Skip to main content

Jesaja 6

Hoop kom uit ’n afgekapte stomp

Die toneel speel hom af in die jaar 742 vC. Dit is nie duidelik of dit aan die begin van Jesaja se bediening is of nie. As dit was, sou ’n mens dit as ’n roepingsvisioen kon beskryf, hoewel dit in elk geval ’n deurslaggewende rol speel in die tipe boodskap en rol wat hy verkondig en vervul.

Hoofstuk 6 val in drie dele uiteen:

  1. Die visioen van God se heilige teenwoordigheid oor die hele aarde (6:1-4);
  2. Die reiniging van Jesaja wat hom voorberei vir sy taak (6:5-7);
  3. Die gesprek tussen God en Jesaja waarin hy geroep en gestuur word met ’n boodskap van oordeel sowel as ’n stukkie hoop vir die oorblyfsel (6:8-13).

Teks en konteks

Die gesprek tussen God en Jesaja het sterk raakpunte met temas wat reeds in die eerste 5 hoofstukke aangeroer is, beide in terme van die oordeel as die heil wat God aankondig. Dit dien ook as ’n belangrike inleiding vir die verdere profesieë aan die sterwende Ussia se kleinseun Agas op wie se halstarrigheid God ook met ’n boodskap van oordeel en hoop reageer (hfst 7 vv).

Jesaja 6:1-4

Ussia (vgl die ekskursie oor hom aan die einde van dié bydrae) was waarskynlik ‘n neef van Jesaja volgens ’n Joodse tradisie in die Talmoed (Megillah 10b). Ussia word ook Asarja genoem in 2 Konings 15 wat moontlik sy geboortenaam was met Ussia sy troonnaam. Hy was ’n goeie koning, wat ’n lang en voorspoedige regering gehad het, hoewel hy aan die einde daarvan met melaatsheid gestraf is weens sy arrogante poging om – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself te neem (2 Kon 15; 2 Kron 26).

In die sterfjaar van Ussia, waar dinge reeds verval het weens Ussia se sonde, en daar groot internasionale bedreiginge is (Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit) sien Jesaja die gesig van God se heerlikheid, sy heiligheid, sy heerskappy.

Die serafs (vergelyk ‘n ekskursie oor hulle aan die einde van hierdie bydrae) bevestig dit dat die grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid. Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê. Die woord wat hier in Hebreeus gebruik word, beteken “gewig” of dan spesifiek “dít wat gewig dra of wat tel” en word dikwels met “Majesteit” of “heerlikheid” vertaal. Met ander woorde: God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi. Vra maar vir diegene wat dit al probeer het!

En die uitstaande kenmerk van dié God, sê die serafs, is sy Heiligheid. Normaalweg verstaan ons heiligheid as apart, afgesonderd, onaantasbaar, maar dit kan as ‘n onweerstaanbare lig (van ‘n ander woord quddushu [ipv qadosh] afgelei) verstaan word wat beteken “om te skyn” of te “suiwer”.

Jesaja 6:5-7

Daarom dat Jesaja die gesig ervaar as ‘n ontnugterende ervaring. Hy is oorweldig: “Dit is klaar met my!” En hy is bewus van sy en sy volk se onheiligheid: “Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.”

Ons het ‘n heersende praktiese teologie in die kerk, dat God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie.

Niks kan verder van die waarheid wees nie. God is heilig. Hy duld nie onheiligheid nie. God is rein – Hy duld nie onreinheid nie.

Jesaja 6:8-13

En dié God stuur sy mense. Hy duld nie onaktiewe gelowiges nie. In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges. In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Openb 3:14-22).

Gen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word! Dit is die teologie wat ons moet aangryp. “ Ek sal gaan, Here” “Hier is ek. Stuur my!”

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moes die totale ondergang van die volk gaan verkondig. Hulle land sou ‘n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11). Alles sou tot niet gaan. Hy sou lynreg teenoor die heersende koning, sy neef, standpunt moes inneem. En net om sy werk nóg ‘n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)! Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar. Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie. Jesaja se werk as profeet is eerder om hulle verdwaas en deurmekaar te laat (vers 9-10), sodat hulle hulle nie bekeer nie.

Boodskap en betekenis

Jesaja 6 sê vir ons dat God nie geïgnoreer kan word nie. Jesaja raak daarom intens bewus van sy onreinheid. Om dan die wonder te beleef dat hy nie veroordeel word nie, maar gereinig.

Hy kry boonop ’n werksaanbod om as boodskapper vir God op te tree, al besef hy dat sy werk as profeet moeilik gaan wees. Hy moet immers die totale ondergang van die volk gaan verkondig. Hy sou lynreg teenoor Agas standpunt moes inneem soos ons later in Jesaja 7 gaan lees.

En net om sy werk nóg ’n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie! Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar. Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie. Jesaja kan maar weet hulle gaan hulle nie bekeer nie! Sy werk as profeet is eerder om hulle verward te laat.

Wat sê die gedeelte daarom vir ons?

Die eerste is dat God in beheer is, selfs as alles anders in duie stort. Ussia, Jotam en Agas, die drie opeenvolgende konings in hierdie tyd, sal nie die gang van sake bepaal nie. God is in beheer.

Die tweede is dat God mense met Hom wil versoen, maar Hy is heilig. Hy duld nie onheiligheid nie. Daarom heilig Hy ons. Dit is die betekenis van die seraf wat met die kool vuur vir Jesaja reinig. Maar, vir dié wat sy roeping weerstaan en God uit hulle lewens wegdruk, is God se heiligheid ‘n vuur wat verbrand en vernietig, tot net ‘n stomp oorbly. Dit is wat met Israel gebeur het. Hulle moes die nasies help om God te ontmoet. Maar hulle wou nie. Sulke mense kry dus met sy volle mag te doene. Hy bring ’n onafwendbare oordeel oor hulle.

Hierdie verterende boodskap is egter nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie. Gelukkig nie!

In die derde plek sê hierdie gedeelte vir ons dat God ’n oorblyfsel laat bly. Dit is sy belofte aan Jesaja. Dit is sy belofte aan ons. Na die onafwendbare verwoesting sal daar ‘n afgekapte stomp oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die heilige geslag, die geslag van die mense oor wie God Homself ontferm. Jesaja 11 sluit hierby aan en praat van die takkie wat sal uitspruit uit dié stomp, wat jare hierna op Jesus van toepassing gemaak sou word. Daar is hoop – en dié hoop is in Jesus – en die mense wat Hy uitkies om aan God te behoort.

Teologies is die tweede punt sekerlik die mees problematiese deel van die perikoop. Kan God dit doen? Mense verblind en laat stol in hulle sonde?

Ja, vra maar vir Farao (Eks 9:12 ev.).

Wat ons moet verstaan, is dat die boodskap van Jesaja hier eintlik alreeds deel van God se oordeel is en nie deel van ‘n uitnodiging tot bekering nie.

Terloops, Jesus haal die verse in Markus 4:10-12 en Matteus 13:14-15 aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik! En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Daar kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie. En God stuur ook mense om dit te gaan sê! En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander…

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee… en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer…

Maar dit is nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie. Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is”… maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Dat ons enigsins en hoegenaamd glo, is God se werk! Die evangelieskrywer Johannes vertel in verwondering, hoe, ten spyte van die werklikheid van onbegrip onder die Jode met die evangelieverkondiging van Jesus, daar tóg selfs mense van die Joodse Raad was wat tot geloof gekom het, al was dit menslik gesproke onmoontlik (Joh 12:40).

Ons moet dus nie te gou oordeel of ons self as beter ag as ander nie.

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter (gespeel deur Keanu Reeves) om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het. Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing. Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

Ekskursie oor Ussia en sy tyd

Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering. Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee! Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei. Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede in die Negev, suid van Jerusalem. Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad. Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie. En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly. Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei. Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas. Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië. Dit was in die jaar 722 vC. Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië-Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Ekskursie oor die Serafs

Die serafs was vurige of brandende wesens, soms geïdentifiseer met slangvormige wesens, op voetspoor van die giftige slange in Num 21:4 vv, waarvoor Moses ‘n koperslang as genesingsmiddel moes maak. Jesaja self praat ook op ‘n ander plek van serafs, giftige slange, wat kon vlieg, wat hy ook vlieënde drake noem (Jes 14:29 en 30:6). In die Nederlandse vertaling word hulle “bliksemgedaanten” genoem, met as titel vir die perikoop “Jesaja en de Slangewezens”.

Hoe dit ook al sy, dit is vurige wesens wat vir ewig in die teenwoordigheid van God is, altyd besig om Hom te vereer, altyd gereed om te doen wat Hy vra. Serafs is nie dieselfde as die gerubs, engele, wat bv simbolies oor die ark gewaak het nie.

Serafs het ses vlerke – met twee maak hulle die gesig toe twv die verblindende heiligheid van die Here en met twee maak hulle die “voete” toe, moontlik ‘n eufemisme vir hulle privaatdele, wat ‘n verbintenis tot reinheid impliseer en twee vlerke word gebruik om gereed te wees om God se opdragte uit te voer.

Uit die beskrywings van die Satan in die Bybel is dit moontlik dat hy ‘n gevalle seraf is weens die identifisering met ‘n slang (Gen 3:1; Jes 27:1; 2 Kor 11:3; Openb 20:2), en ‘n (see)-draak (Jes 27:1; Openb 12:9).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar