Skip to main content

Esegiël 1

Die magtige verskyning van die Here – 593 vC

Die historiese agtergrond

Esegiël was ‘n priester, die seun van Busi, wat in Galdeërland (Babilonië) opgetree het tydens die ballingskap van Juda in die 6de eeu v.C. Hy was een van die ballinge wat saam met die jong 18-jarige koning Jojagin (2 Kron. 36:9) weggevoer is tydens die eerste veldtog van Nebukadnesar teen Juda in 598-597 v.C.

Esegiël was met die begin van sy profetiese roeping omtrent 30 jaar oud wat ook die vyfde jaar van koningin Jojagin se ballingskap was, d.w.s. 593 v.C. Esegiël was getroud, hoewel sy vrou – die een “wat jou soveel vreugde gee” – op tragiese wyse skielik sterf as deel van die boodskap van God aan die volk (Eseg. 24:15-27). Ons lees egter nie van enige kinders nie. Esegiël was ook redelik vermoënd, want hy bly in Babel in sy eie huis (Eseg. 3:24).

Esegiël is saam met die ballinge gevestig langs die Kebarrivier, een van die sytakke van die Eufraatrivier, waar hy amper vyf jaar later, in Julie 593 v.C., as profeet geroep is en die woordvoerder van die Here geword het vir beide die ballinge as vir dié wat agtergebly het in Juda en Jerusalem. Hy sou sy visioene en woorde lewer oor ‘n tydperk van ongeveer 22 jaar tot en met 571 v.C., die laaste van die daterings wat in die boek aangegee word (Eseg. 29:17).

Hy gebruik gewone prosa, nie enige poëtiese taal nie, hoewel hy ook ‘n fabel (hfst 17 – wingerdstok), simboliek (bv. hfst. 37 – twee stukke hout vir Juda en Josef) en metaforiese taal (bv. hfst. 23 – Ohola en Oholiba as name vir die susters Samaria en Jerusalem) inspan:

  • HOOFSTUK 1-36: Aan die een kant verkondig Esegiël die oordeel van die heilige God oor die onreg en verydeling van mense wat Hom minag (veral hfst. 1-36). Hy verwyder hulle daarom uit hulle land en stuur hulle in ballingskap, terwyl Hy ook sy teenwoordigheid van hulle onttrek. Die profesieë sluit ook God se oordeel oor die nasies in (hfst. 25-36), hoewel Esegiël hom interessant genoeg nie teen Babel self uitspreek nie. Dié hoofstukke is geskryf tot en met die val van Jerusalem in 586 v.C. waarvan iemand wat ontsnap het vir Esegiël so ses maande later kom sê het (Eseg. 33:21). Daar is enkele dele wat later gedateer word, bv. Eseg. 29:17 wat uit 571 v.C. is.
  • HOOFSTUK 37-48: Aan die ander kant verkondig Esegiël die hoop wat daar tog is in terme van God se deernisvolle, maar ook soewereine selfstandige besluit – ter wille van sy eie eer (Eseg. 36)! – om die lot van die volk te verander en hulle weer die voorreg van sy teenwoordigheid te laat geniet in hulle eie land (veral hfst. 37-48). Die tempel raak die sentrum van die lewe wat God gee vir alles en almal. Dié hoofstukke is geskryf ná die val van Jerusalem waarvan die laaste datum wat aangedui is, 573 v.C. is (Eseg. 40:1).

Teks en konteks

Dit is die 26ste Junie 593 v.C., die vyfde van die vierde maand, Tammuz. As my berekeninge reg is, is dit ‘n Sondag net na die sabbat volgens die Biblical Lunar Calendar. Dit is die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin. Esegiël is tussen die ballinge aan die Kebarrivier, waarskynlik besig om die Here te aanbid (vgl. Ps. 137 en Hand. 16). Hy is 30 jaar oud.

Skielik het die hemele vir hom oopgegaan – soos vir Jesus (ook dertig jaar oud), Stefanus en Johannes in die NT – en het hy gesigte gesien wat van God af kom. Die mag (hand) van die Here het vir Esegiël in besit geneem. Let op dat die gesig wat Esegiël sien as ‘n: “woord van die Here” vertolk word (1:4). Die rede is dat die visioen wat Hy sien God se boodskap aan die volk oordra. Esegiël word nou God se woordvoerder.

Esegiël beskryf in detail die gesig wat hy sien. Let op na die volgende vier aspekte wat my opval:

  • GOD REGEER ORAL: Die kern van die visioen is die glansryke verskyning van die Here wat op sy troon sit. Hy regeer op luisterryke manier oor alles vanuit ‘n onweerstaanbare glans van vuur en lig.
  • GOD IS ORAL: God se heerskappy strek vanuit die hemel tot op die aarde, en ook oral op die aarde. Net waar die Gees wil, kan God wees, uitgebeeld met die wiele dwars binne ander wiele wat rondom vol van oë is. Dié deel van die visioen stel dus God se alomteenwoordigheid en alwetendheid voor.
  • GOD IS ALMAGTIG IN EN VIR DIE HELE SKEPPING: Die vier wesens onder begeleiding van die Gees voer God se opdragte uit deur die hele skepping. Hulle vier gesigte wat na alle kante toe kan kyk, stel die omvattende krag van God in die skepping voor, uitgedruk met die gesigte van ‘n mens, leeu, bul en arend. Hy is almagtig. Tegelykertyd verteenwoordig die vier wesens ook die skepping by God. Joodse rabbi’s het immers dié vier voorstellings as verteenwoordigend van die hele skepping uitgelê: die mens is die slimste, die leeu die edelste, die bul die sterkste, en die arend die vinnigste in die skepping. Die mens kan uiteraard ook as simbool van die mensheid, die leeu as simbool van die wilde diere, die bul as simbool van die mak diere, en die arend as simbool van die voëls in die lug geneem word. Johannes neem dié beskrywing amper net so oor in sy eie troonvisie in Openbaring 4.
  • GOD HET DIE GESTALTE VAN ‘N MENS: Dit is waarskynlik die mees troosvolle deel van hierdie gesig. Daar is meer as net ‘n terloopse ooreenkoms tussen ons en God. Hy is uiteraard méér as ons, maar tog ook vergelykbaar met ons. Geen wonder dat Genesis 1 ons as beeld van God, as sy verteenwoordigers kan beskrywe nie. Daar is ook meer as toevallige ooreenkoms tussen dié verskyning van God as Here (Jahwe), en die verskyning van die verheerlikte Jesus as Here (Kurios) in Openbaring 1. ‘n Mens kan immers selfs sê, God tree in Jesus, die Kurios van die NT, op soos Jahwe, die Kurios van die OT.

Let egter op dat Esegiël net ‘n interpretasie gee van wat hy sien: “iets wat gelyk het soos ‘n gewelf” (1:22), “iets soos saffier met die vorm van ‘n troon” (1:26), “het dit vir my gelyk na” (1:27) ensovoorts. Hy som sy gesig op as volg : “Dit was soos die magtige verskyning van die Here.” (1:28) Hy is dus bewus daarvan dat die volle werklikheid van God nie volledig deur die gesig beskryf kan word nie. Sy woorde beskryf ‘n werklikheid wat meer is as wat hulle kan vasvang.

Boodskap en betekenis

Hierdie ryk en omvattende gedeelte herinner ons aan God se alomteenwoordige betrokkenheid by alles in die skepping. Die feit dat God in ‘n menslike gedaante aan Esegiël verskyn, maak Hom op ‘n paradoksale manier toeganklik. Hy is ontsagwekkend anders, soveel so, dat Esegiël voor Hom platval. Maar Hy is ook soos ons, en kommunikeer sy wil op verstaanbare en uitvoerbare wyses aan ons.

Dit beteken dat ons Hom ernstig kán neem. Wat Hy sê en wat Hy doen, dra gewig. Ons kan Hom vertrou as alwetende God wat nie net reageer op wat gebeur nie, maar inderdaad dinge laat gebeur. Hy gee sy Gees sowel as sy woorde om sy opdrag te kan uitvoer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar