Skip to main content

Genesis 6

God is bedroef dat Hy die mens gemaak het, maar begenadig Noag

Ons kom by die derde deel van die Oergeskiedenis.  Die eerste deel, die geskiedenis van die hemel en aarde (Gen. 2:4 vv.), het geëindig in die “sondeval” (Gen. 3) en “broedermoord” (Gen. 4).

Dieselfde negatiewe gevolge kan in die tweede deel, die geskiedenis van Adam (Gen. 5:1 vv), bespeur word.  Dit sien ons in die tragiese beskrywing van die: “groot bedorwenheid van die mens op aarde” – Genesis 6:1-8.

Daar is tog steeds ‘n sprankie hoop – soos dit ook was met die geboorte van Set waarin die mense God begin aanroep het –  in die feit dat Noag deur God begenadig is.

Hierdie derde deel van die Oergeskiedenis vertel daarom die verhaal van Noag van Genesis 6:9-9:29, waarna ‘n afsluitende twee dele van die Oergeskiedenis vertel sal word, die geskiedenis van Noag se seuns: Sem, Gam en Jafet – Genesis 10:1 vv. en die geskiedenis van Sem – Genesis 11:10 vv.

Indeling – bedroefde God, begenadigde Noag

Hoofstuk ses val duidelik in twee dele uiteen.  Die eerste agt verse fokus op die Here se bedroefdheid oor die verdorwenheid van die mens.  Vers nege tot 22 fokus op Noag wat deur die Here begenadig is.

Daarmee word die verhaal van God se ingrype vertel wat ‘n nuwe begin met Noag en sy familie en nageslag maak.  Dit is die oorhoofse punt wat die verhaal van Noag in die ontvouende verhaal van God met die mens in die Bybel gaan maak.  God se droefheid gaan oor in genade as Hy iemand vind met wie Hy die pad met die mens vorentoe kan loop, al sou hulle Hom ook telke male teleur stel … totdat Hy in sy eie Seun die perfekte antwoord vir die dilemma van menswees vind.

Die Here is bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het – 6:1-8

Twee dinge word hier uitgelig as ‘n aanleiding tot God se droefheid oor die mens.  Die een is dat die hemelwesens met die dogters van die mense getrou het en daarmee die grens tussen hemel en aarde oorskrei het.  Die ander is dat die Here se ervaring van mense Hom geleer het dat hulle hul lewe lank “net slegte dinge bedink”, selfs al was hulle deel van die nageslag van Set.

Dit het die Here só ontstel dat Hy bedroef was daaroor dat Hy die mens in die eerste plek gemaak het.  Die sondeval het nie net die mens se denke benewel en die aarde in gevaar gestel nie.  Dit het selfs God se domein, die hemel, bedreig, in terme van die hemelwesens wat in opstand teen sy wil vir hulle bestaan gekom het en met mense begin ondertrou het.

Hemelwesens is die vertaling van die Hebreeuse frase bene ha’elohim – “seuns van God” – wat in die OT altyd vir hemelwesens gebruik word (Deut. 32:8; Job 1:6; 2:1; 38:7; Ps. 82:6; 89:6; vgl. ook bene el-chay, “seuns van die lewende God” in Hos. 1:10 wat vir Israel gebruik word as ‘n soort aardse ekwivalent).

Sommige verbind die frase oor die “seuns van God” aan Set se nageslag en die “dogters van die mense” aan Kain se nageslag (bv. Augustinus), maar dit is beter om dit soos in die res van die OT te interpreteer as: “hemelwesens” soos dit inderdaad ook in die NT geïnterpreteer word (2 Pet. 2:4–5; Jud. 6).  Dit sou ook vreemd wees dat dit net die mans van Set se nageslag en net die vrouens van Kain se nageslag is wat met mekaar trou.  Die interpretasie is ook in lyn met die Joodse tradisie wat die ondertrouery aan ‘n rebellie onder die engele verbind en selfs name aan die leiers gee (1 Henog 6-7).

Hierdie dinge het God nie net emosionele pyn gegee nie.  “Dit het Hom diep gegrief.”  Dit het Hom so diep verneder en beledig dat Hy net een uitweg kon beraam en dit is die totale uitwissing van die mens: “want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” Hy het verwag dat hulle Hom sou aanbid, soos Set en sy nageslag aanvanklik gedoen het, maar dié verwagting het beskaam.

Let op dat God nie deur ‘n ander godheid tot dié stap beweeg is nie.  Sy plan met die mens is nie deur enigiemand anders gedwarsboom nie, as maar net wat in die ontvouing van die menslike geslag gebeur het.

En dan die stukkie hoop: “Maar Noag is deur die Here begenadig.

Maar Noag is deur die Here begenadig – 6:9-22

Daarmee word die verhaal van Noag ingelei, ‘n regverdige en onberispelike man wat naby aan God geleef het, soos dit ook van Henog voor hom gesê is.

