Skip to main content

Psalm 6

Genesing is genade

Dit is die eerste van die sogenaamde boetePsalms 6. Die ander is Psalm 32, 38, 51, 102, 130, 143. Dit kan met verskillende gebeure in Dawid se lewe verbind word, maar dit pas ook in die tyd van Absalom se opstand. Daarom hanteer ek dit hier.

Teks en konteks

Hierdie Psalm is uiters geskik as ’n gebed in siekte. Die woord wat in die opskrif met basstem vertaal word beteken letterlik agtste. Dit kan ook met oktaaf vertaal word (1 Kron 15:21) met die implikasie dat die Psalm in ‘n laer (dieper) stem gesing moet word. Dit dui dus aan vir watter atmosfeer die Psalm bedoel is, vir ’n donkerder tyd, ’n tyd van siekte, in ’n mens se lewe.

Dawid sê nie hier aan watter siekte hy gely het nie, hoewel dit iets is wat sy liggaam (letterlik sy bene of beendere/skelet) uitgeteer het en hom (letterlik sy siel) gedaan gemaak het – dws fisies en psigies. Dit maak dit eintlik moontlik om die Psalm te gebruik vir enige behoefte aan genesing.

Let op dat Dawid sy gebed begin met: “Moet my tog nie in u toorn straf nie, Here …”

’n Mens kan op twee maniere kyk na hierdie gebed dat God nie toornig of grimmig teenoor hom sal optree nie.

  • Omdat hy nie ’n sondebelydenis doen (vgl Ps 38 waar hy wel sy sonde bely), kan dit wees dat hy hom onskuldig ag – soos Job – en daarom vra dat die lyding van hom weggeneem sal word. Hy dink nie dat hy dit verdien nie.
  • Of – miskien meer waarskynlik – is hy juis versigtig om God se voorsiening in twyfel te trek deur vir genesing te vra, en vra daarom dat God nie vir hom kwaad sal word, net omdat hy vir iets anders vra – genesing – as wat vir hom uitgedeel is – siekte. Hy vra dus nie om God se wil in twyfel te trek nie – hy is immers net soos ons aan die verganklikheid onderworpe en dit sluit siekte in – maar vra wel daarvoor, net omdat hy swaar trek onder die siekte, moedeloos geraak het, en nou op God se genade alleen staatmaak.

As die laaste interpretasie korrek is, beteken dit dat die Psalm sê dat genesing nie vanselfsprekend is nie, maar iets is wat God uit genade gee. ’n Mens mag dus vir genesing vra, en God kan genesing gee, maar jy kan genesing nie afdwing nie. God gee … en God neem – soos Job so diepsinnig bely het.

“Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?” (vers 4).

Hy pleit by God, want sy bed swem letterlik in sy trane (vers 7)! Sy lyding kan in sy oë gesien word – dit het dof geword. Sy verdriet lei tot erge slaaploosheid, want hy huil die hele nag deur.

Sy ervaring is boonop soos dié van Job – sy siekte word vererger deur mense wat teen hom draai, hom afskryf, dink dat hy sy verdiende loon kry. Daarom dat hy uitroep dat hulle van hom af moet padgee …

Die wending vir Dawid kom in vers 9, miskien met een of ander begeleiding van die koorleier, of tussenkoms van ‘n priester in die tempel (dink aan Eli en Hanna – 1 Sam1:17) waarin God se ingrype geloof word. Anders kan dit net beteken dat sy gebed van wanhoop na vertroue beweeg het, en hy innerlik die bevestiging van God se antwoord gekry het.

Let op dat hy God se ingrype loof voordat daar nog enige tekens van herstel is, net maar God se woord dat Hy ag geslaan het op Dawid se hulpgeroep. In ’n oogwink, getuig hy, sal die vyande beskaamd moet padgee en sal hulle die verslaentheid beleef (vers 11) wat hy in sy siekte ervaar het (vers 3-4).

Laat my dink aan die offisier in die NT wat ook geglo het dat sy slaaf gesond sou word, slegs op ’n woord van Jesus (Luk 7). En sy slaaf het gesond geword!

Terloops: die woord bely wat Dawid in vers 6 gebruik (NAV), beteken letterlik onthou. ’n Mens kan dit dus só vertaal: “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam onthou (of in herinnering roep) nie …” want dit is in die onthou van God, en die getuienis oor Hom, wat die lof opgesluit lê, en dit is nie moontlik as ’n mens dood is nie.

Boodskap en betekenis

Dawid kon nie met ’n helder idee van ’n lewe na die dood werk nie, want die opstanding uit die dood, en die konsep van die ewige lewe, is iets wat eers voluit deur die bediening en werk van Jesus moontlik en duidelik geword het (deur sy eie dood heen – Joh 12:27!). Ons ervaar dus vandag nie meer dieselfde vrees vir die dood, as wat Dawid weens sy siekte mee moes werk nie, omdat Christus ons daarvan verlos het (“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy of sy ook.” – Joh 11:25).

Dit beteken dat ons wel mag vra vir genesing in hierdie lewe, maar altyd met die perspektief dat die dood sy verskrikking vir ons verloor het, en dat selfs as God nie vir ons in dié lewe genesing gee nie, ons steeds God se sorg in die lewe hierna sal belewe. Die ewige lewe is immers om God te ken … en dit begin reeds nou al (Joh 17).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders