Skip to main content

Esegiël 25

‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne

Esegiël rig soos ‘n hele paar van die ander profete ook ‘n paar oordeelswoorde aan die omringende nasies, interessant genoeg, sewe nasies in getal.

In ‘n geografiese spiraal fokus Esegiël in hoofstuk 25 opeenvolgend op die Ammoniete in die noord-ooste, die Moabiete in die ooste, die Edomiete in die suid-ooste, en die Filistyne in die weste. In hoofstuk 26-28 kom Tirus en Sidon in die noorde aan die beurt – met ‘n kort heilswoord vir Israel aan die einde daarvan – voor hy die grootste deel van sy oordele in hoofstuk 29-32 – sewe profesieë in getal – teen Egipte in die verre suide uitspreek.

Daarmee getuig Esegiël van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde.  Hy bepaal die wel en weë van almal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie.  Hy wys ook duidelik uit dat die leedvermaak en minagting van die omringende volke op niks sal uitloop nie.  Veral die eerste vier nasies sal hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin.

Babilonië word geïgnoreer, moontlik weens beide die feit dat hulle God se instrument van oordeel teen Jerusalem is, sowel as die gevaar wat dit sou kon inhou om hulle te direk aan te spreek. Sommige geleerdes sien in die uitgebreide beskrywing van Tirus en Sidon ‘n verskuilde boodskap aan Babilonië, maar die oordeel teen die twee nasies maak in elk geval sin, weens Nebukadnesar se uitgebreide veldtog net ná die inname van Jerusalem teen hulle.

Dit is redelike eenvoudige stof wat in die geval van die eerste vier nasies ook in ‘n eenvoudige formaat gegiet word.  Die Here gee telkens vir hulle die redes vir sy oordeel en kondig dan die oordeel self aan.

Teks en konteks

Esegiël 25:1-7 – Teen die Ammoniete oor hulle leedvermaak

Die rede vir God se oordeel oor Ammon – nageslag van Lot – is hulle leedvermaak oor die ballingskap van Juda.  Ons lees iets daarvan in 2 Konings 24 en Jeremia 40.  Daarmee misken hulle egter God se eienaarskap van Israel en sy rol in die ballingskap: “Jy verlekker jou daarin dat my heiligdom ontwy is …”  Daarom oordeel die Here hulle – die hoofstad Rabba word genoem – en laat ander hulle opbrengste geniet.  Hy maak ‘n einde aan hulle onafhanklikheid soos dit inderdaad hierna gebeur het.

Esegiël 25:8-11 – Teen die Moabiete oor hulle minagting van Juda

Die rede vir God se oordeel oor Moab – ook nageslag van Lot – is hulle minagting van Juda.  Dit beteken egter dat hulle die Here minag, asof Hy nie steeds by Juda betrokke is nie.  Die boodskap is dat Juda nie met die ballingskap maar: “net soos enige ander nasies geword,” het nie.  Daarom oordeel die Here hulle en vernietig hulle stede.  Drie stede word genoem: Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim.  Hulle onafhanklikheid bly ook in die slag, soos dit histories opgeteken is.  Hoewel Seïr (Edom) ook hier in vers 8 genoem word, kom die boodskap vir Edom eers in vers 12 aan die orde.

Esegiël 25:12-14 – Teen die Edomiete oor hulle wraaksug

Die rede vir God se oordeel oor Edom – broer van Jakob, die vader van Israel – is hulle wraaksug, soos ons onder andere in Jeremia 49 lees (vgl. Obadja se boodskap teen Edom: God straf verwaandheid en afsydigheid).  Daarom roei die Here hulle ook uit en vernietig hulle onafhanklikheid – Teman en Dedan in die suide en noorde van Edom word genoem – soos dit inderdaad ook histories gebeur het.  ‘n Verdere oordeel sal volg in hfst. 35.

Esegiël 25:15-17 – Teen die Filistyne oor hulle veragtende wraaksug

Die rede vir God se oordeel oor die Filistyne – aartsvyand van Israel regdeur hulle geskiedenis – is ook hulle wraaksug, veral die veragting waarmee dit gebeur het.  Al het Dawid hulle mag gebreek, het hulle steeds Israel se teenstanders gebly.  Hulle word ook Kretense genoem, waarskynlik omdat mense van Kreta by die Filistyne aan die Middelandse See aangesluit het (vgl. Sefanja 2:5 vir die soortgelyke identifikasie).  Hulle onafhanklikheid as ‘n nasie kom ook in die gedrang, en al het die name van hulle stede gebly, het hulle as ‘n nasie opgehou bestaan.

Boodskap

Esegiël getuig hier van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde.  Dit is God wat die wel en weë van almal bepaal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie.  Esegiël wys ook duidelik uit dat die leedvermaak, minagting en wraaksugtigheid van die omringende volke op niks sal uitloop nie.  Hierdie eerste vier nasies – Ammon, Moab, Edom en Filistia – sal presies daarom hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin, soos ons later sal hoor, omdat God hulle genadig is.  En let op, dit is presies soos dit in die geskiedenis gebeur het.

Esegiël waarsku dus ook dat ons hierdie boodskap vir onsself ter harte moet neem.  God is soewerein.  Oor almal.  Ook oor ons vyande.  Daarom moet ons ten alle koste leedvermaak, minagting en wraak vermy.  Almal van ons is immers van God se genade afhanklik.  Hy moet gedien word.  Deur almal.  Sy oordele moet aanvaar en sy beloftes moet omarm word.  Deur almal.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…