Skip to main content

Spreuke 29:1-27

Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal

Die kort en kragtige spreuke in hoofstuk 29 neem die tema van die verskil tussen die regverdige en die goddelose verder en spel dit uit in ‘n hele paar konkrete lewensituasies.

Die regverdiges word veral gekenmerk in hulle respek vir ander wat ten diepste met hulle respek en ontsag vir God te make het. Die goddeloses word deur hulle gebrek aan respek vir ander en vir God geteken.

Spreuke 29:1

Vers 1. Die skrif is aan die muur vir iemand wat nie uit sy foute wil leer nie. As jy jou bly verset teen teregwysings – “jou nek verhard” – sal jy onverwags verpletter word, sonder enige kans op herstel.

Spreuke 29:2-4

Vers 2. Regverdiges laat ‘n samelewing floreer; goddeloses laat ‘n samelewing faal.

Vers 3. Kinders se lewenswyse, goed of sleg, het ‘n direkte en persoonlike impak op hulle ouers. Ouers is bly as hulle kinders lief raak vir die wysheid. Kinders wat immoreel leef, vernietig hulle welvaart. Dié spreuk word natuurlik ‘n gelykenis in die NT, die gelykenis van die Verlore Seun (Luk 15). Vers 4. Regverdigheid skep ‘n veilige omgewing. Onregverdige belastings ruïneer ‘n land.

Spreuke 29:5-8

Vers 5. Vleitaal verstrik die gevleide. Wees dus baie versigtig vir ‘n vleier. Die slegste bedoelings word met die gladste en mooiste woorde verbloem. Die vers kan ook geïnterpreteer word dat vleitaal uiteindelik ook die vleier verstrik.

Vers 6. Sonde bring skuld. ‘n Bose mens kan die gevolge van sy eie oortreding nie keer nie. Die regverdige kan egter werklik vrolik leef, omdat hy ‘n skoon gewete het.

Vers 7. Regverdiges is besorg oor arm mense se lot voor die reg. ‘n Goddelose verstaan dit nie en kom nie vir armes se reg op nie.

Vers 8. Ligsinnige mense blaas oproer aan in ‘n stad. Dit is omdat hulle respeklose siniese spotters is. Wyse mense bring woede tot bedaring.

Spreuke 29:9-11

Vers 9. Dit is uitmergelend om ‘n saak teen ‘n dwaas te maak. Die konflik verhoog die irrasionele emosionele gedrag van die dwaas. Onthou die dilemma van Spreuke 26:4-5.

Vers 10. Moordenaars haat mense van integriteit. Regverdiges beskerm egter hulle lewe. Hulle kan eenvoudig nie onbetrokke bly wanneer iemand onskuldig aangekla word nie.

Vers 11. ‘n Dwaas gee vrye teuels aan al sy gevoelens. Maar, ‘n wyse kry dit reg om sy gevoelens tot bedaring te bring.

Spreuke 29:12-14

Vers 12. ‘n Heerser wat luister na leuentaal het later net goddelose mense in diens. Sy gebrek aan respek vir die waarheid gee af op sy dienaars. Hulle word soos die een wat hulle dien.

Vers 13. Die Here gee die lig (van die lewe) aan beide armes as verdrukkers. Hulle is dus almal van dieselfde Here afhanklik. Dit is ‘n waarheid wat regdeur die Bybel beklemtoon word. In die NT gebruik Jesus hierdie beginsel om vyandsliefde te motiveer (Matt 5:43-48).

Vers 14. ‘n Koning wat reg aan armes laat geskied, bestendig daarmee sy eie regering.

Spreuke 29:15-17

Vers 15. Dissipline is ‘n opvoeding in wysheid. Sorg vir dissipline en jy word nie maklik in die skande gesteek nie.

Vers 16. Goddelose regerings laat sonde gedy. Die belofte dat sulke regerings uiteindelik ondergaan, is bedoel om regverdiges moed te laat hou, sodat hulle nie ook aan die versoeking van die sonde toegee nie.

Vers 17. Dissipline bring rus in jou eie hart. ‘n Goeie opvoeding is nie net ‘n vreugde in terme van die toekoms van jou kind nie, maar ook ‘n gerusstelling en vreugde vir jou eie hart.

Spreuke 29:18

Vers 18. Wanneer daar geen profetiese visioen is nie, raak ‘n volk bandeloos. Wanneer hulle egter die wet – God se openbaring – nakom, is hulle gelukkig.

Die gehoorsaamheid aan God se wil bring dus voorspoed. Dit inspireer ‘n volk om gehoorsaam aan God te lewe in alles. Die praktiese situasie in die tyd van Eli is ‘n goeie voorbeeld van wat met hierdie spreuk bedoel word (1 Sam 3). Eli het die volk nie geleer om aan God gehoorsaam te lewe nie en bandeloosheid het oral toegeneem. Met Samuel is die situasie egter omgedraai. Hy het die volk weer in gehoorsaamheid aan God laat lewe.

Spreuke 29:19-20

Vers 19. Dissipline met woorde alleen werk nie met slawe nie. Dit gaan hier oor ‘n slawe mentaliteit. Dissipline met woorde alleen bring nie reaksie by ondergeskiktes nie. ‘n Slaaf sal wel lyk of hy luister, maar nie verantwoordelikheid neem as daar nie gevolge vir ongehoorsaamheid is nie, al verstaan hy baie goed wat gesê word. Dit is ‘n baie ongemaklike waarheid, maar ‘n waarheid nietemin. In Christus moedig Paulus slawe aan om hierdie slawe mentaliteit af te lê en hulle eienaars met eerbied te hanteer, sodat hulle só eerbied aan Christus kan bring (1 Tim 6:1-2).

Vers 20. Iemand wat oorhaastig is met sy woorde, is erger as ‘n dwaas (vgl Spr 26:12). Dink voor jy praat!

Spreuke 29:21-22

Vers 21. Rebellie begin by bederf. ‘n Slaaf wat van jongs af bederf word, word op die ou end ondankbaar en opstandig. Dit is natuurlik nie net van slawe waar nie, maar ook van kinders.

Vers 22. ‘n Opvlieënde mens soek rusie met almal. Hy word letterlik ‘n “man van woede” genoem. ‘n Heethoof begaan dus sonde op sonde. Sy negatiewe invloed is soos die sentrum van ‘n orkaan. Alles en almal word daardeur geraak.

Spreuke 29:23

Vers 23. Hoogmoed kom tot ‘n val. Want, hoogmoed (pride) keer dat jy raad of teregwysing ter harte neem. Nederigheid daarenteen bring eer, omdat jy dan doelbewus jou instel om leerbaar te wees en nie net op eie insig staat te maak nie.

Spreuke 29:24-27

Vers 24. Die deler is so goed soos die steler. Die probleem met die ontvangs van gesteelde goedere, is dat jy dan nie vir die reg kan opstaan nie. As jy onder eed geplaas word (dit is hoe “vloek” hier vertaal moet word) om in die hof daaroor te getuig, sal jy eerder stil bly. Jou mond word dus effektief gesnoer.

Vers 25. Vertroue in die Here bring ware veiligheid, want jou vrees vir ander mense kan vir jou ‘n strik raak. ‘n Mens kan uit vrees vir ander mense maatreëls tref om jouself teen hulle of teen gevaar te probeer beskerm, maar die maatreëls as sodanig kan jou nie red nie. Dit is wanneer jy op die Here vertrou, dat jy ware veiligheid ervaar. Dit beteken natuurlik dat jy ook wys moet leef en verstandig moet optree. Dit is al oor en oor deur Spreuke gesê. Maar jou vertroue moet in die eerste plek in die Here wees.

Vers 26. Baie mense soek guns by iemand in ’n gesagsposisie, maar Spreuke herinner ons daaraan dat ‘n mens se reg van die Here af kom. Hy staan in vir dié wat Hom dien. Alleen van Hom is ons verwagting.

Vers 27. Die stryd tussen regverdiges en goddeloses is onafwendbaar skerp. En dit is eintlik wedersyds. ‘n Oneerlike mens is afstootlik vir regverdiges. Netso is iemand wat opreg is in sy optrede afstootlik vir ‘n goddelose.

Hiermee kom ons aan die einde van die laaste Salomo spreuke in die boek Spreuke.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda