Skip to main content

2 Korintiërs 4:1-5:10

Om te lewe soos Hy dit wil

Paulus gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (2 Kor. 4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (2 Kor. 4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (2 Kor. 4:16-5:10).

Teks en konteks

Die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn – 2 Korintiërs 4:1-6

Omdat die Gees in ons kragtig werk, gee ons nie moed op in hierdie bediening wat aan ons toevertrou is nie, want die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn.

Met hierdie eerste metafoor van die lig van die evangelie spel Paulus die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na binne en buite uit. Mense van die lig kan die praktyke van die duisternis in hulle eie lewe nie verdra nie. Die resultaat: ‘n eerlike lewe wat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou laat skyn en mense tot oorgawe aan God aanmoedig.

Daarom sorg gelowiges dat daar geen geheime skandelike dinge in hulle persoonlike lewe is nie. Hulle sorg dat hulle nie slinks optree nie. Hulle verdraai veral nie die Woord van God nie, maar bring eerder die waarheid daardeur aan die lig, sodat die verblinding van denke van ongelowiges, die duisternis in hulle, verlig kan word, en hulle ook in die lig kan lewe (vgl. die verband met God wat op die eerste skeppingsdag lig in die duisternis laat skyn het – Gen. 1:3-5).

Die evangelie is ‘n skat wat in breekbare erdepotte opgesluit is – 2 Korintiërs 4:7-15

Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit.

Let op hoe kunstig kontrasteer Paulus die breekbaarheid van ons lewe teenoor die krag van God wat in ons werk:

  • Ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad, vervolging, en fisiese en emosionele leed (platgeslaan) wat alles deel is van die “sterwe van Jesus.”
  • Tog laat die krag van God nooit toe dat ons oorweldig, radeloos, in die steek gelaat, of vernietig word nie, want die “lewe van Jesus” word juis só in ons sigbaar.

Die dood van Jesus word dus in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid, sodat die lewe van Jesus in die mense wat ons bedien, sigbaar kan raak.

Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik. Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil. 2).

Dan met ‘n aanhaling uit Psalm 116:10 bevestig Paulus dat hulle hierin kan volhard weens die werking van die Gees in hulle, selfs al het dit gelyk asof dit klaar is met hulle: “Ek het bly glo, selfs toe ek gesê het: ‘Ek is baie geteister.’”

Die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons hemelse liggaam – 2 Korintiërs 4:16-5:10

Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra. Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan.

Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons. Aan die een kant sug ons met ‘n intense verlange dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef. Aan die ander kant het ons die Gees in ons wat ons moed gee, om te wag op God se tyd. Want ons leef deur geloof, en nie deur aanskoue nie. Paulus sal hieroor ook later verder skryf in sy brief aan die Romeine (Rom. 8).

Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, dws aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos hy ook in 1 Korintiërs 15 geskrywe het.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil. Let weer op die ooreenkomste met die brief aan die Filippense (hierdie keer Fil. 1:20 vv).

En hy onderstreep die eindpunt van die lewe: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was.”

Boodskap en betekenis

Die lewe in Christus beteken om die evangelie van lig, lewe en hoop te dra in ’n gebroke wêreld, juis deur ons eie lyding en swaarkry, met die vaste wete dat God se krag in ons swakheid werk en dat ’n ewige heerlikheid op ons wag.

Die sukses van ons bediening kom nie uit eie krag nie, maar uit God se krag. Ons breekbaarheid en broosheid is nie ’n teken van mislukking nie, maar van Christus se krag wat in ons werk. Ons kan onsself daarom bewapen met die vaste hoop dat ons swaarkry tydelik is, en dat ewige heerlikheid en die opstanding van die liggaam vir ons wag.

Daarom lewe ons soos Hy dit wil, want dit is al wat uiteindelik saak maak: dat ons Christus behaag.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar