Skip to main content

Kolossense 1:24-2:5

Om met God se energie te bedien

Paulus vervolg om oor sy bediening om die geheimenis van God bekend te maak, te skryf. Dit is Christus IN ons. Daarom verdra hy die “lydings en verdrukkinge” wat hy in die proses moet ontbeer, sodat hy almal met die energie wat God gee tot volwassenheid kan begelei.

Teks en konteks

Paulus praat hier nie net van vervolging nie. In die grondteks van vers 24 staan “lydings en verdrukkinge” (meervoud), d.w.s meer omvattende dinge as net vervolginge.

In ‘n sekere sin is alle lyding wat Paulus ervaar natuurlik ter wille van Christus. Die omgekeerde is egter ook waar. Alle lyding wat Paulus ervaar – omdat Hy in Christus glo en aan Hom getrou wil bly – is dinge wat aan Christus gedoen (sou kon) word. Dit is waarom Paulus daaroor kan bly wees, want dit is dinge wat Hy ter wille van Christus ervaar, en dinge wat hy namens Christus ervaar. Dit is wat sy deelname aan die lyding van Christus beteken, soos hy ook in Filippense 3:10 sal skryf.

Let op hoe Paulus van die evangelie praat as ‘n geheimenis wat God nou in Christus geopenbaar het. Daarmee vat hy natuurlik die idee van die dwaalleraars aan wat geleer het dat daar ander geheimenisse is waarin ‘n mens nog ingelyf moet word om regtig geestelik ingelig te raak – dinge soos engele aanbidding, die ervaring van die magte van die kosmos ensomeer.

Paulus verkondig egter die geopenbaarde misterie van Christus in ons wat vir almal beskikbaar is. Die evangelie gaan immers nie oor dinge wat ons nog moet leer nie, maar oor dinge wat reeds oopgemaak is vir ons in Christus en wat al hoe meer deel van ons lewe moet raak.

Want dít is die geheimenis: Christus is IN julle. Die Een wat op so ‘n integrale manier by die skepping en herskepping betrokke was, is IN ons besig om God se werk te voltooi. En dit is ‘n boodskap wat vir alle mense is, en wat alle mense moet hoor, en waarin hulle moet vasstaan.

Dan vervolg Paulus om oor sy bediening te skrywe. En ek moet sê, ek wonder baie keer hoe Paulus dit reggekry het om in 14 jaar die hele bekende wêreld van daardie tyd met die evangelie te kon bereik. Onthou, daar was nie vervoer soos vandag nie. Jy moes stap waar jy wou wees. En daar was nie die kommunikasie middele van vandag nie. Jy kon nie eers ‘n traktaatjie uitdeel nie, praat nie eers van ‘n e-pos skryf nie! Tog het hy met groot impak die wêreld ingevaar met die evangelie, ‘n werk wat die basis gevorm het van die groei van die Christendom, die vrugte waarvan die toets van die tyd deurstaan het.

Ek dink een deel van die geheim van Paulus se effektiwiteit lê in vers 29. Paulus het gewerk met die energie wat God hom gegee het. Die NIV vertaal dit as volg: “To this end I labor, struggling with all his energy, which so powerfully works in me. Struggling with all his energy.” Dit is ‘n mondvol!

Boodskap en betekenis

Paulus verduidelik hier dat sy bediening gefokus is op die bekendmaking van die geheimenis van God—Christus in ons, die hoop van die heerlikheid hierna. Hierdie waarheid is reeds geopenbaar en beskikbaar vir almal, in teenstelling met die sogenaamde geheime kennis van dwaalleraars. Paulus werk daarom onverpoosd daaraan om alle gelowiges tot geestelike volwassenheid te lei ten spyte van die lyding wat hy in die proses ervaar.

Wat ons hieruit moet leer, soos Paulus die Kolossense geleer het, is dat ware geestelike groei nie kom deur geheime leringe of kosmiese magte nie, maar deur Christus wat in ons leef en ons innerlik verander. Die krag en effektiwiteit van die bediening lê daarby daarin om met God se energie te werk, nie met jou eie krag nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar