Skip to main content

2 Korintiërs 7:2-16

Berou volgens God se wil lei tot inkeer en verlossing

Hier tel Paulus weer die verhaal van sy reis na Masedonië op wat hy in hoofstuk 2 onderbreek het, en vertel van sy blydskap toe hy Titus weer raakgeloop het, en kon hoor dat dit goed gaan met die gelowiges in Korinte. Hy is veral bly dat sy brief aan hulle vrug gedra het. Al was hulle hartseer, was hulle hartseer volgens die wil van God en het dit tot ‘n verdieping van hulle geloof gelei. Dit kan Paulus agterkom uit die feit dat hulle meer erns maak met hulle roeping as gelowiges en met groter verantwoordelikheid in die gemeente optree, aldus Titus.

Teks en konteks

Paulus is oortuig dat hy met vrymoedigheid kan vra dat die Korintiërs vir hulle ruimte maak. Paulus-hulle het in die verlede regtig voorbeeldig teenoor die Korintiërs opgetree, niemand veronreg, skade berokken of uitgebuit nie. Die Korintiërs kan daaruit aflei dat hulle in Paulus-hulle se harte is: “om saam te sterf en saam te leef.”

Die boodskap van die veranderinge by die Korintiërs met die koms van Titus het Paulus-hulle nog meer bemoedig te midde van al hulle verdrukking, veral met die boodskap van die impak van die evangelie op die Korintiërs se onderlinge verhoudinge.

Die berou wat hulle gehad het na aanleiding van Paulus se brief het inkeer en verlossing bewerk, omdat dit volgens die wil van God was. Dit is daarom anders as wêreldse droefheid wat geen verandering bring nie. Want, dié tipe berou, volgens die wil van God, herstel die verhouding met God.

Dit kon ‘n mens sien in die toewyding en gehoorsaamheid wat voortgespruit het uit hulle droefheid volgens die wil van God. Daarvan kon Titus getuig en het hom ook al sterker aan hulle verbind. Want, gemeenskap met mekaar is ten nouste verbind aan die geloofsgemeenskap se lewende verhouding met God self.

Boodskap en betekenis

Wat my tref van hierdie hoofstuk, en eintlik daarmee van die hele korrespondensie van Paulus met die Korintiërs, is dat die gemeenskap met God só belangrik is, dat niks – nie binne jouself of binne die gemeenskap van die gelowiges of in die wêreld daarbuite – jou gemeenskap met God mag bedreig of in gevaar stel nie. Gemeenskap met God is ononderhandelbaar. Dit moet nagejaag word met alles wat in jou is, elke dag en elke oomblik van elke dag.

Dit laat my nog meer waardering kry vir die impak wat die lewe van Nicolas Herman – ons ken hom as Brother Lawrence – gehad het. Dié ongeletterde kok in ‘n klooster het in die 17de eeu n.C. met sy lewenspraktyk – Practicing the Presence of God – die verbeelding van die Christelike wêreld aangegryp, toe hy sy lewensverhaal vir Joseph de Beaufort vertel het en dié dit in boekvorm aan ons bekendgestel het.

Dit is belangriker as enigiets: om jouself (en die gemeente) as ‘n tempel van God, waar Hy woon, te beskou, en gemeenskap met Hom te beoefen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar