Skip to main content

Handelinge 17

Paulus verkondig die evangelie in Tessalonika, Berea en Atene

Die evangelie versprei na nog drie plekke met Lukas wat eers agter gebly het in Filippi. Die res van die geselskap bedien Tessalonika, die hoofstad van Masedonië, en ’n baie invloedryke stad, met die evangelie. Ná sterk teenstand daar bedien hulle Berea (moderne Veria, Griekeland), ’n klein dorpie daar naby, waar ‘n groot ontvanklikheid vir die evangelie was. Maar, die teenstand teen die evangelie spoel oor van Tessalonika af daarheen, en die gelowiges begelei Paulus tot in Atene, die sentrum van die Griekse taal en kultuur. Timoteus en Silas het agter gebly in Berea om die gelowiges daar verder te ondersteun.

Teks en konteks

Paulus-hulle in Tessalonika – Handelinge 17:1-9

Van Filippi reis Paulus na Tessalonika, die hoofstad van Masedonië en ’n baie invloedryke stad. Lukas het agter gebly in Filippi.

In Tessalonika het Paulus drie weke gebly en moeite gedoen om “die Skrifte” uit te lê en daaruit die boodskap van Christus te verkondig. Hy het spesifiek gedeeltes in die OT gebruik wat aantoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en dit met Jesus verbind.

Sommige Jode en ‘n groot menigte Grieke is oortuig en het by die nuwe Christelike beweging aangesluit. Die Jode was egter afgunstig en het ‘n klomp leeglopers gebruik om die stad teen Paulus-hulle op te sweep.

Van die gelowiges het vir hulle opgekom voor die owerhede – Jason word spesifiek genoem en werk hierna saam met Paulus (Rom 16:21) – en só is Paulus-hulle beskerm sodat hulle kon ontsnap.

Let op hoe belangrik die ondersoek van die Skrifte is om die verband tussen Jesus en die beloofde Messias te trek, beide in Tessalonika en net hierna in Berea. Lukas gebruik in sy beskrywing van wat in Tessalonika gebeur vir die eerste keer die woord redeneer om Paulus se metodiek aan te dui, ’n woord wat hy hierna gereeld gebruik (17:1, 17; 18:4–19; 19:8, 9; 20:7; 24:12). Sommige geleerdes dink dat daarmee na die Sokratiess metodiek verwys word, waar mense deur vraag en antwoord begelei word tot insig, in hierdie geval aan die hand van die Skrifte (wat hy so vir hulle uitgelê of oopgemaak het).

Paulus-hulle in Berea – Handelinge 17:10-15

Maar soos nou al die patroon geword het, is daar ook groot teenstand. Paulus verwys daarna in sy latere briewe aan Tessalonika (1 Tes 2:14; 3:4; 2 Tes 2:1vv) wat hy waarskynlik later op hierdie reis in Korinte geskrywe het. Die Jode kom in Tessalonika nie soseer in opstand teen die boodskap nie, maar teen die aanhang wat Paulus hulle skielik geniet. Hulle tree dus uit jaloesie op. Dit is ook die Jode uit Tessalonika wat vir hulle in Berea moeilikheid gaan veroorsaak, hoewel daar darem ’n groot groep Jode is wat die boodskap van Jesus gunstig ontvang.

Die mense van die Joodse sinagoge in Berea was ‘n besondere groep. Ons kan baie by hulle leer.

  1. Die mense van Berea word beskryf as eugenēs, oop-kop, welwillend (vers 11a). Hulle was bereid om te leer en Paulus ‘n billike kans te gee om hulle te oortuig. Hulle het die OT gehad. Hulle het die boodskap van die OT geken. Hulle was getroue gelowige Jode.
  2. Hulle het verder met prothymia, met geesdrif geluister (vers 11b), bedoelende hulle was oorgehaal om die boodskap van die evangelie te ontvang as dit aan die maatstaf van die Skrif beantwoord het.

Ons sien die geesdrif in die feit dat hulle dit daagliks gedoen (vers 11c)! Nie net op die Sabbatdag nie. Nee, daagliks. Dit was die belangrikste fokus van nie net hulle week nie, maar hulle dag.

Dit het ook die vrouens en die mans ingesluit. Almal het geluister en gelees en ondersoek. Trouens, die vroue word eerste genoem!

  1. En hulle het daarby met ‘n ondersoekende gees, anakrinō, die Skrifte ondersoek (vers 11d). Dws hulle het deeglik gelees, sorgvuldig, in detail. Nie om te verskil nie, maar om te verstaan.

Dit beteken natuurlik nie dat hulle hulle verstand by die huis gelos het nie! Nee. Die mense van Berea het hulle intellek gebruik, nie net hulle emosies nie. Hulle was nie net meegevoer deur welsprekendheid nie. Hulle wou verstaan.

Wat uiters belangrik van hierdie manier van lees is, is dat ons by hulle hoor dat hulle ook nie in die eerste plek met hulle hart geluister nie, maar met hulle verstand. Daar is te veel mense wat vandag praat van ‘n luister met die hart, iets wat nooit eerste kom nie, altyd tweede. En hulle verstaan in elk geval nie dat hart, leb, in die OT met verstand vertaal kan word nie.

Dit is toe die mense van Berea verstaan, regtig begryp wat die boodskap is, met hulle verstand, dat hulle hart in beweging gekom het, en dit hulle tot ‘n oortuiging van die hart gelei het. Natuurlik moet die hart in spel kom, soos ons dit vandag verstaan, maar dit begin in die kop.

  1. Toe die mense van Berea dus die ooreenkoms van Paulus se boodskap met die Skrif verstaan en die waarheid daarvan self kon bevestig, kon hulle die boodskap ontvang en dit glo. Die Skrif was hulle enigste maatstaf. En die Skrif het hulle oortuig dat die boodskap reg is, dat hulle dit mag glo. Paulus se woorde het hulle dus oortuig. Nie omdat hy so ‘n goeie prediker was nie. Maar, omdat sy woorde terug herlei kon word na die Skrif toe.

Geen wonder dat Paulus se boodskap daarom deur almal “die woord van God” genoem word nie (vers 13). Want almal kon sien dat wat hy gesê het, kom ooreen met die Skrif, is trouens in volle ooreenstemming daarmee, en kan dus as die Woord van God beskou word.

Paulus tree in Atene ook in die publieke sfeer op met die evangelie – Handelinge 17:16-34

Die teenstand is egter so erg dat die gelowiges vir Paulus ver wegneem na Atene, 350 km daar vandaan. Die jong Timoteus en Silas word agter gelaat om die gemeente verder te bearbei. Timoteus sou later in Korinte by Paulus aansluit, maar dan teruggestuur word deur Paulus om hulle verder te bemoedig en vir Paulus berig te bring van hoe dit met hulle gaan.

Let op dat Paulus hier nie huiwer om die publieke terrein te betree nie. Paulus is in Atene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus.

Atene was destyds ’n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd. Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.

Soos Lukas dit hier stel: “Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuut te sê of te hoor nie.”

Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. Maar let op dat hy nie sy verontwaardiging uitspreek en op ander mense aflaai nie. Nee, hy begin waar hulle is, en hak mettertyd die evangelie daaraan.

Sy strategie is om, soos op die ander plekke, in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te begin praat maar hier iets ekstra te doen, om met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Aan die westekant was die Stoa Poikile, ’n pilaargang wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die retore, bymekaargekom het.

Hy kryt nie alles as boos uit nie, en hy begin nie om die afgodsbeelde en altare af te breek nie. Hy begin eerder ‘n evangeliese gesprek daaroor!

Dan begin ‘n klomp filosowe met hom in gesprek tree (eintlik ‘n strydgesprek), veral Epikureërs en Stoïsyne, Lukas sê hulle het met hom gestry en hom ‘n praatjiesmaker genoem. Die woord kom van ‘n beskrywing van ‘n voël wat saadjies oppik, en wat ook gebruik is om mense wat stukkies kennis hier en daar oppik te beskryf.

Sommige het hom ‘n boodskapper van vreemde gode genoem, omdat hy van “Jesus en die opstanding” gepraat het. Leringe oor vreemde gode kon terloops met die dood gestraf word. Die woord vir opstanding, Anastasis, kon vir hulle geklink het soos die naam van ‘n godin, en vandaar die idee van vreemde gode.

Epikureërs (Epikuris – 3de eeu v.C.) was baie materialisties en praktiese ateïste. Hulle het nie gedink dit is belangrik of nodig om God te soek nie. Geluk en plesier was die enigste lewenstyl wat sin gemaak het. Hulle het geglo dat die grootste goed was om eenvoudige plesier na te streef en pyn te vermy. Lewensgenot was die hoogste goed. Dit kon jy kry deur kennis, vriendskap en matigheid. Dit staan teenoor die radikaliteit van die offervaardigheid van Christus en die lewe van gehoorsaamheid aan God in dissipelskap.

Epikurus het daarby geleer dat die hele wêreld bestaan uit atome en alles ontstaan het uit die toevallige bymekaar kom van die atome. Klink dit nie verdag baie soos die modernistiese idee van die toevallige evolusie van alles uit ‘n oersop van materie nie? Voeg daarby hulle idee dat God de facto nie kan bestaan nie, veral vanuit die voorkoms van lyding in die wêreld, en dit is nie moeilik om die vertrekpunt van baie van vandag se moderniste se filosofiese idees oor God se nie-bestaan by hulle te vind nie.

Die Stoïsyne weer was panteïste wat geleer het dat die goddelike logos, die goddelike rede, die hele wêreld besiel en dat ‘n redelike en deugdelike lewenstyl die meeste sin maak. Dit is gebaseer op die idees van Zeno (ook 3de eeu v.C.) wat klem gelê het op self-beheersing en die regte gedrag ten spyte van impulse van buite af of selfs emosies van binne af. Innerlike onverstoorbaarheid en uiterlike gedissiplineerde optrede. Die gode was onpersoonlik en ‘n soort noodlot waarin jy moes berus. Na jou dood keer jy terug na die kosmiese siel.

Die mense neem hom toe na die Areopagus waar hulle hom kans gee om beter te verduidelik wat hy bedoel met die nuwe leringe, want dit het vir hulle baie vreemd voorgekom. Die Areopagus is vernoem na Ares, die god van oorlog, ook Mars genoem.

Paulus praat dan met die Ateners en hak aan by hulle godsdienstigheid (hy kon ook bedoel het, bygelowig) en lig spesifiek die agnostici uit – die mense wat ‘n altaar gebou het vir die onbekende god (ἄγνωστος θεός).

Frank Viola vertel in The Untold Story of the New Testament Church dat hierdie altaar sy oorsprong het in ’n buitengewone gebeurtenis eeue tevore, toe ’n pes Atene getref het. Nadat die inwoners vergeefs tot al hul bekende gode gebid en geoffer het, het hulle gedink dat hulle dalk ’n onbekende god beledig het. Daarom roep hulle die wysgeer van Kreta, Epimenides, wat ‘n unieke plan voorstel: hulle moes honger skape van verskillende kleure, swart en wit, op ’n heilige heuwel loslaat en kyk watter van hulle gaan lê in plaas daarvan om te wei.

Epimenides het tot die onbekende god gebid en gevra dat dié god homself sou openbaar deur sekere skape, wat hom behaag, op die gras te laat lê. Toe dit gebeur, het hy beveel dat altare gebou moes word op elke plek waar ’n skaap gaan lê het. Die stene is gemerk met die woorde “AAN DIE ONBEKENDE GOD,” en die ooreenstemmende skape is op elke altaar geoffer. Binne ’n dag het die pes begin afneem, en binne ’n week was dit heeltemal weg. Die inwoners van Atene het saam met Epimenides die onbekende God begin eer.

Teen hierdie agtergrond verkondig Paulus op die Areopagus dat hierdie onbekende God, wat hulle onwetend vereer het, nou aan hulle geopenbaar word. Paulus gebruik selfs verdere aanhalings van Griekse digters, onder andere van die einste Epimenides, om aan te toon dat elemente van die waarheid reeds in hulle kultuur teenwoordig is. Hy verbind die Ateners se eie geskiedenis en denke aan die evangelie van Jesus Christus, en wys sodoende dat die ware God altyd naby was – selfs al het hulle Hom nie geken nie.

Dié God verkondig hy dan aan hulle (en let op hy praat glad nie oor die Joodse geskiedenis nie, want dit sou nie relevant wees nie). Hy begin met dít wat hulle in gemeen het in hulle denke oor God en vorder dan na die boodskap van die opstanding in vyf punte.

  1. Hy skets God as die Skepper, en hy doen dit uitvoerig met verwysing na die kosmos, die hemel en die aarde, en die skepping van mense.
  2. Hy skets God as die God van die Geskiedenis wat die nasies en hulle wel en wee bepaal. Interessant is dat hy nie hiermee eintlik die bestaan van die verskillende nasies en hulle grense in beton wil giet nie (soos dit verkeerdelik soms in die verlede verstaan is), maar dat hy eintlik wil wys hoe dit een God is wat die verskillende nasies tot gevolg het, en dat daar nie verskillende gode vir die verskillende nasies bestaan nie, ‘n baie algemene geloof in daardie tyd.
  3. Hy gee vir hulle ‘n antropologiese les. Hy sê dat God die mens gemaak het met ‘n ingebore behoefte na Homself (iets wat Augustinus later ook sou sê). “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.”
  4. Hy skets God se teenwoordigheid, wat nie ver is van enigeen van ons nie. Om die waarheid te sê, “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” en “van Hom stam ons af”. Hy gebruik hier twee aanhalings van hulle digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom afhanklik is.
  • Die eerste frase “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” kom waarskynlik ook van Epimenides. Hoewel Epimenides begin by die lewende mens en van hieruit argumenteer tot by ’n lewende God, en die lering van Jesus eintlik presies die teenoorgestelde is (vgl. bv. Luk 20:37 e.v.), gebruik Paulus dit net as ‘n aanknopingspunt.
  • Die tweede aanhaling, naamlik “ons stam van Hom ook af” is van beide Kleantes en Aratus. In hulle gebruik daarvan, is die lof van Zeus besing, maar weereens is dit net ‘n aanknopingspunt vir Paulus.
  1. Hy sluit met ‘n afwysing van afgodsbeelde as ‘n toegang tot God en ‘n oproep tot bekering wat hy koppel aan die opstanding van Jesus.

Bruce wys daarop dat hy baie behendig die Epikureërs se leer dat God niks van die mens nodig het en daarom nie deur mense gedien kan word nie, asook die Stoïsyne se geloof dat God die bron van alle lewe is, kombineer. Paulus praat dus met ’n soort retoriese tegniek wat hom soveel moontlik gemene grond met sy gehoor gee.

Die reaksie. Die meeste lag hom uit. Ander wil verder hoor. En net ‘n paar mense, onder andere Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou Damaris, en ‘n paar ander kom tot bekering, of soos Lukas dit stel, word gelowig. Dionisius was moontlik later die biskop van Atene.

Boodskap en betekenis

Die ondersoek van die Skrifte is die sleutel om die verhaal van Jesus as die beloofde Messias te verstaan en na waarde te skat. Dit is waarom Paulus so baie tyd spandeer om die Skrifte uit te lê en oop te maak. Soos Jesus self dit met die Emmaus-gangers gedoen het: “Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Luk 24:27)

Onthou ook dat die mense van Berea nie in die eerste plek met hulle hart geluister het nie, maar met hulle verstand. Dit is toe die mense van Berea verstaan, regtig begryp wat die boodskap is, met hulle verstand, dat hulle hart in beweging gekom het, en dit hulle tot ‘n oortuiging van die hart gelei het. Natuurlik moet die hart in spel kom, soos ons dit vandag verstaan, maar dit begin in die kop.

Ons moet egter ook die groot teenstand teen die evangelie raaksien. En ons moet raaksien dat dit nie soseer ‘n opstand teen die boodskap self is nie, dit natuurlik ook, maar dat daar eintlik teen die boodskappers uit jaloesie opgetree word. Die aanhang wat Paulus-hulle geniet, motiveer die Jode van Tessalonika om vir hulle ook in Berea moeilikheid te gaan maak.

Gelukkig laat die mense van Berea hulle nie daardeur afsit nie, maar ondersoek die Skrifte saam met Paulus-hulle om te sien of die dinge wat hy aan hulle verkondig wel so is. En die boodskap van Jesus roer hulle harte en hulle word vir die koninkryk gewen.

Let ook op dat die boodskap nie net in die sinagoges verkondig word nie, maar ook op die publieke terreine, soos op die Areopagus in Atene. Almal moet die evangelie hoor, selfs uiteindelik ook die politieke leiers, soos ons in die laaste deel van Handelinge gaan hoor.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…