Skip to main content

Esegiël 25

‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne

Esegiël rig soos ‘n hele paar van die ander profete ook ‘n paar oordeelswoorde aan die omringende nasies, interessant genoeg, sewe nasies in getal.

In ‘n geografiese spiraal fokus Esegiël in hoofstuk 25 opeenvolgend op die Ammoniete in die noord-ooste, die Moabiete in die ooste, die Edomiete in die suid-ooste, en die Filistyne in die weste. In hoofstuk 26-28 kom Tirus en Sidon in die noorde aan die beurt – met ‘n kort heilswoord vir Israel aan die einde daarvan – voor hy die grootste deel van sy oordele in hoofstuk 29-32 – sewe profesieë in getal – teen Egipte in die verre suide uitspreek.

Daarmee getuig Esegiël van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde.  Hy bepaal die wel en weë van almal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie.  Hy wys ook duidelik uit dat die leedvermaak en minagting van die omringende volke op niks sal uitloop nie.  Veral die eerste vier nasies sal hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin.

Babilonië word geïgnoreer, moontlik weens beide die feit dat hulle God se instrument van oordeel teen Jerusalem is, sowel as die gevaar wat dit sou kon inhou om hulle te direk aan te spreek. Sommige geleerdes sien in die uitgebreide beskrywing van Tirus en Sidon ‘n verskuilde boodskap aan Babilonië, maar die oordeel teen die twee nasies maak in elk geval sin, weens Nebukadnesar se uitgebreide veldtog net ná die inname van Jerusalem teen hulle.

Dit is redelike eenvoudige stof wat in die geval van die eerste vier nasies ook in ‘n eenvoudige formaat gegiet word.  Die Here gee telkens vir hulle die redes vir sy oordeel en kondig dan die oordeel self aan.

Teks en konteks

Esegiël 25:1-7 – Teen die Ammoniete oor hulle leedvermaak

Die rede vir God se oordeel oor Ammon – nageslag van Lot – is hulle leedvermaak oor die ballingskap van Juda.  Ons lees iets daarvan in 2 Konings 24 en Jeremia 40.  Daarmee misken hulle egter God se eienaarskap van Israel en sy rol in die ballingskap: “Jy verlekker jou daarin dat my heiligdom ontwy is …”  Daarom oordeel die Here hulle – die hoofstad Rabba word genoem – en laat ander hulle opbrengste geniet.  Hy maak ‘n einde aan hulle onafhanklikheid soos dit inderdaad hierna gebeur het.

Esegiël 25:8-11 – Teen die Moabiete oor hulle minagting van Juda

Die rede vir God se oordeel oor Moab – ook nageslag van Lot – is hulle minagting van Juda.  Dit beteken egter dat hulle die Here minag, asof Hy nie steeds by Juda betrokke is nie.  Die boodskap is dat Juda nie met die ballingskap maar: “net soos enige ander nasies geword,” het nie.  Daarom oordeel die Here hulle en vernietig hulle stede.  Drie stede word genoem: Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim.  Hulle onafhanklikheid bly ook in die slag, soos dit histories opgeteken is.  Hoewel Seïr (Edom) ook hier in vers 8 genoem word, kom die boodskap vir Edom eers in vers 12 aan die orde.

Esegiël 25:12-14 – Teen die Edomiete oor hulle wraaksug

Die rede vir God se oordeel oor Edom – broer van Jakob, die vader van Israel – is hulle wraaksug, soos ons onder andere in Jeremia 49 lees (vgl. Obadja se boodskap teen Edom: God straf verwaandheid en afsydigheid).  Daarom roei die Here hulle ook uit en vernietig hulle onafhanklikheid – Teman en Dedan in die suide en noorde van Edom word genoem – soos dit inderdaad ook histories gebeur het.  ‘n Verdere oordeel sal volg in hfst. 35.

Esegiël 25:15-17 – Teen die Filistyne oor hulle veragtende wraaksug

Die rede vir God se oordeel oor die Filistyne – aartsvyand van Israel regdeur hulle geskiedenis – is ook hulle wraaksug, veral die veragting waarmee dit gebeur het.  Al het Dawid hulle mag gebreek, het hulle steeds Israel se teenstanders gebly.  Hulle word ook Kretense genoem, waarskynlik omdat mense van Kreta by die Filistyne aan die Middelandse See aangesluit het (vgl. Sefanja 2:5 vir die soortgelyke identifikasie).  Hulle onafhanklikheid as ‘n nasie kom ook in die gedrang, en al het die name van hulle stede gebly, het hulle as ‘n nasie opgehou bestaan.

Boodskap

Esegiël getuig hier van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde.  Dit is God wat die wel en weë van almal bepaal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie.  Esegiël wys ook duidelik uit dat die leedvermaak, minagting en wraaksugtigheid van die omringende volke op niks sal uitloop nie.  Hierdie eerste vier nasies – Ammon, Moab, Edom en Filistia – sal presies daarom hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin, soos ons later sal hoor, omdat God hulle genadig is.  En let op, dit is presies soos dit in die geskiedenis gebeur het.

Esegiël waarsku dus ook dat ons hierdie boodskap vir onsself ter harte moet neem.  God is soewerein.  Oor almal.  Ook oor ons vyande.  Daarom moet ons ten alle koste leedvermaak, minagting en wraak vermy.  Almal van ons is immers van God se genade afhanklik.  Hy moet gedien word.  Deur almal.  Sy oordele moet aanvaar en sy beloftes moet omarm word.  Deur almal.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