Skip to main content

Psalm 54

God red my uit elke benoudheid

Hierdie kort Psalm van Dawid word gekoppel aan die verraad wat die Siffiete teen hom gepleeg het toe hy op ’n keer vir Saul in die Sifwoestyn weggekruip het (1 Sam 23:19-28; vgl 1 Sam 26 waar hulle dit weer doen!). Dit was net na Saul en Doëg die priesters van Agimelek in Nob uitgewis het. Abjatar, Agimelek se seun, was die enigste wat ontkom het en het homself by Dawid geskaar. Abjatar het Dawid regdeur sy lewe geestelik ondersteun deur die Here vir hom te raadpleeg. Dit was juis as gevolg van Abjatar se raad dat Dawid van Keïla na die Sifwoestyn gevlug het (1 Sam 23:6-15).

Abjatar was nie die enigste wat Dawid ondersteun het nie. In dieselfde hoofstuk van Samuel word die hernuwing van die verbond tussen Jonatan, Saul se seun, en Dawid vermeld by Goresa in die Sifwoestyn (1 Sam 23:16-18). Ironies dat Jonatan self vir Dawid kon opspoor, maar dat Saul die Siffiete nodig gehad het om Dawid te kon opspoor.

Die Siffiete se verraad was egter nie suksesvol nie, want toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, het Dawid na ‘n kliprant in die gebied gevlug in die Maonwoestyn, en daar het Saul die aftog geblaas. Trouens, Saul het vir Dawid aan die een kant van die berg gesoek, met Dawid en sy manne wat net aan die ander kant geskuil het. Voordat Saul egter vir Dawid kon vind, het daar ’n boodskapper vir Saul kom terugroep om ‘n Filistynse aanval in Israel te gaan afweer. Die kliprant het dus in die volksmond die naam Skeidingsrant (of –rots) gekry (dit kan ook “Glibberige rots” wees).

Daar is ook ’n interessante woordspel tussen 1 Samuel 23:15: “Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek,” (OAV) en Psalm 54:5: “geweldenaars soek my lewe” (NAV) wat dien om dié twee Skrifgedeeltes aan mekaar te verbind.

Teks en konteks

Die Psalm is, na die inleidende skets, ’n roerende klaaglied wat in twee dele verdeel is en afsluit met die reddende uitkoms in vers 9.

Hoor my gebed en red my van my vyande – vers 3-5.

Die algemene naam van God, Êlôhîm, word 3 keer in die eerste deel van die klaaglied gebruik. Dawid maak staat op God se regverdigheid om aan hom reg te laat geskied. Hy herinner God ook aan die feit dat dié geweldenaars en vyande nie rekening hou met God nie.

Vernietig hulle dat ek U goedheid kan loof – vers 6-8.

Die persoonsnaam van God, Jahwe, word 2 keer in die tweede deel van die klaaglied gebruik, om die intieme verhouding van Dawid met God uit te druk, teenoor die geweldenaars wat nie met Hom rekening hou nie. Hy vra dat die onheil wat hulle beplan op hulle sal boemerang en God se getrouheid só sal blyk. Let op dat die offers wat Dawid beplan, selfs meer sal wees as wat God van hom sou kon vra, omdat hy só sy dankbaarheid onomwonde teenoor God wil uitspreek.

Dawid loof aan die einde van die Psalm die feit dat die Here hom uit elke benoudheid gered het. Dié ervaring van hom inspireer ons om God ook te vertrou vir elke benoudheid waarin ons verkeer. Waar sy Naam in ’n situasie van benoudheid en onheil aangeroep word, laat Hy sy teenwoordigheid ken.

Boodskap en betekenis

’n Mens sou tereg vrae kon vra oor die skerpheid van Dawid se oordeel oor sy vyande, veral in die lig van Jesus se gebod om juis ons vyande lief te hê en sy eie besluit om die kruisdood vir sondaars te verduur.

Maar, wanneer ‘n mens die uitdagende tyd in Dawid se lewe in oënskou neem, besef ‘n mens die doodsgevaar waarin hy vir ‘n hele paar jaar moes verkeer. Sy vyande was baie werklik en die verraad waarmee hy te kampe gehad het, was nie net vir homself nie, maar vir almal wat hulle by hom geskaar het lewensgevaarlik. Hy tree verder in opdrag van die Here af op. Dit legitimeer dus die geweld waarmee hy die gevare trotseer het.

Dawid se reslose vertroue op God se redding in só ‘n gevaarlike situasie spreek daarom regdeur die eeue om ons almal te motiveer om God te vertrou, al is ons nie in presies só ‘n groot lewensgevaar nie, en al sal ons in die tipe uitdagings wat ons moet trotseer, nie meer op dieselfde wyse as hy teenoor ons vyande optree nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…