en 5 fokus op die herstel van die tempel en die stad.
‘n Mens kan die visioene dus as volg verstaan:
- 1 – ruiters op perde wat die hele wêreld deurkruis teen die agtergrond van die tempel en die stad wat herbou word – Sag. 1:7-17,
- 2 – vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat kom herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 1:18-20,
- 3 – man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 2:1-13,
- 4 – Jesua die hoëpriester wat verantwoordelikheid neem vir die heiligdom en God wat versoening bring – Sag. 3:1-10,
- 5 – lampstaander en twee olyfbome as ‘n boodskap aan Serubbabel, dat hy deur die Gees van die Here sal slaag om die tempel te herbou – Sag. 4:1-14,
- 6 – ‘n groot vlieënde boekrol, wat vervloeking bring vir dié wat die wet verbreek (diefstal en valsheid – gevare van binne af) – Sag. 5:1-4,
- 3 – man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 2:1-13,
- 7 – ‘n graanmandjie met die vrou daarbinne wat die inherente goddeloosheid in mense voorstel wat deur 2 ander vroue uitgesorteer word (gevare van binne af) – Sag. 5:5-11, en
- 2 – vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat kom herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 1:18-20,
- 8 – vier strydwaens met perde wat weereens die hele wêreld deurkruis en die bevel om Jesua te gaan kroon voorafgaan – Sag. 6:1-8.
Ons lees die eerste drie visoene vandag.
Sagaria 1:7-17 – Visioen 1: ruiters op perde wat die wêreld deurkruis as teken van God se heerskappy
Die eerste visioen behels ruiters op drie kleure perde – bruin (rooi), vos (gespikkeld), en wit – waarvan die eerste ruiter as die leier aangedui word. Hulle was tussen die mirtestruike in ‘n diep kloof. Dit beteken dat hulle self rustig was, soos die engel dan ook aan Sagaria verduidelik dat dié perde die hele wêreld deurkruis het en aan die Here gerapporteer het dat ook die wêreld rustig en stil is.
Teen die agtergrond van die tempel en die stad wat herbou word om vir God se terugkeer na die stad gereed te maak, is dit dus ‘n belangrike boodskap vir die volk. Die Here se heerskappy oor die hele aarde is nie in gedrang nie. Hulle kan voortgaan om die werk te doen wat Hy deur Haggai aan hulle beveel het. Dit is ‘n belangrike boodskap aangesien die fondament van die tempel twee maande terug voltooi is en die rêrige bouwerk stewig aan die gang was.
God gee Homself dus volledig vir die werk in Jerusalem en sal dit ook in die res van Juda doen. Let op hoe God se hart vir hulle geteken word: “Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.” Die Here gaan hulle dus voortaan beskerm teen die nasies. Trouens, sy toorn gaan oor hulle losbreek, omdat hulle verder gegaan het as wat die Here bedoel het met die ballingskap: “My toorn teen Jerusalem was nie so groot nie: dit is die heidennasies wat dit so ‘n groot ramp laat word het.”
Die Here gee daarom ‘n prentjie van oorvloed en seën: “My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed.” In sy genade sal Hy hulle en hulle land volledig herstel.
Sagaria 1:18-20 – Visioen 2: vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat alles weer herstel
Die tweede visioen behels twee prentjies. Die eerste prentjie is van die vier horings wat verstrooi wat op die ballingskap dui. Die tweede prentjie is van die vier ambagsmanne wat die verstrooiing tot ‘n einde bring en die volk nou help om die gevaar van die nasies te kan trotseer, hulle: “die skrik op die lyf te ja en hulel tot ‘n val te bring.” Die Here belowe hiermee dat hulle teen die gevare van buite af beskerm sal word.
Sagaria 2:1-13 – Visioen 3: man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak om die gevare van die nasies te trotseer
Die derde visioen is ‘n uitgebreide gesig van ‘n man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel om sodoende die gevare van die nasies van buite af te kan hanteer. Die proses slaag egter nie, omdat: “Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.” Die Here self: “sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees.” Sy magtige teenwoordigheid sal van binne-af hulle beskerm.
Dié boodskap is egter nie net bedoel vir die mense van die stad nie. Dit is bedoel vir almal van die volk wat na die vier windstreke van die aarde verstrooi is. Die Here se liefde word op ‘n besondere wyse uitgedruk: “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.” Hy belowe dat die situasie van onderdrukking omgekeer sal word.
Die visioen hou egter nie net in dat dinge reggestel sal word vir Juda en Jerusalem nie. Dit sluit in dat die situasie vir die nasies ook sal verander: “Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion.”
Voor dié God kan ‘n mens maar buig en Hom aanbid: “Wees stil voor die Here, al wat leef.”
Boodskap en betekenis
Sagaria gebruik dié drie visioene om die Here se direkte en indirekte betrokkenheid by alles wat gebeur, te verkondig. Dit is bedoel om hulle te motiveer en van God se teenwoordigheid in alles te verseker. Sagaria fokus daarom aanvanklik op die groter prentjie van God se koningskap oor die hele aarde wat die boodskap dra dat die Here die gevare van buite, van die nasies af, hanteer en namens die volk uitsorteer. Daarna fokus Sagaria op dié dinge wat die Here ook binne Jerusalem sal doen wat ook ‘n inspirerende uitwerking daarbuite sal hê onder die nasies. Hulle invloed sal nie gemeet kan word nie!
Hierdie drie bemoedigende visioene verseker dus dat die volk nie net sal fokus daarop om die tempel te herbou nie, maar sal kan fokus op die geloofslewe van die geloofsgemeenskap in gehoorsaamheid aan God. Hulle is soos ‘n “stad sonder mure” wat ‘n baken van God se teenwoordigheid as teken aan die hele wêreld sal wees. Dié visie kan hulle aangryp en met oorgawe uitleef.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar