Skip to main content

Matteus 10

Die uitsending van die Twaalf: roeping, vervolging en getrouheid aan Jesus

Matteus 10 is ’n oproep tot radikale dissipelskap, waar Jesus sy twaalf dissipels uitkies en uitstuur om sy sending aan te vul. Hy gee hulle mag oor bose geeste en siektes, maar waarsku dat hierdie roeping ook vervolging en weerstand sal meebring. Met die belofte van God se sorg oor elke aspek van hulle lewens, roep Jesus hulle op tot onwrikbare trou, selfs al beteken dit om familie- en sosiale bande op te offer.

Teks en konteks

Jesus stuur die twaalf na die verlore skape van die huis van Israel (Matteus 10:1-15)

Jesus roep die twaalf dissipels en gee in sy tweede groot toespraak in Matteus hulle gesag oor onrein geeste en siektes. Matteus noem hulle hier ook apostels, wat hul rol as gestuurdes van Jesus beklemtoon. Hy stuur hulle na die verlore skape van Israel en gee spesifieke opdragte: hulle moet siekes gesond maak, demone uitdryf, en selfs dooies opwek. Hulle mag niks saamneem nie, want hulle moet staatmaak op die gasvryheid van die mense wat hulle besoek. As iemand hulle nie ontvang nie, moet hulle die stof van hul voete afskud, wat simbolies is van oordeel oor daardie huis of stad. Jesus waarsku dat die gevolge vir sulke onontvanklike mense erger sal wees as dié van Sodom en Gomorra op die oordeelsdag.

Boodskap en betekenis
Die evangelie sal óf met blydskap aanvaar óf met weerstand verwerp word. Vir diegene wat dit ontvang, bring dit vrede. Maar waar dit verwerp word, moet dissipels hul energie verskuif na ander wat meer ontvanklik is. Hierdie oproep herinner ons aan die ewige implikasies van ons reaksie op die evangelie.

Jesus stuur die twaalf soos skape tussen wolwe in (Matteus 10:16-25)

Jesus beskryf die uitdagings wat sy dissipels gaan ervaar: hulle sal soos skape tussen wolwe wees en vervolging beleef. Hy maan hulle om versigtig soos slange en opreg soos duiwe te wees. Hulle sal voor howe gebring word, maar moet staatmaak op die Heilige Gees om hulle woorde te gee. Vervolging sal selfs binne families voorkom, maar dié wat tot die einde toe volhard, sal gered word. Jesus maan dat hulle van een dorp na die ander moet beweeg as die vervolging te erg raak, want daar is steeds baie mense wat die evangelie moet hoor.

Boodskap en betekenis
Jesus roep ons tot gehoorsaamheid te midde van teenstand. Die “waansinnigheid van gehoorsaamheid” (Nik Ripken) maak sin wanneer ons die ondersteuning van die Goeie Herder en die Gees van God verstaan. Ons getuienis moet helder wees, selfs al bring dit lyding en vervolging.

Jesus verklaar dat God niemand vergeet wat Hom vrees nie (Matteus 10:26-31)

Jesus moedig sy dissipels aan om vreesloos te getuig, want alles wat nou verborge is, sal eendag openbaar word. Hulle moet nie mense vrees wat net die liggaam kan doodmaak nie, maar God, wat liggaam én siel in die hel kan vernietig. Hy verseker hulle van God se sorg en gebruik die vergelyking van mossies: as God selfs vir mossies omgee, hoeveel te meer sal Hy vir sy dissipels sorg? Selfs die hare op hulle koppe is getel.

Boodskap en betekenis
Ons hoef nie die reaksie van mense op die evangelie te vrees nie. God sorg vir ons in die kleinste detail en sal ons tot die einde toe ondersteun. Ons lojaliteit aan Hom is belangriker as enige aardse bedreiging.

Jesus bely of verloën mense voor God die Vader (Matteus 10:32-33)

Wie Jesus voor mense bely, sal Hy voor sy Vader in die hemel bely. Maar wie Hom verloën, sal Hy voor God verloën.

Boodskap en betekenis
Ons getuienis is nie net vir die mense om ons nie, maar ook vir ons verhouding met Jesus self. Hy sal ons bely of verloën afhangend van ons lojaliteit aan Hom.

Jesus bring nie vrede op aarde nie, maar verdeeldheid (Matteus 10:34-36)

Jesus waarsku dat sy boodskap verdeeldheid sal bring, selfs in gesinne. Gesinslede sal teen mekaar draai oor die evangelie. Hierdie verdeeldheid is nie omdat Jesus konflik soek nie, maar omdat lojaliteit aan Hom dikwels bots met aardse bande en belange.

Boodskap en betekenis
Die evangelie eis ‘n duidelike keuse. Jesus moet eerste in ons lewens wees, selfs bo familie of aardse belange. Ons lojaliteit aan Hom kan konflik bring, maar dit is deel van dissipelskap.

Jesus verklaar dat dié wat Hom ontvang, beslis nie hulle loon sal verloor nie (Matteus 10:37-11:1)

Jesus leer dat sy dissipels Hom bo familie en selfs hul eie lewe moet liefhê. Om Hom te volg, beteken om jou kruis op te neem en jou lewe prys te gee. Maar dié wat Hom ontvang, ontvang ook God se teenwoordigheid en seën. Selfs klein gebare van gasvryheid, soos om ‘n koppie water te gee aan ‘n dissipel, sal beloon word. Jesus sluit sy onderrig aan die twaalf af en begin self weer om in die dorpe te preek.

Boodskap en betekenis
Dissipelskap vra onverdeelde lojaliteit aan Jesus. Die pad is nie maklik nie, maar dit lei tot ewige beloning en seën. Jesus se belofte dat God in die kleinste detail vir ons sorg, gee krag en moed om hierdie roeping te vervul.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar