Skip to main content

Jeremia 46

’n Boodskap aan Egipte

Jeremia gee in hoofstukke 46 tot 51 ’n aantal boodskappe aan nege van die omringende nasies. Dit word gelewer in die verdere uitvoering van sy roeping as “profeet vir die nasies” (Jer. 1:10). Ek gee by elke profesie ’n beskrywing van die waarskynlike kontekste en datums van en motivering vir dié onderskeie profesieë, maar gaan dit as ‘n eenheid hanteer, behalwe hoofstuk 49-51 wat in die tyd van koning Sedekia hanteer gaan word.

Teks en konteks

Die boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C. Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.

Dié profesie word waarskynlik eerste geplaas in die reeks profesieë teen die nasies weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk. Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek. Hulle het immers nie vir Juda in dié tyd leed aangedoen nie. ’n Alliansie met Egipte was egter steeds teen die Here se wil vir die volk. Dit sou waarskynlik ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.

Reeds vroeër het die Here die volk gewaarsku: “Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? … Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie.” (Jer. 2:18, 36-37). En in die simboliek van die twee mandjies vye het die Here gesê oor: “dié wat in Egipte wil gaan woon,” dat Hy hulle: “maak soos die slegte vye wat so sleg is dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer. 24:8).

Jeremia 46:1-12 – Egipte word verneder

Egipte word in hierdie profesie beskryf as die Nyl wat sy walle oorstroom om die wêreld in te neem. Soldate uit Kus (Ethiopië) en Put (area tussen Egipte en Kanaän) word genoem, waarskynlik huursoldate, sowel as boogskutters uit Lud (Gen. 10:13 – moontlik Libië).

Maar Jeremia voorsien dat Egipte sal terugdeins in die oorlog weens die optrede van die Here wat Hom wreek op hulle in die oorlog teen die Galdeërs. Ironies genoeg raai Hy hulle aan om balsem in Gilead te gaan soek, want hulle eie medisyne help nie.

Jeremia 46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte

Jeremia voorsien ook ’n tyd wat Nebukadnesar Egipte self sou binneval – iets wat in 568 v.C. gebeur het. Getrou aan die visie van die profesie was dit net ’n straf ekspedisie en is die land nie heeltemal verwoes nie (Jer. 46:26).

Die verwarring en verwoesting van die oorlog word treffend beskrywe: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe … weg van die swaard af wat so wild te kere gaan.” Veral die Nyl delta word deur die oorlog getref, presies die gebied waar Joganan en die ander Jode wat simpatie met Egipte gehad het, vir Jeremia heen weggevoer het.

Die Galdeërs word as ’n blindevlieg geteken wat die vetgemaakte kalwers van Egipte sal afmaai: “Egipte sal sis soos ’n slang” maar ondergaan in die oorlog wanneer die Galdeërs se mag hulle oorrompel. “Daar wag ’n nederlaag vir Egipte, hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.” Dit sluit ook hulle gode in.

Jeremia 46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel

In ’n verrassende wending word ’n deel van die “Boek van Vertroosting” aangehaal as boodskap van hoop vir die Jode (Jer. 30:10-11), hoewel dit eintlik nie hier pas nie. Waarskynlik sit Baruk of die uiteindelike redakteur dit hier om God se kras oordeel oor ander volke met sy meer genadige oordeel oor sy volk te kontrasteer: “Wanneer Ek ’n einde maak aan al die nasies waarsonder Ek jou verstrooi het, sal Ek aan jou nie ’n einde maak nie. Maar Ek sal jou straf soos jy verdien, jy sal nie ongestraf bly nie.

Boodskap en betekenis

Dit bly interessant om die wisselwerking van politiek en godsdiens hier waar te neem. Polities was daar die keuse tussen onderdanigheid aan die Galdeërs óf aan Egipte. Hulle was die twee wêreldmoondhede van dié tyd. Jeremia het soos koning Josia onderdanigheid aan die Galdeërs voorgestaan – anders as die ander konings soos Jojakim en Sedekia, en ook van die militêre leiers soos Joganan. Hierdie keuse van Jeremia was op religieuse gronde – die Here het dit beveel. Dit was egter ook op politiese gronde – die Galdeërs was militêr sterker as die Egiptenare.

Maar daar is ook ’n ander rede wat waarskynlik ’n rol in hierdie keuse gespeel het. Die Galdeërs het ’n beleid van relatiewe kultuur- en godsdiensvryheid gevolg. Die Jode, soos ander volke ook, is toegelaat om hulle gebruike en hulle godsdiens te beoefen in ballingskap. Dit het ook gegeld vir dié wat agtergebly het. Vir die Jode se langtermyn oorlewing was hierdie beleid krities belangrik. Jeremia se keuse doen dus ook in die lig van dié feite sin.

Só sien ons dat die Here sy planne uitwerk ook in die intriges van politiese keuses. Jeremia was deur baie van sy tydgenote verkwalik dat hy polities kant kies, maar die gevolge van sy keuse was dat die Jode uiteindelik na sewentig jaar weer na hulle land kon terugkom en as volk kon oorleef. Daarsonder sou die Messiaanse verwagting verdwyn het, en het ons moontlik die wonder van Christus verpas.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…