Let op dat God regdeur hierdie verhaal die aktiewe gespreksgenoot en handelende subjek is.  Noag praat nêrens.  Hy doen wel alles presies net soos wat God vir hom sê.  Die eerste en enigste plek waar vertel word dat hy sy mond oopgemaak het, is toe hy ‘n vervloeking oor Kanaän, sy kleinseun, uitgespreek het oor die vergryp van Gam wat sy pa se naaktheid aanskou het (Gen. 9:24-27).

Die aanleidende oorsaak vir die vloed word as die korrupsie en geweld op aarde geteken – “elke mens op aarde se lewe was verrot” – wat God laat besluit het om ‘n einde te maak aan alle mense, sodat Hy nuut kon begin met Noag.  Hy gee dus opdrag dat Noag ‘n ark bou wat die oorstroming wat die Here sou stuur oor die aarde die hoof kon bied en vir hom en sy familie sowel as vir die voëls en diere redding kon verskaf.

Boodskap

God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van mense.  Dit het ons gesien in die verhaal van Adam en Eva.  Dit het ons gesien selfs in die verhaal van die geweld van Kain teenoor Abel.  Dit sien ons nou weer in die verhaal van Noag.  God wil by ons woon.  Hy wil met ons wandel.  Hy wil met ons in gemeenskap wees.

Die verloop van die res van die storie van die Bybel sal telkens vir ons hieraan herinner.  Die Bybel is die verhaal van God se onvermoeide pogings om die verhouding met mense te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Die verhaal van Noag is daarom in ‘n sekere sin God se eerste poging om met ‘n familie oor te begin, eerder as net met ‘n persoon soos Set, die derde seun van Adam en Eva.  Dat dit nie volledig gaan slaag nie – soos ons gaan lees in die verhaal van die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam waaruit drie aartsvyande van Israel gebore sou word – beteken nie dat God nie alles insit om dinge reg te maak nie.

Dat uit Gam se nageslag Egipte gebore sou word, die nasie wat Israel – nageslag van Sem – ‘n slawevolk sou maak; dat die Kanaäniete op soortgelyke wyse ‘n konstante verleiding sou wees vir hulle broerskinders Israel, toe die volk uiteindelik die beloofde land betree het; en dat die Assiriërs – ook deel van Gam se nageslag – vir die eerste ballingskap verantwoordelik sou wees,  was hier nog ver in die toekoms (vgl Gen. 10:6-20).

Die probleem weet ons egter, is dat die Here wel die sondige mense op aarde kon uitwis met die vloed, maar dat die sonde self nie daarmee uitgewis is nie, want die sonde het saam met selfs die begenadigdes, Noag en sy mense, opgeklim op die ark.  Die sonde was doodgewoon deel van hulle geestelike DNS.  Iets meer sou moes gebeur… die Here Jesus sou die sonde van die mens aan die kruis moes kom uitwis en ons van binne af verander deur geloof in sy versoeningswerk.

Vir die dieperdelwers:

Die vloed in die lig van die argeologie en geologie

Die groot vraag wat deur negentiende-eeuse geleerdheid geopper is, was of so ‘n gebeurtenis soos ‘n wêreldwye vloed ooit plaasgevind het. Die vergelykende gebrek aan geologiese bewyse vir ‘n wêreldwye ramp het aanleiding gegee tot twyfel oor die universaliteit van die vloed.

Aan die een kant sou ‘n mens kon sê dat die vloed moontlik tot die Eufraatvallei beperk was, mits die mensdom natuurlik op daardie stadium tot hierdie gebied beperk was en daarom totaal vernietig kon word, behalwe vir Noag.

Daar is egter probleme met só ‘n standpunt. Genesis 7:19 sê dat die watervlak ver bo “al die hoë berge wat onder die hele hemel was” gestyg het. As die betrokke berge bloot plaaslik was, was in elk geval ten minste die pieke van berg Ararat self bedek. Die onvermydelike afleiding sou wees dat die watervlak meer as 5 000 meter (die hoogte van Ararat) bo die huidige seevlak gestyg het.

Die vraag is dan, hoe kon die vlak so hoog by Ararat gewees het sonder om dieselfde hoogte oor die res van die wêreld te wees?

Aan die ander kant is daar geologiese bewyse vir ‘n wêreldwye grootskaalse vloed in Egipte, Palestina, Sisilië, Frankryk en Engeland, moontlik selfs Noord-Amerika soos wat die werk van Thomas Purifoy Jr in sy dokumentêr, Is Genesis History?, aanvoer. Ek weet daar is ‘n mate van kontroversie oor die data waarmee Purifoy werk, maar sy perspektiewe probeer sin maak van beide die wetenskaplike data en die Bybelse detail.

Maar, as ‘n mens ‘n wêreldwye vloed aanvaar, dan bly steeds ‘n aantal ander vrae oor wat moeilik is om te verklaar:

  1. Waarvandaan het al die water gekom? Volgens die beste skattings sal dit agt keer meer water verg om die hoogste Himalajas te bedek as wat ons planeet nou in al sy oseane het.
  2. Waarheen sou die water ná die vloed afgeloop het? Die volume water sou te groot wees vir die land om weer sy verskyning te maak.
  3. Wat het met die plante en visse gebeur? Bykans geen plantlewe sou onderdompeling onder soutwater vir meer as ‘n jaar kon oorleef nie. Die vloed sou ook die varswatervis uitgewis het, alhoewel die soutgehalte hoog genoeg kon gewees het om soutwatervisse te laat lewe, behalwe as hulle op hulle beurt deur die verdunning van die sout uitgewis is. Hoe het die plante en visse dus oorleef, is die vraag?

‘n Baie interessante antwoord op die probleem van die herkoms van die water en die afloop daarvan, het te doen met die reservoir van water onder die oppervlak van die aarde.

In Genesis word die bron van die vloedwaters wat die aarde verswelg het op twee maniere beskryf. Aan die een kant was daar ‘n groot reënbui vanuit die lug. Aan die ander kant het die fonteine van die “groot waters” – die tehom of “diepte” – oopgebreek. Dit is die groot bron van ondergrondse water wat met die skepping geskei is van die water bo die grond – die water bo die “gewelf” volgens die antieke wêreldbeskouing – (Gen. 1:2,6).

Die verhaal van Noag skets dus ‘n prentjie van ondergrondse water wat bo die aarde uitbars en die aarde na sy vorige toestand verander – omring deur water. Die skepping is as ‘t ware omgekeer. Die vloed is dus nie net ‘n tipe vloedwater wat ‘n mens met tsoenami’s sou assosieer nie, maar ‘n omvattende verswelging van alles wat op aarde leef en beef.

Dit help ‘n mens ook om te verstaan dat die latere belofte van God in Genesis 9 dat daar nie meer vloede van hierdie aard sal wees nie, nie met plaaslike vloede te doen het nie, maar met ‘n globale bedekking met water.

In hierdie verband was dit vir my ongelooflik interessant om in die voorste tydskrif Science te lees van ‘n magtige ondergrondse oseaan wat nader aan die aarde se kern deur ‘n groep Amerikaanse geofisici ontdek is. Hul bevindings dui op ‘n reservoir van water in ‘n laag blou rots van 400-700 km diep wat drie keer groter in volume is as die gekombineerde volume van al die oseane van die aarde saam. Jy kan dit nagaan in die artikel “Earth’s interior. Dehydration melting at the top of the lower mantle” (Science 13 Junie 2014: Vol. 344, Uitgawe 6189, bl. 1265-1268. Brandon Schmandt , Steven D. Jacobsen, Thorsten W. Becker, Zhenxian Liu, Kenneth G. Dueker – registreer gratis, dan kan jy die artikel lees).

Hierdie bevinding maak dit ten minste teoreties moontlik dat die vloed van Genesis werklik wêreldwyd kon gewees het en dat dit die plek vanwaar die water gekom het, en waarheen dit teruggeloop het, kan verklaar.

Hoe dit ook al sy, hierdie tipe probleme kan waarskynlik die beste geantwoord word deur die vloed aan die spesiale kreatiewe of herskeppende handelinge van God toe te skryf. Dit wil sê om die vloed aan God se wonder ingrype toe te skryf. Uiteraard sal dit steeds moeilik wees om hierdie Bybelse gegewens met al die argeologiese en geologiese bevindings te versoen. Maar, ‘n bonatuurlike ingryping, soos dit die geval met die skepping ook was, bly die beste antwoord.

Die verhaal maak egter in elk geval genoeg sin in terme van die boodskap van oordeel en verlossing en ‘n nuwe begin wat God met die mensdom aanpak. Dit is ook die beste manier waarop ‘n mens die storie kan hanteer, presies soos die Bybel dit vertel, as ‘n nuwe begin wat God maak, ‘n “ontskepping” van die bewoonde wêreld sodat Hy dit nuut kan skep saam met die nageslag van Noag, asook met die diere.

Vanuit die perspektief van die Nuwe Testament is dit duidelik dat die vernietiging van die mensdom ten tye van die sondvloed totaal en universeel was. In 2 Petrus 3:6 lees ons: “Die wêreld wat toe was, oorstroom van water, het vergaan.” Vergelyk 2 Petrus 2:5, toe God: “die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het.

Christus het self opgemerk, volgens Matt. 24:38–39, aangaande die dae van Noag: “Want soos in die dae wat voor die sondvloed was, het hulle geëet en gedrink, getrou en in die huwelik uitgegee, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het en dit nie geweet het totdat die vloed het gekom en hulle almal [hapantas] weggeneem; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda