Skip to main content

2 Kronieke 34; 2 Konings 22:1-20; 23:1-3

Josia herontdek die Woord van God, maar dit is te laat

Op die toneel verskyn koning Josia wat die laaste goeie koning van Juda sou wees. Sy verhaal word in 2 Konings 22-23:1-30 en 2 Kronieke 34-35 vertel. Ek gebruik Kronieke se struktuur om albei weergawes in twee bydraes te lees.

Ek hanteer die profete wat in die tyd van die laaste konings optree telkens ná die koning se verhaal in Konings en Kronieke aan die beurt gekom het.

Teks en konteks

Josia is gebore toe sy pa, Amon, nog maar net 16 jaar oud was. Ses jaar later het Amon sy pa, Manasse, opgevolg. Twee jaar later op 24 jarige ouderdom is hy egter oorlede. Josia word dus koning op die jeugdige ouderdom van 8 jaar. Hy het 31 jaar lank as koning geheers in Jerusalem (640-609 vC).

Van die begin af het Josia gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid. Die skrywers oordeel baie positief oor sy lewe: “Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alle opsigte die pad van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie.”

Ons hoor nie direk van enige mentors wat Josia gehad het nie, hoewel ’n mens tog aflei dat Safan, die staatsekretaris en Gilkija, die hoëpriester, ’n goeie verhouding met hom gehad het. Hulle deel met hom die vonds van die wetboek in die tempel en ondersteun hom volledig in sy hervormings.

Twee van die Skrifprofete in die Bybel tree ook in sy tyd op, Sefanja en Jeremia, en hoewel ’n mens nie êrens spesifiek van direkte kontak met hulle in Kronieke (of in hulle Bybelboeke) lees nie, het hulle profesieë waarskynlik ’n groot invloed uitgeoefen op die hervormings wat hy onderneem.

Jeremia gee ‘n positiewe beskrywing van Josia se regering in sy profesieë aan sy seun, Jojakim, en het waardering vir die reg en geregtigheid van sy regering wat ook die ellendiges en behoeftiges se lot verbeter het (Jer 22:15-16), maar was egter ook duidelik nie tevrede met hoe grondig dié hervormings die volk verander het nie (vgl Jer 3:6; 25:3) en verskerp sy boodskap van oordeel in die tyd van Josia se nakomelinge.

  1. Kronieke vertel vir ons dat Josia begin om die Here te raadpleeg in die 8ste jaar van sy regering, dws toe Josia 16 jaar oud was. Hoe dit gebeur het, word nie uitgespel nie, maar dit was heel waarskynlik by dieselfde profetes Gulda, wat hy later raadpleeg.

  2. In die 12de jaar van sy regering, dws toe hy 20 jaar oud was, het hy begin om Juda en Jerusalem van afgodery te reinig, sowel as in groot dele van die gebied van die voormalige noordryk (Manassa, Efraim, Simeon, Naftali – selfs by die ruïnes van die omgewing!).

Jeremia is net die volgende jaar as profeet geroep en hoewel hierdie hervormings wydlopend was, was Jeremia nie oortuig dat dit genoeg gedoen het nie (vgl Jer 25:3).

  1. In die 18de jaar van sy regering, dws toe hy 26 jaar oud was, het hy die skoonmaak en herstel van die tempel getakel. Die verhaal word in Kronieke vertel vanuit die hoek van die groot sorg waarmee dit deur die Leviete uitgevoer is. Daarmee wou hy die teruggekeerde ballinge motiveer om die Here regtig te dien.

Dit laat ‘n mens dink aan die wyse waarop Hiskia sy pa, Asa, se sluiting van die tempel omgekeer het. Nou doen Josia min of meer dieselfde na die verval wat ingetree het met sy oupa Manasse en pa Amon se regerings.

Let ook hier op dat geld by albei dele van Israel ingesamel word, soos dit trouens ook was met die suiwering van die land.

  1. Dit lei tot die herontdekking van die boekrol met die wet van Moses in die tempel deur die hoëpriester Gilkija. Die sekretaris Safan het dit vir Josia gebring en vir hom voorgelees.

Josia word diep getref deur die boodskap van oordeel wat daarin uitgespreek word teen diegene wat daaraan ongehoorsaam is, soos hy geweet het sy voorouers aan skuldig was. Hy het besef dat dié oordeel ook vir hulle sal tref.

  1. Gulda, die profetes, tree vir hulle in en bring die woord van die Here aan Josia dat daar inderdaad onheil beplan is teen Juda weens hulle sondes en dit sal nie geblus word nie, maar: “omdat jou hart sag is, en jy jouself voor die Here verootmoedig het toe jy gehoor het wat Ek oor hierdie plek en sy inwoners gesê het, dat hulle ‘n skrikbeeld en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor My gehuil het, sal Ek ook luister.”

Die Here belowe daarom dat die oordeel eers ná sy dood oor die stad en volk voltrek sal word: “jou oë sal nie al die onheil sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.”

  1. Josia begelei die volk hierna tot verbondshernuwing. Hy kry al die oudstes en die mense van Juda bymekaar en laat hulle met die Here ’n verbond sluit op grond van die aanhoor van die “boek van die verbond”. Dit het tot gevolg dat die hervormings wat hy reeds ingevoer het, bestendig is en: ”So lank hy geleef het, het hulle nie weggedraai van die Here, die God van hulle voorvaders, af nie.”

Let op dat Josia die “boek van die verbond” nie alleen lees nie. Man en muis is saam met hom in die huis van die Here en sluit saam met hom ‘n verbond met die Here om Hom te volg en sy riglyne met hulle hele hart en siel te gehoorsaam. Die Bybel is nie vir individue in die eerste plek nie, dit is vir gemeenskappe wat saam die Here wil dien.

Boodskap en betekenis

Dit bly darem net ontstellend dat die wetboek van die Here BINNE die tempel kan wegraak. Dit staan so as ’n simbool van enige gemeente/kerk wat nie meer werk met die geopenbaarde waarheid van God soos dit in die kanonieke boeke van die Bybel opgeteken is nie. ’n Mens kan jou fokus verloor sodat die stem van die Here van die eeue kan verstil en verdwyn uit ons bewussyn.

Ek sien verder twee bewegings hier raak in die lewe van Josia.

Aan die een kant is daar die groeiende bewuswording by koning Josia dat die volk regtig ver afgedwaal het van God se pad, wat tot daadwerklike praktiese toewyding en geestelike hervormings lei.

  • Dit begin met sy herstelwerk aan die tempel, die plek waar God Homself openbaar – let op hoe sy optrede ooreenkom met een van sy grootjies, Joas (2 Kon 11-12).
  • Dit verdiep met die ontdekking van die wetboek, die plek waar God sy wil openbaar – darem ontstellend dat die priesters die Woord van God letterlik verloor het, terwyl hulle met die werk van die tempel aangegaan het!
  • En dit word prakties met die geestelike onderskeiding wat Gulda aan die dag lê deur die lewende woord van God vir Josia uit te lê.

Iets soortgelyks is nodig vir ons in ons private geloofslewe:

  • ‘n totale oorgawe aan God se teenwoordigheid – ons is immers vandag ‘n tempel van die Here (1 Kor 6);
  • ‘n totale oorgawe aan God se Woord – soos dit in die Bybel vir ons oorgelewer is;
  • ‘n totale oorgawe aan die praktiese riglyne wat God ons deur geestelike onderskeiding gee. Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here.

Maar daar is aan die ander kant ook ‘n ontstellende beweging sigbaar in sy verhaal; dat die oordeel van God nie meer afgewend kan word deur Josia se hervormings nie. Al toegewing wat God gee, is dat die oordeel nie in die tyd van Josia sal gebeur nie. Die nalatenskap van veral Manasse was net te sterk, soos ons in die volgende hoofstuk sal lees (2 Kon 23:26).

En onthou, dit was ‘n tyd van die grootste profetiese aktiwiteit in Juda se geskiedenis: Nahum, Gulda, Sefanja, Jeremia, en waarskynlik Habakuk tree in hierdie tyd op, met Esegiël en Daniël wat ‘n tydjie later in die ballingskap hulle openbaringe bekend sou maak. Ook Joël word moontlik met hierdie tyd verbind.

Selfs die goedkeuring van die profete (bv Jeremia in Jer 22:15-16), of die hervormings van koning Josia self, ondersteun deur die hoëpriester Gilkija, en sekretaris Safa, kon dus die ballingskap keer wat binnekort sou kom nie.

God se eer was oor ‘n hele paar eeue só vertrap deur die doen en late van sy volk, dat selfs hierdie omvattende hervormings sy oordeel, sy optrede om sy eer te herstel, nie kon keer nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar